Suid Afrikaners is sportmal. Dit is ‘n feit. Sport is groot besigheid. Dit is ‘n feit. Groot besigheid is besig om Suid Afrikaanse sportondersteuners vir ‘n helse ride te vat, en ons aanvaar dit gedwee. Dit is my beskeie mening, maar dit sal staan as die waarheid tot ek verkeerd bewys kan word.
Sport word grootliks gefinansier vanuit 2 oorde. Eerstens borgskappe en tweedens hekgelde en ander bronne soos kledingstukke ens. Neem nou hierdie scenario. Ek en jy is fanaties oor rugby en krieket, so hier is hoe ons week verloop het.
Donderdag besluit ons om die krieket te gaan kyk. Kaartjies kos gemiddeld R90. En omdat jy nie sonder die regte “kit” kan opdaag nie koop jy maar ‘n ondersteunershemp teen R250. Suid Afrika speel soos palookas en kry op sy moer.
Vrydag gaan kyk jy rugby by Loftus. Kaartjie kos so R70 en die ondersteunerstrui so R400. Die blou bulle se C span speel die swakste wedstryd van seker enige curriebeker span die seisoen, en ja hulle verloor. Maar jy is opgewonde, more is Saterdag, die bokke gaan Tonga vermorsel en boonop speel jou tweede keuse span – die cheeta’s – teen die weepee, nog ‘n sure thing!
Saterdag gaan kyk jy maar die rugby in die naaste pub aangesien jy nie daai duur pakket kon koop om saam met die bokke te toer nie. Die ondersteunerstrui het jou R600 uit die sak gejaag, en die ding wurg al hoe meer namate die wedstryd aankarring. Jy dank jou sterre jy het nie nog ‘n vrystaat trui ook nie, want jy sou sekerlik nie so gesien kon word na daardie disaster nie.
Die bedrae is waarskynlik nie heeltemal korrek nie, maar die punt wat ek wil maak is dat ons astronomiese bedrae spandeer om vermaak te word deur ons sportsterre, en ons kry nie waarde vir geld nie. Ons skop ‘n groot bohaai op vir minder geld as die restaurant se kos nie smaaklik was of die diens nie vinnig was nie. Of as jou motor se diens nie na wense is nie . . . of . . . of . . . of.
Geen afslag word gegee omdat die beste spelers gerus word, by die wêreldbeker is en gerus word, geskors is, uitgelaat is vir politieke redes, beseer is of wat ookal nie. Jy betaal steeds dieselfde bedrae om vermaak te word, en jy gaan telkemale teleurgesteld huis toe. Ek laat my nie langer vir ‘n sucker speel nie. Ek weier om enige ingangsgelde te betaal vir ‘n show wat onderpresteer. Ek kyk dit eerder by die huis waar ek kan oorskakel na ‘n tuinbou-program as die rugby/krieket van die gehalte is wat ons onlangs te siene kry. Ek weier om enige ondersteuners “kit” te koop waar ek indirek iets borg sonder teenprestasies. Ek koop eerder nog ‘n plant vir die tuin of laat my motor was.
SUID AFRIKAANSE SPORTBASE! VAN VANDAG AF HET JULLE EEN MELKKOEI MINDER, JULLE BLIKSEMS!
Jaco