Daai sinkende gevoel.
February 28, 2008Jy ken daai sinkende gevoel op die krop van jou maag wanneer jy onthou van iets wat jy moes gedoen het, maar heeltemal vergeet het?
Ek het daai gevoel amper vrygespring hierdie jaar . . . amper. Ek het vir een maal in my lewe onthou om my opgawe vir Jan Taks betyds te voltooi, en terwyl ek so behaaglik terugleun in my stoel . . . toe tref dit my! My suster se oudste meisiekjend het Dinsdag verjaar. Demmit. Aaaaaaargh!
Dinge om te doen die naweek:
- Koop iemand om om my belastingopgawe in Jan Taks se posbus in die stad te gaan gooi.
- Gaan lewer ‘n klein dogtertjie se geskenk af en oortuig haar dat ek nie rerig haar verjaarsdag vergeet het nie.
- Drink genoeg medisyne om ontslae te raak van die vieslike keelseer wat ek by liefie aangesteek het, want ek as ek moet lê en hoes in die nag soos sy die laaste paar dae doen, gaan sy my met ‘n bedkassie doodslaan.
Jaco
Koerantmense
February 26, 2008Ander spesie daai. Gistermiddag moes ons teen nekbreekspoed werk om die publikasie vir vandag se koerantartikel reg te kry. As die images in 150dpi is, wou hulle dit in 300dpi gehad het. En wat weet ‘n dom bouer soos ek in elk geval van die 312 skakerings van groen?
Dit is geen wonder redakteurs rook soos skoorstene nie. Mense wat so naby aan die “edge” beweeg moet ‘n manier hê om hulle senuwees in toom te hou.
Maar na alles gesê en gedoen is, hier is die editorial van ons doen en late oor die afgelope paar maande. En die “dedicated team of professionals” wat hierdie skippie maak dryf het darem ‘n een sinnetjie mention in ‘n volblad artikel gekry. Aai die joys van die werkersklas!
Anyway, hier is hy. Regskliek en save link as, of kliek op die link om oop te maak in pdf
Jaco
. . . goeie nuus/slegte nuus . . .
February 25, 2008Eintlik kan ek nie hieroor blog nie, aangesien persone wat saam met my werk, ook ons blog lees . . .
But, here goes . . . come what will . . .”Die ding wat verlede Vrydag gebeur het”.
Ek was die oggend gou vir ‘n onderhoud by ‘n firma in Rosslyn. Geen van die gewone simpel vrae nie, reguit en op die man (vrou) af. Ek word toe sommer vertel hulle sal die aanbod dieselfde dag nog deurstuur. En ons spandeer die hele weg-naweek deur plannetjies te beraam oor die nuwe werk en lekker dinge en hoe ek die Maandag my kennis sou moes gee. En ek kry my huidige baas so jammer en ek voel SLEG oor dit wat ek aan hom sou moes doen (synde dat die Nazi nog op kraamverlof is en eers April weer begin werk).
Die aanbod lê toe daar in my inbox die Sondag toe ons terugkom en ek begin deur die dokumentasie werk. Ek moet die 15de Maart daar begin werk. Ok. Dit is slegs 10 minute se ry van ons huis af in spitsverkeer. Spitsverkeer, watter spitsverkeer? Almal kom hierdie kant toe, ek ry anderkant toe. Ok. Ek kan dan ‘n uur later slaap en saam met Lyfie ontbyt eet voor ek huis toe ry. Ok. En ek lees en ek lees . . . en toe is dit nie meer so ok nie.
Ek kan dit nie aanvaar nie. Toe die agentskap my vertel wat die CTC (cost to company) is en dat dit slegs medies en voorsorgfonds insluit en ek my sommetjies doen, het ek uitgewerk dat ek nog dieselfde gaan nett nadat ek bygedra het vir ‘n voorsorgfonds. Toe ek die maatskappy se aanbod kry, is die 13de tjek deur 12 gedeel en deel gemaak van die CTC, wat beteken dat die basiese salaris baie minder is as wat ek uitgewerk het. Die geld wat ek spaar aan petrol maak nie eers 50% op van dit wat ek minder gaan kry nie. En dis nie onderhandelbaar nie.
En nie een van my sommetjies wil die ding maak werk nie. En ek kan nie Lyfie se aanbod dat hy ‘n deel van my shortfall sal dra, aanvaar nie. Ek struggle die hele tyd om vorentoe te boer en nie uit eie keuse agteruit te boer nie. Ek het darem ook minimum standaarde! En dis NIE onderhandelbaar NIE. So, nee, ek kan nie . . . aanvaar nie . . .
Nog jakkalsies wat pla: daar is geen backup as ek dalk sou siek word of moet eksamen skryf soos ek hier het nie (en ek moet klaarmaak hierdie jaar). En ek mag daar my 3 weke verlof NET in Desember neem, waar ons nou buite-seisoen (terwyl ons nog kan) rustig vakansie kan hou. Dit sou alles hanteerbaar gewees het as hulle net die regte salaris sou betaal . . .
Ek het toe die agentskap laat weet dat die salaris op die ou einde te min was. Die dame het dit toe so aan hulle oorgedra en ek het nie weer iets gehoor nie. Dit dan nou tot daarna toe.
Ons hou die een oor op die grond en die een oog in die koerant.
Laat weet tog as iemand van julle hulp soek . . .
Krista
Botsende belange
February 21, 2008As jou klient bel om julle afspraak vir opleiding vandag te kanselleer:
- Jy is bly dat jy nie meer nodig het om dit te doen nie, jy draai om en gaan huis toe om die werk te begin takel wat intussen weer jou inboksie begin oorstroom het.
- Jy word kwaad omdat jy reeds om kwart voor vyf moes opstaan, jou beste klere moes staan en stryk en reeds meer as driekwart oppad na hom toe was?
Wel ek het besluit bogger dit. NONE of the above. Synde dat ek in elk geval nie vandag my my “gewone” werk sou uitkom nie, en die opgelegde taak vir vandag gekanselleer is, neem ek die dag af om die yin en die yang weer te balanseer. Cheers!
P.S. Die monster wat ek help skep het kry komende Dinsdag ‘n volblad add en editorial in een van die Kaapse koerante. Die baas is nou besig met die interview daarvoor. Wonder of hy sal onthou om te mention dat sy development team (lees ek plus een programmer) darem ook ietsie gedoen het?
Jaco
Ontspoor!
February 20, 2008Ek dink die prentjie beskryf die Maré lewenstreintjie se vordering na dese. Ons lokomotieffie lê plat op sy sy in die sloot langs die spoor. En die oorsaak . . . ‘n Ierse kêrel met die naam Murphy. Hy kuier hier by ons vir (hopenlik net) ‘n rukkie, en in sy soetkys het hy ingepak Murphy se derde wet, die een wat sê dat as dit kan skeefloop – sal dit!
Toe daai lelike ding Vrydag (eintlik eers Sondagaand) gebeur het moes ons seker geweet het Murphy het aangekom, maar toe heers daar nog ‘n algemene staat van euforie na ons herdenking en die naweek se wegbreek. Die feit dat ek die heel naweek gemiddeld 5 ure slaap per nag ingekry het, het natuurlik ook gehelp om my in hierdie valse sin van welbehae in te sus. Gister moes ek al begin besef het iets is nie pluis nie. Vandag tref dit my soos ‘n voorhamer.
Ek (ons) was nog net 2x in die gym vir die hele maand van Februarie. Na ‘n lang en moeilike dag is dit baie maklik om ‘n verskoning uit te dink hoekom om nie te gaan nie. Ses maande se hardverdiende kilogramme is stadig maar seker weer besig om oor my gordel te kruip. My nuutgevonde stokperdjie staar my beskuldigend aan elke keer as ek my kop by die werkskamer insteek, die gereedskap koud en ongebruik, die hoop materiaal monument tot my laksheid. Krista se studegidse onoopgemaak, smagtend om gesien te word.
Die afskeep gemors wat ons sedert Kersfees op ons blog gepleister het, gmpf! Ek wonder wat sê ou platkuif nou van hierdie “elite” afrikaanse blog soos hy ons onlangs nog opgehemel het. By meer as een geleentheid in die laaste maand het ek al met die delete knoppie onder my muiswyser gesit, net ‘n kliek weg . . . Hier sit ek nou, middernag het gekom en gegaan. Van die laaste vier dae se slaap is daar nou geen teken te bespeur nie. Om vyfuur moet ek begin regmaak vir sekerlik fisies en geestelik die hardste 3 dae se opleiding wat ek nog ooit moes aanbied. 3 dae, 6 sessies, 16 mense – dit klink soos survivor Gauteng! Sekerlik nie iets wat jy wil aanpak sonder slaap nie. Ek moet nou rerig oor hierdie vrees vir public speaking van my kom, ek is mos nou al mooi groot!
Die kollega wat ons laasmaand aangestel het, het dit nie gemaak nie. Die baas het hom vandag ‘n tjek in die hand gestop vir die res van sy 3 maande proeftydperk en gevra dat hy liewer nie more weer terugkom nie. Kollega 2 gaan volgende week met verlof, en kollega 3 moet vir ‘n week Durban toe om ons kliente daar te gaan gelukkig hou. Dit los my met telefoniese sagteware ondersteuning vir ons hele klientebasis. Het jy al ooit vir ‘n spul bouers telefonies probeer sagtewareondersteuning gee, 2 produkte se jaarlikse opgraderings op die rakke probeer kry, finansiele jaareinde probeer pleeg, nog 2 produkte probeer “launch” en steeds aandagtig probeer luister as jou gade vir jou iets vertel. Ek beveel dit nie aan nie, want êrens slip jy elke keer op.
Wat ek eintlik probeer sê met my hele treurmare (jis maar ons Afrikaners kan darem vir jou so lekker wroeg), is dat dinge so ‘n klein bietjie rof gaan in wosonkiland. Boegie se blogtitel sê dit so mooi: “as jy deur hel gaan moenie ophou hardloop nie”. Moet asseblief nie weggaan nie. Ons het hopeloos te verslaaf geraak aan ons virtuele kombuis kuiermaats. Sodra die loco terug op die spoor en sy pens vol kole gestop is, prut ons weer volstoom teen so drie of vier potjies per week.
Tot dan, stry die goeie stryd en los darem nou en dan ‘n gedagte onder die deksel sodat ons weet julle almal skop nog.
Jaco
. . . te koop . . .
February 19, 2008Hierdie is nog nie die post oor daaaaaaaaai ding van Vrydag nie. Hierdie is ‘n verduideliking oor ‘n gevolgtrekking wat ek vanmiddag bereik het.
Op hierdie blog sal in die vervolg items te koop aangebied word. Items waarvan die gebruik totaal en al oorbodig geword het (en wat ander mense dalk kan gebruik). Item 1 vir hierdie week is dus:
36+ “Quantity”-knoppies – verkry van die Hyperama Mayville se kasregisters.
Die rede vir die beskikbaarheid van bogenoemde knoppies:
Neem 1 kliënt met verskeie items in haar/sy mandjie wat gesegde kliënt graag wil aankoop – verkieslik voor Armageddon op die aarde toesak in 2055. Neem item waarvan daar ‘n aantal (meer as 1) in die mandjie is. Bv: Maggi 2min noodles op “special” vir R1.79 elk. 12 daarvan. Voeg dus ‘n ongeletterde, lui kassiere by hierdie drukpot van ‘n situasie nadat die kliënt onverrigter sake voor 7 rakke moes verbydraf omdat daar geen voorraad beskikbaar is nie.
Bogenoemde kassiere beweeg tydsaam een vir een die artikels verby die laseroog om die artikels op te lui. Een . . rus . . . een . . . rus . . . een . . . rus . . . gesels met pakker . . . rus . . . een . . . rus . . . een . . . draai hom om . . . scan weer . . . trek hom so bietjie reg . . . scan hom weer . . . een . . . ok . . . twee . . . twee . . .
Die rede dus hoekom die “quantity”-knoppies op die Hyperama se kasregisters oorbodig is: die kassiere kan nie tel nie!!!!!!!!!!! Om te 12 x R1.79, moet jy tot by 12 kan TEL! Aangesien hulle nie kan tel nie, scan hulle een vir een vir een artikel. En intussen kry ek so by myselwers elke keer ‘n mini-beroerte as hulle teen slakkepas elke artikel op sy eie scan. Dis genoeg om enige mens ‘n gemoedsbekakking . . . floute te gee!
So . . . ek bie R1.00 per knoppie, aangesien hulle splinternuut is en dus nog nooit gebruik is nie!
Enige voorstelle vir volgende week se artikel te koop?
Krista
PS: onthou ek so na die tyd sy het darem die rolletjies boudtissues se 2de pak net ge”quantity” en nie weer gescan nie. Seker net om te bewys sy KAN tot 2 tel . . . ?
Anatomie van die (amper) perfekte naweek
February 18, 2008Ek wou eers nie, maar liefie het my so aangeprys met my pogings die laaste 4 dae, dat ek besluit het om tog maar daaroor te skryf. In ‘n tyd en plek waar ons bitter min positiefs te sê het sal die memories sekerlik ver gaan.
Die perfekte naweek begin al op ‘n Donderdag. As die spesifieke Donderdag ook toevallig Valentynsdag én jou Huweliksherdenking is, soveel te beter. Dit begin deurdat jy so ‘n ietsie vir vroulief op julle blog skryf, plaas dit betyds sodat dit gereed is as sy by die werk kom. Dit maak nie saak as dit nie ‘n literêre meesterstuk is nie, skryf uit jou diepste innerlike binneste uit, sy sal dit waardeer.
Plaas ‘n klein geskenkie in haar kosblik. Juweliersware werk goed. Ontbyt by die werk sal nooit weer dieselfde wees nie, maar moenie die oorbelle net so in die broodjie druk nie, los dit maar in die boksie waarin jy dit gekoop het. Daag so teen etenstyd by haar werk op en neem haar uit vir ete, onthou om blomme saam te neem!
Julle hoef nie uit te gaan vir aandete nie. Jy kan self vir haar iets lekker kook. Women love men that cook. Ek het 4 krefies in die pot gegooi en dit opgedien met varkribbetjies en 2 bottel vonkelwyn (een perske en een rooi). Die vonkelwyn is baie belangrik, want dit sal enige tekortkominge met jou kook en tafeldek vermoeë verbloem in ‘n waas van alkohol.
Vrydag vat jy vir liefie na ‘n lekker vakansieplekkie toe vir die naweek. As dit ‘n plekkie is waar julle lanklaas of nog glad nie was nie, soveel te beter. As hulle swembaddens nog verhit ook is -bonus! Na julle Saterdagmore opgestaan het, neem jy vir liefie na die naaste Wimpy toe vir ‘n lekker ontbyt, en op pad terug koop jy vir haar daai skildery wat haar oog gevang het. As julle by die huis kom, hang jy die ding sommer vir haar op ook.
En dit is hoe jy die (amper) perfekte naweek bou!

Jaco
P.S. As dit nie was vir daai ding wat Vrydag gebeur het nie, en die lelike merk op my bakkie se windskerm as gevolg van die uiters slegte paaie in daai dorp, dan was dit die perfekte naweek. Liefie sal later vertel van daai ding wat Vrydag gebeur het, want dit kan nog enige kant toe gaan.
Twee vir die prys van een
February 14, 2008My pokkelliefielyfie,
Op hierdie dag, drie idilliese jare gelede
het jy die paadjie afgestap, antwoord op al my gebede
Op hierdie dag, dag van die valentyn
het ek geword beskermheer, van jou geluk en jou pyn
Op hierdie dag, opgetof in rooi
het die nuwe dag gebreek, die mantel van alleen afgegooi
Op hierdie dag het geliefdes met kennisgewing kort
In die gebanktes gesit, ooggetuies van hoe jy mevrou sou word.
Baie geluk met ons huweliksherdenking my lyfie, en baie dankie vir drie van die mees idilliese jare van my lewe.
God in sy almag het my ouers weggeneem, maar Hy het jou in hulle plek gelos. En as dominee my vandag weer moet vra, sal my antwoord steeds wees JA! JA! EENDUISEND MAAL JA!
******************************************************
En nou vir bietjie van jou eie mojo, want jy sê dit so mooi!
vir jou wil ek ‘n versie skryf
met iets uit die hart, iets om die lyf
iets van die stilte van die son wat sy kop in die more lig
en iets van die vreugde van die sterre onder die maan se brug
en iets van die rustigheid van die nag wat bo-oor ons bly
en iets van die vryheid van die wolke wat kom kuier by my
en iets van die verlange van die jakkals se roep
en iets van die hartseer van die uil op die stoep
en iets van die trane van die nag se dou
maak my verlange ‘n pad na jou
my gedagtes dwaal onsterflike paaie
hiernatoe en dan tot daar
en tog op die ou end
kom hul by mekaar
en sirkel om die spil van my bestaan
voor hulle jou toevou en wegvoer van my
sê hulle my waar ek jou kan kry
as die maan vol is
en die tyd verdwyn
daar waar die blinkste ster skyn
waar ek myself in jou verloor
en niks dieselfde is
sal jy in soete slaap gesus
in die arms van ‘n engel rus
met
die stilte van jou son
die vreugde van jou ster
die rustigheid van jou nag
die vryheid van jou wolke
die verlange van jou roep
die hartseer op jou stoep
en die trane van jou dou
daar eindig my pad . . . by jou
© KMaré
Jaco
As jy kon weet?
February 12, 2008Ek en liefie het die naweek die fliek The bucket list gaan kyk. Bucket list verwys na things to do before you kick the bucket. Die onderliggende tema is egter ‘n ernstige een, as jy die presiese dag en datum van jou afsterwe vooraf kon weet – sou jy wou weet? Of sou jy eerder dit ‘n verrassing wou hou? As jy more moes verneem dat jy ‘n terminale siekte het, hoe sou jy dit hanteer?
Probeer dit nou in konteks plaas van ons hedendaagse lewe. As ek my eie ouers as voorbeelde kan gebruik, wil ek soos my pa een more opstaan, die stort oopdraai en beswyk aan ‘n massiewe hartaanval, of wil ek soos my ma vir 5 jaar lank baklei teen die monster met die wete dat my tydjie kort is, en dat ek my sake in orde moet kry.
Die ding het nogals nie ‘n regte of verkeerde antwoord nie. Dit is so persoonlik as wat kan kom. Ek dink nie ek sou wou weet wat die dag van my afsterwe gaan wees nie, en daarom dit is my verantwoordelikheid om seker te maak dat my sake ten alle tye in orde is. Maar veronderstel ek word terminaal siek, die groot K, wat dan? Sonder dat jy daarna gevra het word jy nou ingelig jou lewensverwagting is 1 jaar, 6 maande, 3 maande wat ookal.
Hier sou ek graag dit my ma wou nadoen. In die laaste maande voor haar afsterwe het sy metodies al haar sake in orde gekry, seker gemaak al 3 haar kinders is versorg, selfs haar eie begrafnisbrief geskryf – kompleet met draers, liedjies alles!
Goed en wel, maar trek nou die skoen aan die ander voet. Gestel die terminaal siek persoon is een van jou geliefdes. Jy moet toekyk hoe daardie persoon daagliks bietjie vir bietjie meer van sy/haar waardigheid en lewenskwaliteit prysgee. Sal ek sterk genoeg kan wees? Was ek sterk genoeg toe ek daardie skoene moes volstaan? En as dit weer moet gebeur?
Die morele vraagstukke in die fliek het my ingewande lekker in ‘n knoop.
Jaco
P.S. Jammer hierdie possie is so bietjie onsamehangend. Dit is baie vroeg in die more (lees 01:30) en ek pen maar net die gedagtes soos hulle kom. Daarmee saam het ek geensins nog uitsluitsel oor die saak in my eie gemoed nie.
P.P.S. Op ‘n totaal ander onderwerp. As dit die regering se erns is om energie te bespaar, en hulle verkondig aan almal wat nog luister hoeveel krag gespaar kan word as ons elkeen net een gloeilamp in die huis met ‘n energiebesparende een vervang, hoekom is daar nog gewone gloeilampe op die winkelrakke? Hoekom word produksie op gewone gloeilampe nie gestaak en gefokus om net energiebespaarders te vervaardig teen billike pryse nie. Kort voor lank sal almal dan mos sulke gloeilampe in die huis hê. Of oorsimplifiseer ek nou weer die probleem?

Bygedra deur wosonki 
Bygedra deur wosonki
Bygedra deur wosonki 



