. . . stop, ek wil afklim . . .

November 30, 2007

trein.jpg

Ek het beplan om ‘n chocolis-storie te post vandag, maar weens ‘n sense-of-humour-failure, is ek nie in die mood om dit te skryf nie. Stoppie trein, ek wil AF!

Hierdie was ‘n doller-as-kop-af-week by die werk gewees. Die Bevelvoerder gaan met kraamverlof en ek moet waarneem. Daarom moet ek alles wat sy in ‘n jaar geleer het, in 4 weke ingepas kry. I’m going to suffer . . . eish . . .

 Ek kom teen 10 uur in die oggend agter ek’s rasend honger, laat kom ‘n pastei, net om 11 uur agter te kom my pap wag nog in my kosblik. Ek koop lemoensap, dit bly in die yskas staan. Ek kry nie blogs gelees nie. Ek draai soos ‘n dronk hoender al in die rondte terwyl ek 4 dinge gelyk doen EN nog my temp ook leer. Alhoewel redelik suksesvol, haat ek dit om teen 3 452 km/hr dinge te doen en nie in beheer te voel nie. Ek, die control freak, WIL/MOET in beheer wees (EN weet wat ek doen)!

Ek wil nie meer nie. Ek hou nie van nie. Hier is geen vorderings-moontlikhede nie (tensy iemand waai/vergaan/opdroog), die company is te klein om opwaarts in te beweeg, so . . . ek sal moet uit. Verskieslik so gou as moontlik . . . maar my maniere fluister: sodra die Bevelvoerder terugkom . . . Intussen doen ek goeie experience op, ek weet. Maar, ek hou nie meer van nie.

Dis nie meer lekker nie.

Krista


Sulke tyd.

November 29, 2007

Ek is depressed. Maar ek is nie ‘n depressie lyer nie, ek is ‘n draer.

Kan mans ook aan depressie ly?

Los my uit en luister my polse afkou musiek. Ek sal nou-nou weer ok wees.

 


. . . nog 8 . . .

November 28, 2007

lippe.jpg

Okey-dokey, my 8 dingetjies:

1. Ek vrek oor diere, veral baby-animals. Ek kan nie natuurprogramme op TV kyk waar die natuur sy loop neem sonder om te huil nie. Ek blaai verby koerantbladsye waarop foto’s van diere-mishandeling is. Ek vrek veral oor woeffers se lippers . . . hehehehe!

2. Ek kan ploeg, melk, boorgatpype uittrek, varke was, hoenders pluk, ens.

3. Ek het nie ‘n persoonlikheid gehad tot net na matriek nie (en ek dink ek ontwikkel nog steeds). Toe ek eers my eie geld verdien, het ek teen my pa (psigopaat) begin opstaan. Ek het net na skool deur ‘n boheemse fase gegaan waar ek lang lappe aan my gehang het en nooit sokkies van dieselfde kleur gedra het nie. Ek het ook by die werk rondgeloop met die verestowwer onder my arm. As die mense dan wou weet hoekom, het ek hulle ewe kalmpies mee gedeel dat dit vir intelligente geselskap was. Ek het gedigte geskryf onder die naam sasius . . . . hiehiehiehie . . . Ek is BAIE opinionated en raak maklik geirriteerd. Ek is ook vreeslik ongeduldig. Ek ontwikkel Tourette’s as ek agter die stuurwiel inklim . . . aldus Anja (!) – ek hou nie van tyd mors in die verkeer nie en ry dus om te kom waar ek wil wees.

4. Ek het netbal gespeel vir die A-span tot in Std 9 en sou vir die 1ste span gespeel het as my pa nie geweier het dat ek aan netbal deelneem in my matriek jaar nie.

5. Ek het op 17 ‘n klein katjie doodgery toe ek die bakkie uittrek op die plot oppad na ‘n netbalwedstryd toe. Ek het die hele dag lank gehuil.

6. Ek het watervrees. Ek hou nie van diep water nie en veral nie troebel waters (pun intended) nie. Ek kan nie verskriklik goed swem nie, net genoeg om my kop bo water te hou.

7. Ek en Jaco het in matriek begin uitgaan en het BAIE uit- en opgemaak in die storm- en drang jare. Ons is deur albei sy ouers se dood, my ouma en oupa s’n, my pa s’n, sy sussie se (beplande) ongehude swangerskap, my boetie se motorfiets-fase waar hy die grootste crap gekoop het en altyd gerescue moes word van waar hy langs die pad gaan staan het. BAIE sakke sout opgeëet. En albei ten goede verander en aangepas, ek dink. Hy is my asem.

8. Ek is disleksies. Ek giggel vir slogans soos “Dyslexics untie”. Ek kan nie ritme hou sonder om deurmekaar te word nie. Ek ruil werkswoorde en selfstandige naamwoorde in dieselfde sinne om. Ek lees syfers agterstevoor. Ek kan nie trappe klim sonder om aan die reelings vas te hou en/of dat my voete deurmekaar raak en ek eers moet gaan stilstaan en uitsorteer nie. Ek raak maklik verward . . .

And that’s all that I’m going to say about that!

 Krista

PS: Ek is eintlik baie skaam . . . /me boor met toon in grond . . . .


Tag

November 27, 2007

Toe ek vanmore my inboks oopmaak, sien ek ons blog is deur Dellie getag. Dit beteken dat jy 8 feite oor jouself moet publiseer wat die ander kubermaters moontlik nie geweet het nie, en terselfdertyd moet jy weer ‘n paar niksvermoedende slagoffers uitsoek en tag. Die sonstraaltjie in my lewe het sommer vinnig laat weet sy is te besig, so hier sit ek dus met die warm patat.

Hier gaan ons .  .  .

  1. Nadat ek uit die weermag uit gekom het, het ek deur ‘n effense rebelse fase gegaan waar ek o.a. ‘n behoorlike “mullet” gegroei het. Ek meneer konserwatief! Behalwe vir een of twee ander foto’s pryk ek en my kraagkroon trots in my ID boekie as stille aantuiging van die “sad confused little boy” wat ek was.
  2. Op die 10de Maart 2006 het ek ek bg. sonstraaltjie ophou rook. Net so. Klaar. Ons het vir ‘n maand daarna nog Zyban pille gebruik net om oor die ergste te kom, maar dit was hoe ek my 60 per dag verslawing geskop het. 19 weke gelede het ek weer by ‘n gimnasium aangesluit om die res van my lyf reg te ruk, synde dat my longe weer  funksioneer. So vêr, so goed!
  3. In die dae voordat ek myself so erg laat gaan het was ek nogal ‘n ywerige drawwer. Ek het gereeld aan marathons en halfmarathons deelgeneem. Selfs op die korter afstande was ek witwarm, al moet ek self so sê. My beste tyd vir die 2.4km in die weermag was 6min:33sek, met stewels, browns, bakleibaadjie, R4 en staaldak! Ek het meestal die entjie afgedraf in onder 7 minute.
  4. My neus was al 14 keer gebreek, en ek moet rekonstruktiewe chirurgie ondergaan om die skade reg te maak, maar ek is te vrekbang. Het ek al genoem dat daar niks is waarvoor ek banger is as hospitale nie?
  5. Agter my hoogs vlambare humeur en kortaf houding het ek eintlik ‘n baie klein hartjie. Maar ek steek dit baie goed weg. En as jy vir iemand vertel gaan ek jou moet seermaak!
  6. Ek haat dit met ‘n passie om voor ‘n gehoor te praat. Ek is totaal en al ‘n introvert en menssku. Die aand voordat ek ‘n opleidingssessie moet aanbied, of ‘n voorlegging doen, kan ek glad nie slaap nie. Ek werk myself so op dat dit voel of my nekspiere my kop tussen my skouers wil intrek.
  7. Ek het bakbene. My afrigter in die weermag het altyd gesê my bene is so krom dat wanneer ek reguit hardloop, lyk dit asof ek sidestep! My LT het weer met elke parade net sy kop geskud, my sooooo op en af beskou en dan gesê “. . . My fok Maré, jy sal ook nooit ‘n vark kan vang nie! . . .”
  8. In die dae toe ek nog kerk toe gegaan het, en betrokke was by die kerk se jeug, het ek elke jaar die stofsuier van die jaar toekenning ontvang. Ek was altyd honger, en het alles verslind waarop ek my hande kon lê. Tot redelik onlangs toe was dit glad nie ‘n probleem om 1kg medium rare steak vir hoofgereg by ‘n restuarant te bestel nie. En dit saam met voor- en nagereg!

So daar is dit nou, die hele waarheid, direk uit die perd se bek. Rachelle, Anja, Da Mario, René – julle is getag. Doen die regte ding.

Jaco


Wanneer die warmplek vries.

November 26, 2007

frozeover.jpg

Dit is hoe lank dit gaan neem voor ‘n plek met die naam van China Mart my ooit weer sien. Wat ‘n verskriklike vermorsing van ‘n pragtige Sondagmôre. En vir die wat moet weet, nee, ons gaan nie kerk toe nie, maar dit is ‘n ander storie vir ‘n ander dag.Terug na China Mart. Dit is ‘n plek wat goedkoop Chinese goedere – hoofsaaklik speelgoed en klere – in grootmaat verkoop. Ons is soontoe op aanbeveling van ‘n vriendin, juis met die gedagte om ‘n lekker hoop hout speelgoedjies vir billike pryse te loop aanskaf wat ons aan die familie se kinders sowel as die kinderhuise kan skenk. Wat ‘n teleurstelling!

Op die voorgeskrewe tyd van vertrek sit ons almal getok reg in die kar, dis nou almal behalwe aanstaande skoonsussie. Ek neem jou saam met die grootste graagte, maar sorg dat jy betyds is. As ek die moeite kan doen, kan jy ook. Ek maak ‘n terloopse aanmerking oor laatwees in die kar, skoonma swyg en liefie stem saam.

My moermeter luier nog rustig .

Nadat skoonsussie ons vereer met haar teenwoordigheid, en ons die kar vol brandstof gaan maak het (wat liefie eintlik al in die week moes doen) pak ons die plus minus 100 kilometer aan, rigting suid. Johannesburg toe. Sodom en Gomorra toe. Die snelweg is besig, maar ons vorder goed. Tot so 300 m voor ons afrit. ‘n Metro polisie padblokade, op die verdomde snelweg. Dit vat amper 20 minute om daardeur te kom.

My moermeter is teen die tyd lekker warm geluier, ons stoot die toere aan.

Kry die plek redelik maklik, alhoewel geleë in ‘n area waar ek nie eers my rottweiler alleen sal laat loop nie. Die winkeltjies is klein en beknop, bitter min items is gemerk – jy moet elke keer iemand roep as jy ‘n prys wil weet. Die gangetjies tussen die winkels is net so donker en beknop, die sjinese staan voor hulle winkels in die gange en rook goedkoop stinkende sigarette. Jy word aangegluur asof hulle jou ‘n guns doen om jou hier te laat inkopies doen. Na die derde winkeltjie hou ek op om in te gaan, ek wag in die gang. Die kwaliteit is om die minste te sê, kak. Die pryse nie veel goedkoper as ‘n gewone vlooimark nie. Slegs as jy grootmaat koop kan jy lekker afslag beding.

My moermeter is op “cruise control”

Ek besluit dat ek vir niemand so kwaad is om hierdie rubbish aan hulle kinders (en indirek aan hulle) af te smeer nie. Ons gaan huis toe. Liefie is saam (ek weet steeds nie of sy met my saamstem en of dit die trek op my gesig is wat haar oortuig het nie). Skoonma en skoonsussie snuffel nog rustig. Ons verlaat hulle met die belofte om by die kar te ontmoet, en gaan op soek na ‘n blikkie koeldrank. Geeneen van die kosplekkies het soveel soos ‘n engelse spyskaart of pryslys nie. Ons kry gelukkig ‘n paar blikkies koeldrank en gaan wag in die kar.

Moermeter loop nou diep in die rooi.

Na wat soos eeue voel, daag skoonmamma en skoonsussie op en ons val in die pad. Ek neem ‘n verkeerde draai en eindig in een of ander baie ongure plek op. Krista kry raas oor haar swak navigasie.

Die moermeter gaan in reactor meltdown.

Al die pad terug huis toe swets ek skel ek op alles en almal wat in my gesigsveld kom. Ek sien alles behalwe die 2 bose geeste wat van bo van ‘n brug af sit en aksiefoto’s neem waar ek teen 100 deur ‘n 80 sone zoem. Wie die donner maak in elk geval die spoedgrens op ‘n vierbaan snelweg 80? My passasiers beduie angsbevange vir verbygaande verkeer om hulle te verlos van die malman.

Nooit ooit weer nie.

Jaco


Louis Botha Kinderhuis

November 23, 2007

hope.jpg

Hier is my missie vir die volgende jaar (een van hulle, ten minste):

Om behulpsaam en betrokke te wees by kinders.

Ek het emails gestuur na Ki-deo, Danville-hulpprojek en die Louis Botha kinderhuis om ons hulp aan te bied. Die enigste reaksie wat ek gekry het, het van die LB-kinderhuis gekom – en dit nog dieselfde dag!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Riana Beneke het my email beantwoord en vir my lysies gestuur. Hulle Kersboom was gister, maar die meeste van die kinders wil nie speelgoed vir Kersfees hê nie. Sy sê ook dat hulle altyd van die goed kan bêre vir verjaarsdae. Ek gaan dus my bes doen om soveel as moontlik goed vir hulle in te samel en te gaan aflaai. Die kinderhuis is in Pretoria en volledige lyste is beskikbaar – los ‘n comment en ek email dit vir julle.

Wat hulle vra is die volgende:

Tekkies, denims, naweeksakke, toiletware, plakkies, onderklere, scrapbooking, skryfbehoeftes, skooltasse, haardroeërs – algemene goed wat as ons gegewe aanvaar. Hulle ouderdomme wissel van 6 – 17 jaar. Dis net normale kinders in abnormale omstandighede – ‘n huismoeder kan nie die plek volstaan van ‘n eie mamma en pappa nie.

My hart bloei vir hulle. Daarom sal ek my bes probeer om met my beperkte hulpbronne ook vir hulle ietsie te probeer doen.

En dus volgende jaar nie net vir myself te streef nie, maar ook vir ander.

Krista


Frau Bosch

November 22, 2007

Snaakse besigheid die dat ek va’more so sit en terugdink aan my skooldae, en spesifiek aan my Duitse onderwyseres Mevrou Bosch, of frau Bosch soos sy verkies het ons haar aanspreek. Dit moes of BB se kommentaar oor ‘n duitse kersfees gewees het, of ek het hierdie diep onderliggende begeerte om terug te keer na ‘n era toe werksdae 2 uur klaargemaak het, jou ouers vir jou gesorg het en 4 lang vakansies per jaar verpligtend was. Komaan, waar is die kopdokters? Psycho analyse me!

Voor ek verder gaan moet ek dit noem, en ek stel dit so sagkens as moontlik, dat frau Bosch gebou was soos ‘n olimpiese gewigstoter en met die humeur van buffel met ‘n seer tand. Glo my, ‘n dodelik gevaarlike kombinasie!

Drie staaltjies oor Frau Bosch sal my altyd bybly. Die eerste een was toe ons nog in standerd 7 was (graad 33 en 1/3 in die nuwe taal). Geskiedenis was verpligtend tot en met einde standerd 7, en frau Bosch was ons geskiedenis onnie. Sy het nooit gelag nie, nie eers ‘n effense glimlag nie. Jy kon die snaakste sêgoed opdis, en sy het jou net so stip aangestaar met daai donker mamba ogies. Tot dié dag. Ons les was oor die middeleeue en daar was ‘n prentjie in die boek van Willem Wikkelspies, oftewel William Shakespeare. Ewe droogweg merk my pêl Koos op dat hy ‘n oorbel dra, en daar begin frau Bosch lag. Sy lag amper die helfte van die periode om, en dit oor iets wat nie eers so snaaks was nie.

Die ander (minder aangename) herhindering aan frau Bosch was Maandae. Maandag was duitse spelling dag. Frau bosch gee jou ‘n woord, en jy moes dit op die swartbord gaan skryf. In duits word dit ‘n wandtafel genoem, maar frau Bosch se woord was brandtafel. Die “latjie” waarmee sy jou reggehelp het was inderdaad ‘n size superlarge krieketkolf wat Justin Kemp met moeite so kon oplig, sy het dit sommer so met die een hand beheer. Die ding was so swaar, as sy jou geraps het, het daar ‘n afdruk van jou lyf in die muur gesit! Jy het letterlik ‘n brandende begeerte gehad om jou woorde reg te spel.

Die derde en snaakste staaltjie is die een more toe ons toets skryf. Nadat almal (‘n hele 6 van ons) hulle vraestelle gekry het, gee frau Bosch die opdrag anfangen (duits vir begin). Ewe onskuldig vra die einste Koos ”wat moet ons aanvang frau Bosch?” Met een rughand klap het frau Bosch hom uit sy stoel gelig sodat hy netjies met sy agterstewe op my tafel agter hom te lande gekom het. Nodeloos om te sê, witty op- en aanmerkings het drasties afgeneem daarna.

Ek wonder waar is frau Bosch vandag?

Jaco


. . . voel jy dit al? . . .

November 21, 2007

santa.jpg 

Ek wens ek kon nog steeds oor Kersfees voel soos toe ek klein was. Die opgewondenheid, die aftel van die slapies, die uitasem-bokspring-gevoel as jy opstaan en Kersvader het die persente voor die deur/onder die boom gelos . . .

Sover ek kan onthou, het ek nie laas jaar verskriklik “Christmassy” gevoel nie. Die “silly-season”-warboel in die winkels het my sowaar meer om-en-dom gehad in die winkels as gewoonlik. Hoe ouer ek word, hoe minder kan ek die samedrommings en beknoptheid hanteer (ek, wat eers kon “shop till you drop” deur ‘n hele naweek!!!!!!!!). Ek kan nie meer nie, ek gee op. Ons besoek nou die winkels op opskure dae en tye sodat ons die massas ‘n mis kan gee (en ek nie my moorddadige neigings tot uitvoer kan bring nie – ‘n ander post op ‘n ander dag).

Gewoonlik het die musiek wat jy nader aan Kersfees in al die winkels hoor my so ‘n effense fladder in my hart laat voel. Nou hoor jy dit al amper van Oktober af en is ek hartlik gatvol daarvoor teen Desember se kant.

Wat dit wel nog vir my doen: die kindergesiggies as hulle met sulke “wow”-uitdrukkings die Kersliggie-massas dop hou en nie mooi weet waar om te kyk en waarop om te fokus nie, die histerie as die kinders agterkom dat die persente skelm deur Kersvader onder die boom gelos is terwyl ons met die kinders buite op die gras staan en kyk of ons hom nie sien nie, die opgewondenheid waarmee die papier oopgeskeur word en die “kyk mamma”-roepe in die hoë stemmetjies, die uitpass op iemand se skoot met die gunsteling speelgoed onder die arm vasgeklem . . .

DIT is wat my Kersfees maak en my weer laat verstaan van Goed en Kwaad en Karma en Liefde en Vriendskap. EN watter rol ek in hierdie kleintjies se lewens kan speel en dat die bydrae wat ek maak, wel ‘n verskil maak. En dat hulle my/ons wel nodig het . . .

En een van die dae is daar 3 . . . hehehehehehe. Ons wag in spanning!

Wat gee vir jou die Kersgevoel? Die gee, die ontvang, die kos, die persente, die liggies of . . . ?


3 Vrae?

November 19, 2007

Hoekom wil dit voorkom asof daar so baie mense is wat kinders kry maar hulle nie kan of wil versorg nie?

Wat het ons gesondig om na soveel probeer nie kinders te hê nie?

Is daar ‘n verband tussen die bogenoemde twee vrae?

Ok, so ek het gelieg, laaste vraag: Is daar so ‘n +/- 50 hektaar grondjie so 100 -200 km Noord van Pretoria met my naam op?

Jaco


. . . gone fishing . . .

November 16, 2007

boat.jpg

Ons gaan bietjie “recharge” die naweek . . . so hier gaan nie veel aangaan vandag nie.

Geniet julle naweek – onthou 2008 kom al hoe nader!

Which brings me to my next thought: hoeveel van julle beplan iets nuut/anders vir 2008? Wie gaan probeer om 2008 diè jaar te maak? Gaan jy dinge anders probeer doen? Gaan jy uiteindelik daardie droom probeer uitleef? Gaan jy probeer om daardie ou skoolpêl hierdie jaar in die hande te kry? Gaan jy meer tyd maak vir ontspan of net effens dieper asemhaal? Ek wonder . . .

Jaco & Krista