October 31, 2007
Hoe harder jy werk, hoe gelukkiger raak jy. Ek het dit nog altyd geglo. Hoekom sal dit nie ook van toepassing wees op ‘n huwelik nie?
Die afgelope week of so lees ek van handevol mense wat gesels oor die huwelik. Die kommentaar wissel van desperaat ongelukkig tot idilies gelukkig. Dit veroorsaak toe nou dat ek weer ‘n slag met ‘n kritiese oog na my eie huwlik kyk. En die resultaat, ek is nog steeds gelukkig getroud, ek is ‘n baie gelukkige man wat ‘n vrou soos Krista kon kry. Iemand wat bereid is om saam met my aan die huwelik te werk, en aan te hou werk.
Maar toe raak ek aan die dink, hoekom werk ons huwelik terwyl daar soveel is wat nie werk nie. Ons is nie die mooiste, slimste of rykste mense nie, maar ons kry dit reg - HOEKOM?
Ek maak toe ‘n lysie.
- Ons het baie laat eers getrou (32) alhoewel ons al ‘n item was sedert matriek. Daar was nie meer weggesteekte persoonlikheids dingetjies nie.
- Ons het voor ons troue vir 4 jaar saamgebly. Baie mense gaan met my verskil, maar dit is die beste voorbereiding wat ons kon gehad het vir wat voorlê.
- Ons het die grense vasgelê lank voor die troue reeds. Ons weet presies wat die ander een se reaksie gaan wees op sekere situasies. Bv geen van daai rubbish soos pappa vegetate op die bank terwyl mamma in die kombuis swoeg nie. Daar word saam kosgemaak en opgeruim (ok ek draai myself nogal uit die skottelgoedwas ding uit)
- Ons praat met mekaar (behalwe as daar ‘n episode is LOL) oor alles. Letterlik alles, geen geheime nie, geen van daai nonsense van dis man-goete of dis vroue-goete jy - sal - nie - verstaan - nie.
- En laastens, ek dink ons neem die gedeelte van for botter of wors as long as you both shall live baie ernstig op. Skei of opgee is nie ‘n opsie nie. Ons is saam in die ding, en saam sal ons hom baklei tot ons laaste asem.
Dankie my vrou, jy maak my die gelukkigste man op aarde. En ek belowe, ek sal nog ‘n manier kry om dieselfde vir jou te doen.
Jaco
13 Comments |
Jaco sê |
Permalink
Posted by wosonki
October 30, 2007
Ek het lank gesit en wonder of ek moet of nie, maar toe uiteindelik besluit om dit tog te doen. Die redenasie eenvoudig dat hopenlik sal die neerpen van die feite my help om my eie gedagtes te orden.
Gister se poging was NIE ‘n poging om te dig nie. Ek weet waar my grense lê. Elke lyntjie is ‘n stellling op sy eie, en die feit dat dit soos ‘n digpoging lyk is bloot toevallig.
Hier dan die volledige verduideliking:
Ek is ‘n maanhaarleeu, hoor my brul!
In my professie is ek die groot cahonies maanhaar leeu. Niemand, en ek bedoel niemand, doen dit beter as ek nie. Ek is die enigste ou in die hele land, in die hele wereld wat die unieke skillset het om te doen wat ek doen. Ek is koning van my mishoop. Ek is onvervangbaar tot so lank as wat iemand anders by my kom leer het.
Ek is beskermheer van my verlede.
Ek is trots op waar ek vandaan gekom het, en waar ek vandag is. Ek sal nie toelaat dat enigiemand my bloedsweet en guts reduseer tot ‘n “so what” nie.
Ek is bestuurder van my hede.
Ek is hekwag van my toekoms.
Die twee sinnetjies spreek vir hulleself. Die besluite en aksies wat jy vandag neem, bepaal waar jy more gaan wees. Alles mooi en goed in Jacoland.
Ek is ‘n control freak.
Ek is ‘n pyn.
En hier skop realiteit terug met ‘n krag. Ek is ‘n control freak. Ek beplan dinge tot in haarfyn detail. As gevolg van ‘n ver-vierdubbel in die werkslading en verlies van 4 van ons firma se 7 werknemers gedurende die jaar, het ek al so paar deadlines gemis.Waarvoor ek natuurlik pak gekry het. Daarvoor gee ek nie eers om nie. Wat vir my die ergste is, is dat ten spyte van my beste pogings, dinge steeds buite beheer is (aldus myself, niemand anders dink so nie). Skielik twyfel ek aan my vermoeëns. Dit maak my ‘n pyn in die agterent om mee oor die weg te kom.
Ek is asosiaal en menssku.
Ek is ‘n lammetjie.
Die oplossing vir my probleem lê daarin om ‘n ander inkomstestroom te ontgin wat my in staat sal stel om af te skaal op my bedrywighede in my huidige onderneming tot so ‘n mate as om die irritasies te verwyder en die ontwikkelings gedeelte weer ten volle onder my beheer te bring. Probeer dit nou doen as jy nie die bek of binnegoed het om jouself te bemark nie. Die beste produk/diens in die land is totaal nutteloos as jy dit nie kan bemark nie. My persoonlikheid laat dit net nie toe nie.
Ek is in my donner in.
Skaakmat. Sorry ou grote, die bus is vol! Daar is blykbaar baie waarvoor ek skrik.
Jaco
12 Comments |
Jaco sê |
Permalink
Posted by wosonki
October 29, 2007

Ek is ‘n maanhaarleeu, hoor my brul!
Ek is beskermheer van my verlede.
Ek is bestuurder van my hede.
Ek is hekwag van my toekoms.
Ek is ‘n control freak.
Ek is ‘n pyn.
Ek is asosiaal en menssku.
Ek is ‘n lammetjie.
Ek is in my donner in.
Jaco
14 Comments |
Jaco sê |
Permalink
Posted by wosonki
October 26, 2007
Jip, gisteraand was toe die groot aand. Die Maré clan se jaarlikse uitstappie na ‘n Casper de Vries vertoning toe. En wat ‘n aand was dit nie!
Maar eers gou die storietjie. Op pad soontoe ry ons van Pta Noord af deur die Wonderboompoort, en in die poort lyk dit soos ‘n disco soos die strobes flash en tekere gaan. Eers toe ons heelwat nader kom sien ons dat dit die bose geeste van die Tswane metro is wat agter die bosse skuil en aksiefoto’s neem van feitlik elkeen wat daar verbysnel. 7 uur in die freakin aand! Hulle moet rerig desperaat wees, of van plan wees om ‘n moerse kerspartytjie te hou die jaar. Die dat hulle so vroeg al begin insamel. Ek is nie heeltemal seker nie, maar ek vermoed ek gaan ook ‘n aksiefoto van myself in die pos ontvang met ‘n vriendelike versoek vir ‘n donasie aangeheg. Bliksems.
Anyway terug na die show toe. Nadat computicket ons dubbel bespreek het en ons uiteindelik sitplek gegee is aan die teenoorgestelde kant van waar ons bespreek het, het die oomblik aangebreek. Amper 3 ure van dubbel gevou sit soos jy lag, en sopnat sakdoeke soos wat jy lagtrane afvee het verged vir al die goed wat vooraf gebeur het. As jy ‘n Casper aanhanger is, gaan sien sy Mondig show. Jy sal nie spyt wees nie. Na die tyd ons Casper DVD versameling volledig gemaak voor ons net so voor 12 hier in die huis in gestrompel het, steeds giggelende.
Vir een arme werknemer en sy/haar opsigter by computicket gaan vandag egter ‘n dag wees om te vergeet. Mammaliefie is vir hulle die moer in oor die gemors met ons sitplekke, en sy gaan dit in geen onseker terme vandag aan hulle oordra. Computicket, as ek julle kan raad gee - doen soos sy sê en spaar julleself ‘n groot klomp pyn en lyding.
Vanmiddag kry Krista haar gymprogram by die Nazi. My hart bloei vir haar, want daai eerste 3 weke is niks pret nie.
Jaco
6 Comments |
Jaco sê |
Permalink
Posted by wosonki
October 25, 2007
Vir die maters wat steeds wonder hoekom ons nie meer comment of chat by SSSB nie. . . wel, wonder maar verder. Maar as jy gister se comments loop lees, kan jy jou eie afleidings maak. Dit is geen wonder dat die Afrikaner as laeklas beskou word deur die res van die samelewing nie. Ek skaam my vrek.
Terug by my storie. Maak ek mos gister die fout om te probeer om na Makro Silver Lakes se openingsverkoping toe te gaan. Om ‘n paar mooi kersgeskenke vir liefie te koop teen lekker pryse, jy verstaan? As jy verstaan is ek bly, want ek het duidelik nie verstaan nie!
Ek het in my lewe nog nooit so ‘n gemors beleef nie. Die verskil tussen daai klomp mense en ‘n trop skape, is dat skape tussen hulle nog ‘n paar breinselle het! Die winkelpersoneel moes oral skeidsregter speel om mense uitmekaar te hou wat mekaar met die vuis wil bydam vir die laaste items op die rak. Nadat dieselfde koei my hakskene vir die 3de keer met haar waentjie raakgery het, het ek eerstens my sin vir humor verloor, en tweedens (wyslik) besluit om die hele ekskursie vaarwel te roep.
Ek weet wragtag nie wat my besiel het nie, maar ek dink ek is nou OK. Nooit ooit weer nie. Ek betaal eerder die duurder prys by ‘n ander winkel en kom heelhuids daar uit. Silly season is indeed upon us!
Bloeiend die uwe
Jaco
14 Comments |
Galbraak, Jaco sê |
Permalink
Posted by wosonki
October 24, 2007
Dankie vir almal se goeie wense met die herdenking van my geboortedag, dit word opreg waardeer. Dankie my Lyfieding vir een van die mees spectacular verjaarsdae ooit. Ek was nog bitter selde in my kort lewetjie so erg bederf soos gister. Ek gaan ‘n baie moeilike tyd hê om naby hierdie poging van jou te kom! En ‘n spesiale dankie aan BB. Jy sal nooit weet hoeveel jou insette (alhoewel baie sneaky) bygedra het tot die suksesverhaal wat my verjaarsdag gister was nie. Ten aanskoue van die tydlyn wat julle tweetjies vir my gebou het, het ek onwillekeurig ‘n ou stoffie in my oog gekry. Dankie aan my Mô, en dankie aan my Pô . . . hehehe
Vandag gaan ‘n helse let-down wees na die euforie van gister. My werk is ‘n malhuis, ons moet ons belastingopgawes klaarmaak en Krista moet weer aan die studeer kom vir die vak wat sy Maandag skryf. O ja, en ons moet weer ons gesonde eetplan en oefenregime hervat wat ons sedert Saterdag so gruwelooslik afgeskeep het. Did I mention dat liefie nou saam met my in die gym is?
En laastens maar nie die minste nie, geskenk nr . . . 9 . . . 10? Ek het opgehou tel. Ons gaan moreaand ‘n Casper de Vries vertoning kyk by die Aula. Daarna sal ons lewens seker terugkeer na normal toe.
Behalwe dat die gewone einde-van-die-jaar-malligheid begin het, en dit gaan waarskynlik veroorsaak dat Wosonki net so elke 2de of 3de dag nuwe nuus sal aandra. Sorry, but we have so many bodies to hide, and so little time. Oor 2 maande is dit Kersfees julle outjies, and next year will be better - we promise. Hou die spasie dop.
Jaco
5 Comments |
Jaco sê |
Permalink
Posted by wosonki
October 23, 2007

Alles wat ek wou sê klink so afgewater teen die post wat jy vir my geskryf het op my verjaarsdag.
Daarom sal ek volstaan met:
Ek het jou lief met my alles.
Jy is werklik my ander helfte en die essence van my siel.
Joune vir ewig.
Krista
17 Comments |
Krista sê |
Permalink
Posted by wosonki
October 18, 2007
Ek is rêrig bietjie verward. Ek lees die laaste paar dae oral op die blogs wat ek volg van mense wat verlief is. En ek is bly, want as net een ander mens kan voel soos wat ek voel elke dag as ek vir Krista sien, dan is die wêreld klaar ‘n beter plek. Tog kan ek nie help om te wonder nie.
Ek is ultra konserwatief. Ek glo nog dat ‘n regte man nie eers sal dink daaraan om sy hand vir ‘n vrou te lig nie, dat sy woord en ‘n handruk net soveel werd is as enige geskrewe kontrak. Ek glo dat oorbelle en lang hare vir meisies bedoel is en dat die eer van ‘n dame die moeite werd is om te beskerm. Ek glo dat die huwelik vir ewig is, en dat dit die belangrikste besluit is wat jy ooit in jou lewe sal maak.
En dan lees ek van mense wat verlief is na hulle mekaar 2 weke en selfs minder ken. Ek sê nie dat dit nie kan gebeur nie, maar ek is skepties. Dit wil my voorkom asof verhoudings met dieselfde mentaliteit aangepak word as kitskos. Vinnig en maklik. Na 2 weke verlief, na 2 maande verloof, getroud na 4 maande . . . en geskei na ‘n jaar.
Hoe kan jy beweer jy ken iemand regtig na so ‘n kort periode? Het dit nie te maklik geword om te trou, en derhalwe te maklik om te skei nie? Is hierdie kitsverhoudings nie besig om ‘n absolute bespotting te maak van iets wat ek as heilig beskou nie?
En net vir inligting, die bedoeling is geensins om iemand aan te vat met hierdie possie nie, maar ek wil werklik weet hoe mense deesdae ernstige verhoudings benader. Want van die buitekant af lyk dit vir my alles behalwe ernstig.
Jaco
12 Comments |
Jaco sê |
Permalink
Posted by wosonki
October 17, 2007
Kom ‘n bietjie nader, ek wil nie hê die hele wêreld moet hoor nie.

Ek wil jou iets vertel, maar jy moenie vir almal loop vertel nie hoor???!!!

Luister jy?

Ek dink nie ek is ‘n baie nice mens nie. In fact ek weet ek is nie ‘n baie nice mens nie!
Hier is my dilemma. Ek is ‘n posisie aangebied waar ek ongelukkig meeste van die tyd ‘n bastard sal moet wees. Of ek die pos moet aanvaar is nie eers oop vir onderhandeling nie, my vraag is net: HOE VERHOED EK DAT EK MY NUWE ROL AS PRIMA “CLASS A ASSHOLE” TE VEEL GENIET????
Jaco
11 Comments |
Jaco sê |
Permalink
Posted by wosonki