
Ja, ja ek weet. ‘n Honderd ander mense het ook al hierdie post gedoen, maar ek voel ek moet ook, want die antwoord is nie generies nie en elke blogger vra hom- of haarself tog een of ander tyd hierdie vraag af. Die antwoord is inderdaad so persoonlik soos jou salaristjek, jou gewig of jou ouderdom.
In my geval is die antwoord eintlik baie eenvoudig. Ek is ‘n baie teruggetrokke mens. Nie die “life of the party” nie. Blogging gee my die forum om ook my gewaarwordings te laat hoor, teen ‘n tempo wat my pas. Tweedens is ek 76% linksbrein by laaste toetsing, ek moet prentjies teken om probleme op te los. Blogging is my manier van “prentjies teken” om probleme van ‘n meer abstrakte natuur soos emosies ens. op te los. Derdens, soos ek voorheen genoem het, ek is nie noodwendig kreatief nie- maar ek is ‘n skepper. Die blog is deel van skep. Deel van die merk wat ek op die samelewing gemaak het. Maklik soos dit. Dit alles natuurlik binne die mileu van relatiewe anonimiteit. En daar is altyd die delete knoppie as jy voel dat jou persoonlike spasie bedreig word.
Wat my bring by ‘n ander gedagte. Blogging is nie net die skryf van jou eie gedagtes nie, dit is ook die lees en deelneem aan ander blogs. Hoekom doen ons dit? Is dit ‘n natuurlike uitreiking na menslike kontak deur middel van tegnologie, of is ons almal in ‘n mate perverse voyeurs in ander mense se lief en leed? Amper soos rubberneckers by die toneel van ‘n ongeluk. My persoonlike gevoel is dat dit dalk ‘n bietjie van beide mag wees. Die kommentaar wat jy ontvang op jou pennevrugte dien as bewys dat jy nie alleen is nie, dat jy gehoor word.
Op die punt van kommentaar, wat is die etiket rondom dit? Los jy kommentaar elke keer as jy gelees het, of slegs as jy kan bydrae tot die onderwerp? Ek doen laasgenoemde.
Ewenwel. Ek moet al weer hardloop. Dit is nou eers week 2 van die nuwe jaar maar ek is reeds 6 weke agter. Of so voel dit in elk geval.
Ciao
Jaco
Posted by wosonki