vir jou wil ek . . .
April 27, 2007
Ons hou bietjie langnaweek en sal eers weer volgende week post. Dus, hieronder, ‘n gedig wat ek lank terug geskryf het - lees maar met ‘n sagte oog en ‘n stil hart . . .
* - * - * - *
vir jou wil ek ‘n versie skryf
met iets uit die hart, iets om die lyf
iets van die stilte van die son wat sy kop in die more lig
en iets van die vreugde van die sterre onder die maan se brug
en iets van die rustigheid van die nag wat bo-oor ons bly
en iets van die vryheid van die wolke wat kom kuier by my
en iets van die verlange van die jakkals se roep
en iets van die hartseer van die uil op die stoep
en iets van die trane van die nag se dou
maak my verlange ‘n pad na jou
my gedagtes dwaal onsterflike paaie
hiernatoe en dan tot daar
en tog op die ou end
kom hul by mekaar
en sirkel om die spil van my bestaan
voor hulle jou toevou en wegvoer van my
sê hulle my waar ek jou kan kry
as die maan vol is
en die tyd verdwyn
daar waar die blinkste ster skyn
waar ek myself in jou verloor
en niks dieselfde is
sal jy in soete slaap gesus
in die arms van ‘n engel rus
met
die stilte van jou son
die vreugde van jou ster
die rustigheid van jou nag
die vryheid van jou wolke
die verlange van jou roep
die hartseer op jou stoep
en die trane van jou dou
daar eindig my pad . . . by jou
© KMaré
* - * - * - *
Lekker naweek hou en bly veilig.
Groete aan almal wat laf is.
Krista
It takes a pair of big ones
April 25, 2007Ek kry gewoonlik min of meer dieselfde reaksie by mense sodra hulle hoor waar ek werk en wat ek doen. So n kombinasie van afguns en bewondering…en na ‘n kortstondige stilte “….jis ma jy’s lucky…”
Ek werk van die huis af, en ja die voordele is definitief baie, maar daar is ook ‘n paar lelike…..uhm kom ons noem dit newe effekte wat ek toe ook eers later moes agterkom.
So meld ek dus 5 jaar gelede blinkoog aan vir my eerste dag as my eie baas. Gewapen met my splinternuwe 2de handse rekenaar, faksmasjien en lessenaar.
In kort volgorde was die grasperke netjies, al die stukkende deurslotte heel, lekkende krane dig ensovoorts, ek is mos nou allermins die baas, so ‘n ou uurtjie hier en daar om die agterstallige huiswerkies verrig te kry maak mos nie saak nie! Steeds blinkoog lê ek toe aan die einde van daardie maand my eerste faktuur voor vir betaling, n hele R2700.00…..probleem……dis dan die helfte minder as wat ek nog laasmaand verdien het!
Ek sê toe vir myself…..”myself, jy sal moet harder werk. Die lekkende krane moet maar wag tot Saterdag..”
So gesê, so gedaan….smorens as liefie ry werk toe 05:30 is ek al op sigaret nommer 10 en koffie 3….ek mag rook by my lessenaar want ek’s die baas sien. Saans as liefie loop lê, maak ek “net gou” klaar. Now for those in the know net gou is ‘n relatiewe term wat breedweg enigiets tussen een uur en een dag kan neem. Aan die einde van maand 2 lyk die pay toe nou glad nie sleg nie…en ek is nie min ingenome met myself nie.
Nuwe probleem…die enigste oerwoud-owerspel wat in die huis plaasvind is gangseks. As ma verby pa in die gang loop hoor jy onderlangs ‘n gebrom van ma af wat verbasend baie soos f*k jou! klink. Klaarblyklik hou mammie nie daarvan as pappie so laat in die nag ander muise operate nie. Na deeglike konsultasie met die breintrust is ‘n plan toe bewimpel sodat die kantoor kan “sluit” stiptelik om 17:00 namiddag en vrede en liefde reigns once more.
Oor die jare heen het verskeie sulke skermutselings hulself afgespeel in die utopia van baaswees…..
- soos die klient(e) wat aangedring het op hulp 11:30 op n sondagaand, wat my laat besluit het dat jou huisfoon is nie goed as jou besigheidsfoon nie
- soos die voortdurende geskarrel om die drukker in ink te hou….nou weet ek wat die baas se mission al die jare was
- Soos die groot trek na ‘n nuwe aparte vertrek met ‘n eie ingang….na ek een more onverhoeds betrap is deur ‘n klient wat ongenooid wou kom inloer. Onderdingetjies van laasnag se haastige uitrek oor stoele gedrapeer, is nie heeltemal die look waarvoor ek wou gaan nie.
So kan ek aangaan…die punt wat ek probeer tuisbring is die gras is groener aan die ander kant wat daar is meer k…. ehm bemesting.
And it takes a huge pair of cahones and an even bigger sense of humour to earn a living these days
P.S. Name teruggehou om onskuldiges (en diegene wat voorgee om onskuldig te wees) te beskerm.
P.P.S. Dit lyk of die blomme sterk oppad is na nog ‘n gatskop loesing by die Aussie krieketspan. Ai die rollercoaster van ‘n S.A. sport ondersteuner…ma dis ‘n anner storie!
Ciao
J
Aspoes-têrtjie
April 24, 2007Hierdie hersiene weergawe van Aspoes-têrtjie het ek 16 jaar terug geskryf, so lees maar met ‘n lui oog (ok net met 1 hoor!).
* - * - * - *
Ek is my pa se eerste en vuilste kind. My stiefma het twee skoon kinders - Hansel en Gretel. My stiefie was net partykeer goed vir my - voor my pa was sy lief vir my en as my pa nie daar was nie, was sy nie lief vir my nie (figures!). Maar toe gaan my pa dood en sy was glad nie meer vriendelik met my nie. Sy het my tot op die ashoop weggegooi, maar die kat het my teruggebring. Hulle het partykeer vir weke met vakansie gegaan en al wat hulle vir my gebring het, was vuil wasgoed. Elke more moes ek die kat skoonmaak en die stoof uitsit . . . of was dit nou andersom?
Eendag het die koning besluit sy seun het nou genoeg aandele in die plaaslike rubberfabriek verdien en hy moet vir hom ‘n bruid kies. Die prins was aantreklik genoeg om ‘n horde vrywillige vrouens in sy harem te hê, maar die koning wou hê dat hy darem net eers met een wettige vrou begin. Vreeslik (!) onwillig het die prins uitnodigings aan almal wat tel gestuur. Natuurlik is my stiefmoeder en haar twee trolle ook uitgenooi. Ek moes natuurlik alles stryk - van rokke, hare, pantihose en plooie.
Omdat die trolle tien jaar laas hulle voete gesien het, moet ek hulle toonnaels met die grinder afwerk en met die ystervyl glad maak. Stiefma en trol1 het die kledingstuk vasgehou terwyl trol2 haar daarin probeer struggle het. Ekke moes alles wat wou uitklim terugdruk en die skeure met gut vaswerk. Nadat hulle die koets herveer het, het hulle oor die cobblestone road na die kasteel vertrek. Ek het toe maar die huis gedustbust , vir my ‘n ou kleintjie ingegooi en onder die boom gaan sit.
Met ‘n helse lawaai het my ouma op die gras langs my neergeval, haar besem in twee. Soos gewoonlik het sy pienk kameelkouse onder haar swart rok aangehad. Nadat ek haar ook ‘n ou doppie aangebied het, wou sy by my weet waar die ou heks dan vandag is. Nodeloos om te sê sy het dit klaar geweet. “Kom ons hardloop hulle gatkant bo” het sy vir my gesê, haar besem gegryp en haar kat geslaan. ‘n Mens het net sterretjies gesien, toe was die kat oorle en in sy plek ‘n towerstaf. Sy het my beveel om my dustdinges, ons kat, ‘n paar aartappels en my stiefie se pelsjas te gaan haal.
Van die dustbuster maak sy toe ‘n Porsche, die kat my chauffeur, die knolle ‘n paar toyboys en die pelsjas ‘n perd vir die kar se enjin (perdekrag, sien!). My kleintjie wat nog half gedrink was, het sy in ‘n sel verander. My bagasiebroek mettie ventilasiegate was ewe skielik ‘n Dior skepping. Met groot gejuig is ek toe daar weg en het by die sokkie aangekom. Raai wie sien ek toe daar? Gouelokkies (bottelblond) & Teddy, Rooikappie (ook uit die bottel) & Jakkals, Kaptein Haak & Moby Dick en Brakkenjan en Julietta.
Om ‘n lang storie kort te maak, toe my Rolex (nie Rolex Magnum nie) om twee uur sy deuntjie afroggel, het ek uit die prins se arms weggevlieg en in my straler gespring. As dit nie vir die chappie op die trap was nie, het ek nou nog albei my Dok Martins aangehad. Anyway, toe ek en die prins getroud is, moes ek iets uitdink om die trolle en stiefma se lewens te versuur. Hulle moes elke oggend vier ure lank PT doen, my 15 spruite se doeke was EN hulle vir die dag oppas.
Tatties,
Aspoes-têrtjie
* - * - * - * - *
My issue vir die dag is dus:
gelukkig ontgroei die meeste van ons ons tienerjare. Imagine jy moes daar vashaak?
Krista
The value of a giggle
April 23, 2007
Somtyds word ek effens moeg vir mense en kry ek maar moeilik vatplek, so half-vieserig soos aan ‘n snotterige waslap. Dan is dit asof die batterye bietjie laag sak en die deuntjie half-trekkerig nie meer so fluks om die hoek wil kom nie.
Dis wanneer ek in die verkeer sit en al die onnosel bestuurders persoonlik wil educate (ek droom om te kan klap soos Bud Spencer). Of soos vanmiddag by die Mayville Hyperama (is g’n shoprite nie), wanneer die kassiere 8 blikkies pilchards een vir een deurscan ipv om te 8x. Dis wanneer ek ‘n daling van gees ervaar.
Dan dink ek aan die budoggie wat, sodra ek by die huis kom, op my gaan skreeu om te kom bal speel en soos ‘n resiesbulldog wegspring om die bal met haar kop te stamp. En ek dink aan die wosonkie se Mater-smile (van die Cars-fliek) soos julle hier kan sien - lekker aan die snork op pa se skoot. Dan kry ek so ‘n giggle wat hier van onder af borrel en oorkook soos ‘n warm bottel Coke, een wat jy nie kan keer nie - en ook nie wil nie.
Soos wanneer ek die man-volk van my in die winkel grope - daai lekker, stoute gevoel which makes other people look at you funny as jy giggel terwyl jy voor die tuinboeke-rak staan.
Mag julle elkeen elke dag ook so ‘n borrel-giggel ervaar.
K
In die begin . . .
April 22, 2007“Wat is ‘n wosonki?” hoor ek almal skreeu. Nee, ons praat nie vreemde tale nie, as jy worshondjie vinnig genoeg sê, kom dit uit as wosonki. By the same token, word bulldoggy budoggi.
Die wosonki en die budoggi op die foto’s is ons kinders. Jonty die wosonki is sy pa se kind - die moed van ‘n leeu en die attitude van ‘n rottweiler. Muffin die budoggi is haar ma se kind - tjoklits is haar lewe . . .
Aangename kennis, ons is Jaco en Krista - partners, lovers and best friends. Welkom by ons kombuistafel! Ons kuier graag in die kombuis om die tafel, ons hou eerder die sitkamer vir die dominee. Ons droom van ‘n groot plaaskombuis met ‘n lang, stewige houttafel waarom en waarop alles gebeur.
Hier wil ons ons gedagtes neerpen - drome, visioene, idees - oor alles wat ons raak en sommer life in general. Somtyds mag ons dalk net prut, soms lekker kook en dalk partykeer oorborrel! Ons hoop jy sal die reis saam met ons ervaar - vir botter of wors . . .
Dankie vir die inloer, later meer en voel vry om ‘n ou ietsie in die pot te gooi . . .
Tatta

Posted by wosonki