‘n Gedeelte van my dagtaak is die skep en onderhou van databasisse wat deel uitmaak van die reeks bouverwante kosteberamings sagteware pakette wat ons firma skryf en verskaf. Hierdie databasisse bevat formules wat nie veel verskil van die tipe wat jy byvoorbeeld in programme soos Excel sal gebruik nie. Dit laat ‘n bouer toe om slegs ‘n mate in te voer vir die taak of take wat uitgevoer moet word, en ons program sal die bouer voorsien van ‘n lys van al die nodige materiale en arbeid sowel as kostes daarvan wat nodig gaan wees om die taak uit te voer. Hetsy dit nou betonfondasie, mure bou, pleister, verf, plafonne of watter boutaak ook al mag wees.
Glad nie vuurpylwetenskap nie. En synde dat ek op die drempel staan om kosteberaming, projekbestuur en DIY my permante inkomste te maak, is hierdie inskrywing dalk ‘n interresante eksperiment in of ‘n meer kommersieele blog/webtuiste wat sulke inligting bevat dalk lewensvatbaar kan word. So hier is hy, sonder verdere verwyl.
Boumateriaal Beramings vir Beginners – Steenwerk
Nota 1: Die onderstaande sluit NIE materiaal en arbeid vir fondamente en afwerkings soos pleister in NIE
Nota 2: Hierdie is die ou “tried en tested” site manier van material uitwerk. Die wetenskaplike manier is effe meer ingewikkeld, maar werk byna op dieselfde hoeveelhede uit.
Om ‘n muur te bou gaan jy nodig hê:
Stene
Bousand
Sement
Steenwapening (Brickforce)
Arbeid
Begin deur die lengte en hoogte te neem van die muur wat jy wil bou. Maal die 2 mates met mekaar om die vierkante meters te bepaal
Stene: Kom ons aanvaar “gewone” oftewel imperial stene met mates van 222mm lank, 105mm breed en 73mm hoog.
Vir ‘n enkelmuur (halfsteenmuur) benodig jy 55 stene per vierkante meter. (die korrekte hoeveelhede is 52 maar vir stene laat ons altyd ongeveer 5% toe vir “wastage”)
Vir ‘n Dubbelmuur (eensteenmuur) benodig jy 110 stene per vierkante meter. (die korrekte hoeveelhede is 104 maar vir stene laat ons altyd ongeveer 5% toe vir “wastage”)
Maal nou die hoeveelheid stene per vierkante meter met die oppervlak van jou muur en voila! Jou steenhoeveelheid is bereken. Moenie te ver wegbêre nie, jy gaan hierdie hoeveelheid nou weer nodig kry.
‘n Paar feite en wenke oor stene:
- Die standaard eenheid vir die aankoop van stene is 1000. Dit kan per wipbakvragmotor, in palette van 500 of self met die hand vir klein hoeveelhede afgelewer word. Hoe kleiner hoeveelheid, hoe duurder betaal jy gewoonlik. Wanneer jy stene laat aflewer, is dit verkieslik om dit in palette te ontvang, op daardie manier kry jy die minste brekasie. Die vragmotor wat palette aflewer kan maksimum 16 pallette oftewel 8000 stene vervoer vir die perd en sleepwa model, en 8 palette oftewel 4000 stene vir die korter vastebak vragmotor.
- Wanneer jy ‘n dubbelmuur bou wat siersteen afwerking aan die een kant en pleister aan die ander kant het, onthou om die hoeveelheid stene soos hierbo bereken deur 2 te deel om te bepaal hoeveel sier- en pleisterstene jy gaan benodig. Sierstene is aansienlik duurder as pleisterstene, so jy wil nie meer koop as wat nodig is nie.
Sand en Sement
Jy benodig rofweg 1 kubieke meter sand en 8 sakkies sement om 1000 stene te lê. Neem dus die hoeveelheid stene soos bereken om gou die sand en sement te bereken. Bg berekening is geskoei op ‘n sement/sand mengsel van 1 deel sement:4 dele sand soos voorgeskryf deur die nasionale huisbouers registrasie raad.
‘n Paar feite en wenke oor sand en sement:
- 1 Kubieke meter sand = 16 boukruiwaens = 1tonner bakkie gelykvol gelaai
- 1 Sakkie sement = 0.033 kubieke meter
- 1 kruiwamaat sement = 2 sakkies. Dus in 1:4 mengsel moet jy 2 sakkies sement gebruik vir elke 4 kruiwaens sand
Steenbewapenening (brickforce)
Bouregulasies stipuleer dat daar steenwapening ten minste elke 4de laag ingesit moet word, afhangend van die tipe struktuur ens.
Neem die hoogte van jou muur in meter en deel dit deur 0.085 (Elke steenlaag is 85mm hoog)
Neem nou hierdie syfer en deel dit deur die aantal lae waarop steenwapening voorgeskryf word (bv 4) en maal dit met die lengte van jou muur om die totale lengte wapening benodig te bepaal.
Neem nou weer hierdie syfer en deel deur 20 om die aantal rolle wapening te bepaal. Onthou om te spesifiseer of die wapening vir ‘n enkel of dubbelmuur is.
Arbeid
Geen vaste reëls bestaan meer vir arbeid nie, en dit is gewoonlik maar ‘n onderhandelde besigheid. Vir beramings doeleindes kan gebruik gemaak word van dievolgende metode:
Basiese messelspan = 1 Steenleër en 2 Arbeiders en hulle kan ongeveer 700 pleisterstene of 500 sierstene per dag messel.
‘n Arbeider van die straat af word in Gauteng tussen R60 tot R100 per dag betaal en ‘n messelaar R150 tot R200 per dag
Deel die hoeveelheid stene wat gemessel moet word deur die 500 of 700 soos hierbo om die hoeveelheid dae te bepaal en maal dit met salaries van die messelspan om koste te bepaal.
Uitgewerkte Voorbeeld
Bou ‘n Dubbel Tuinmuur wat gepleiste gaan word 25 meter lank x 2 meter hoog nadat openinge vir hekke afgetrek is
Oppervlak van tuinmuur = 50 vierkante meter
Stene vir dubbelmuur = 50 x 110 = 5500
Sand = 5500stene/1000stene per kubieke meter sand = 5.5 kubieke meter (5.5 kubiek = 1 wipbakvrag)
Sement 5kubieke meter x 8 sakkies per kubiek = 40 sakkies
Steenwapening = 2meter hoog/0.085 = 24 lae (afgerond)/4 wapening elke 4de lag = 6 x 25meter lank = 150meter wapening/20meter per rol = 7.5 rolle. Rond af na 8 rolle
Arbeid 5500/700stene per dag = 8 dae (afgerond) x (180+80+80) = R2720 beraam
Lekker bou en kom wys die foto’s Maandag
Jaco.
P.S. Ek tag nou sommer almal in die algemeen om iets interresant van jou dagtaak te deel (as jy wil)

April 4, 2008 at 7:19 am |
Sjoe!! Thanks! en al wat Helge moet doen is ‘n 2steen-hoë raampie te bou vir die jaccuzzi se pomp, want die ‘bouer’ was obviously ‘n bietjie alkoholies ge-challenge die dag toe hy dit ge’bou’ het – en kyk, al staan daai ding in die vêrste hoek van die erf, ágter die lapa weggesteek, is daardie skewe pomp/filter een van die grootste irritasies in my lewe.
Hy gaan darem vir jou impressed wees as ek vir hom môre ‘n kosteberaming in die hand stop!! – en ons spaar op arbeid, want ek betaal ‘in kind’.
/me charge solank die digital se batterye
April 4, 2008 at 11:32 am |
EK kan koeke bak en respete uitwerk en souffle’s suskselvol maak, maar met bou sal ek maar vir jou bel of iemand kry. Dit is darem net te veel somme! Weet nou nog minder na ek jou post gelees het.
April 4, 2008 at 11:53 am |
Ja nee, ek stem met Rustig saam hier, smaak my ook ek sal jou maar bel as daar gebou moet raak, Jaco!
Die interessantste deel van my dag (werk???) is om jou blog te lees, noudat jy dit noem!
Ek wonder altyd oor daai ding, watter een van die twee stellings stem jy mee saam:
“n mens is baie gelukkig as jou hobby jou werk is, want dan voel dit nie soos werk nie”, of ‘dis nie goed om jou hobby werk te maak nie, want dan is dit werk en dus nie meer lekker nie’?
Lekker naweek julle!
April 4, 2008 at 2:54 pm |
Jaco, het jy magiese kragte, het jy ingezoem op my gedagtes of wat? Ons beplan om volgende maand te begin bou aan ‘n nuwe motorhuis. Sit nog en wonder waar om te begin en karbloems val die berekenings in my skoot! Baie, baie dankie…
April 5, 2008 at 11:25 am |
Jaco baie dankie vir hierdie inligting. Ek is altyd besig om te verander aan my plekkie. Hier bly altyd hope stene en sand oor na ek so projek aangepak het. Volgende keer gaan dit verseker beter gaan.
April 5, 2008 at 6:42 pm |
Om berekeninge kan doen is seker een deel, maar ek sal selfs dit eerder maar in jou bekwame hande los as dit kom by goed soos garages! Ek bou niks groter as ‘n braaiplekkie nie….
Maar nou weet ek waar om geholpe te raak sou dit noodsaaklik wees!
November 5, 2008 at 1:31 pm |
Kan u vir my advice:
Ek wil my eie stene maak. Hoeveel sakke sement Afrisam (50 kg) het ek bv nodig om 10 000 stene (superbricks) te maak. Hoeveel werkers sal ek nodig he?
Wag op u advies.
Dankie
November 6, 2008 at 8:31 am |
Willem,
Ek sou voorstel dat jy direk met die mense kontak maak wat steenmaakmasjiene verkoop. Volg hierdie skakel http://www.dme.co.za/ of gaan na google en doen ‘n soektog vir “brick making machines”