You’ve gotta be kidding!

May 27, 2008

 

Hierdie week is Nasionale Sanitasie en Higiëne Week. Julle maak seker ‘n grap?

Met Pretoria se strate wat knie-diep in die gemors lê? Die staking is verby en dienste het teruggekeer na normaal toe! Nê?

Is dit net ek?


The subscriber you have dialled . . .

May 25, 2008

Hierdie week gaan ‘n nagmerrie wees vir die wosonki’s, en ons gaan waarskynlik die arme blog totaal verwaarloos.

Maar ons sal weer terug wees sodra ons die nuutste stel uitdagings (wat insluit ‘n begrafnis, ‘n eksamen en ‘n drie-dag sakereis Kaap toe) die hoof gebied het.

Hoop julle week is meer ontspanne as ons s’n. Tot weersiens.

Jaco & Krista.


WTF?????????????

May 22, 2008

Eskom kondig aan dat daar nood loadshedding onbeplande onderhoud op die netwerk gaan plaasvind van vannaand (Donderdag) af. Nê? Laat ek net die p**ph*l-woord van my voorkop af vee.

As daar dan so ‘n groot tekort aan krag bestaan, hoekom is daar gerugte dat Eskom Duvha kragstasie in Witbank gaan toemaak/afskakel? Daar werk volgens die Eskom-website 900 mense daar. Het ons dan nie die krag nodig nie?

Kan iemand dit asb aan my verduidelik?

Krista


Aan die einde van die Reenboog

May 21, 2008

Ek en Lyfie het Vrydagaand bietjie uitgegaan vir so bietjie “retail therapy”. By die CD winkel het ons so bietjie vasgehaak en ‘n week se lone van die gemiddelde Suid Afrikaner aan musiek spandeer. Onder andere Koos Kombuis se nuwe CD Bloedrivier.

Koos was nog altyd ‘n ou wat bekend was vir sy sterk anti-apartheid, anti-Botha’s-sienings. Daarom is dit met effense skok dat ek na die lirieke op hierdie CD luister. Die man is kwaad verby, moerig, ontnugter. Amper soos die res van ons. Hy is dalk reg.

Ons reenboog is oorgeverf in monokleur-swart. Aan die punt daarvan nie ‘n pot goud nie, maar ‘n brandende buiteband. Die vullis wat onverwyder in die strate lê as gevolg van een of ander staking word weggewas met die bloed van plaasboere, vlugelinge uit ons buurlande en ander wetsgehoorsame burgers.

Ons hardverdiende belastinggeld word verkwis deur allerhande halfgebakte en ondeurdagte regerings “inisiatiewe”, oorsese reise en blinker rygoed vir ministers. Die res word gevat deur kapers en inbrekers. Ons regering het ‘n “absentee landlord” geword. Ek het vir julle ‘n nuwe, meer gepasde, leuse vir die landswapen: “All animals are equal but some animals are more equal than others” Julle het ‘n hele nasie, nee, die hele Suidelike deel van Afrika gefaal. Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde.

Mbeki en kie, ek soek my reenboog terug. My hoop. My lewe. My land

Jaco

P.S. Ek sal more weer OK wees. Ek is net so bietjie depressed. Die mengsel van verkouemedisyne en die beelde op TV en in die koerante het my so bietjie onkant gevang. Vir ‘n klein rukkie was ek terug in ‘n ander tyd, waar mense mekaar ook met buitebande verbrand en met pangas doodgekap het. My rowe moet net eers weer begin vorm. Ek sal rêrig more weer OK wees. Alles sal more weer OK wees


Tag. Die jaar toe ons gebore is.

May 20, 2008

Hierdie Tag aan ons gebring met die vriendelike samewerking van Roer

Die jaar toe ons gebore is . . . het die Vietnam oorlog geëindig,

en hierdie album is vrygestel.

(vir die mense van ‘n ander planeet af. Dit is Pink Floyd se Dark side of the moon. Een van rock se ware classics)

Die is een van die instrumentals van daai album af. Sit die luidsprekers lekker hard, die intro is awsome! Enjoy.

Jaco & Krista


Op Hierdie Dag

May 20, 2008

Vrydag 20 Mei 1983. Pretoria. Om 16:30 ruk ‘n massiewe ontploffing die spitstyd geharwar aan flarde. Die Kerkstraat-bom het so pas ontplof. Oorkant die pad van die voertuig waarin die bom was het ‘n jongerige paartjie een oomblik nog hand-aan-hand gestap, die volgende oomblik is hulle fisies deur die skokgolf opgetel en meters verder teen die sypaadjie geslinger, hulle lywe gepeper met skrapnel.

Hulle was van die gelukkiges weens die afstand wat hulle weg was van die ontploffing. Met sakdoeke het hulle die ergste bloeding gestop en met hulle eie voertuig na een van die naaste hospitale gery waar hulle behandeling kon ontvang.

Slegs ongeveer 3 km padlangs vanaf die hospitaal wag ‘n 9 jarige blondekop dogtertjie vir mamma en pappa om haar by ouma te kom haal waar sy soos elke middag na skool bly. Ouma woon gemaklik reg oorkant die skool, sien. Maar mamma en pappa is laat vanmiddag. Niemand is egter vreeslik bekommerd nie, dit is immers Vrydagmiddag en verkeer is seker maar moeilik. Of dalk is hulle net gou winkels toe. Dit is heelwat later dat ouma se telefoon lui. Pappa bel van die hospitaal af (dit is lank voor selfone) en verduidelik vir ouma dat hulle ok is en net die beseerdes help aanry hospitale toe. Dit is toe nie die hele waarheid nie. Mamma en pappa lê soos baie ander op hospitaalbeddens in die gange en wag om gehelp te word.

Ouma besluit om die doggie solank te laat eet terwyl mamma en pappa by die hospitaal behandel word – die enigste normale aksie in ‘n abnormale situasie. Eers heelwat later word sy vertel dat mamma en pappa seergekry het. Oupa en oom het die volgende dag die motor by die hospitaal gaan haal om die bloedbevlekte bekleedsel van die motor skoon te was. Pappa is eers etlike dae later ontslaan, mamma ‘n maand later.

In die gemoed van ‘n klein dogtertjie is die assosiasie egter reeds geskep, alles as gevolg van een traumatiese gebeurtenis. Vir die volgende 25 jaar word kos - oftewel die aksie om te eet - daardie dogtertjie se meganisme om te deel met enige stresvolle situasie - ‘n vertroosting.

Dit is soveel makliker om die monster te baklei as jy weet wie en wat hy is.

Jaco


Die aand wat amper nie was nie

May 18, 2008

Voor ons op die skouer geklop word met die woorde “julle is getag”, laat ons dit maar agter die rug kry.

Die was die dag van die matriekafskeid. Nie die rok of die bypassende strikdas en cummerband was klaar nie. Met ‘n oordentlike skoot rou paniek, baie trane, feitlik geen budget en ‘n goeie maat geluk en ‘n vasberade (skoon)ma is ‘n ander rok bekom en ons was betyds vir die geleentheid. Vir ons het dit gevoel asof die aand ‘n absolute disaster was.

Vandag amper 17 jaar later sien ons weer dié inskrywing agterop die foto toe ons hom wil skandeer.

“20 September 1991
Actually my eyes are blue

He said: it’s like the sky above reflected in my heart “

Ek ek besef weereens: vandag se disasters is more se staaltjies. Die lewe gaan oor gedeelde ervarings, en saam is daar niks wat ons kan breek nie.

P.S. Ek dink dit was ons derde date.

Jaco


Killer Biscuits?

May 16, 2008

Wat ‘n week! Praat van emosionele wipwaentjie (dit klink nou alteveel na Wippie se kar) kom ons hou eerder maar by rollercoaster. Vir oulaas is Lyfie gou Pretoria skougronde toe om haar eksamen te gaan probeer deurkom op blinde geluk en ‘n paar “spot” vrae, en ons senior progammeerder het gister besluit om te bedank (terloops enige gesoute Delphi programmeerders daarbuite wat soek om ‘n ektra geldjie te maak?)

Maar hey, glimlag ‘n bietjie. Dis Vrydag, en nie ‘n oomblik te vroeg nie! Lees die beriggie hieronder en “crack a smile” saam met my.

Jaco


I ♥ how you ♥ me

May 15, 2008

Ek dink dis waaroor ek die malste is van jou, my lief: ek is absoluut gaande oor die manier waarop jy my liefhet.

Ons is al amper 17 jaar bymekaar – partykeer voel dit soos ‘n dag, ander dae soos ‘n leeftyd. Ons is nou 3 van die 17 jaar getroud, en ek kan nie glo hoeveel ons verhouding verander het nie. Ons het heeltemal weg beweeg van “ek” na “ons” sonder om dit eers te beplan (en ek – control freak, onafhanklik, eiewys – mind nie eers nie!).

Ek kon nie dink dat daar iewers iemand op hierdie aarde sou wees wat my so goed sou ken en verstaan nie. Iemand wat tot in my binneste kan sien en nie al gillend voet in die wind slaan nie. Iemand wat my liefhet soos ek is en nie omgee dat ek NIE ‘n size 34, blond, obsessive-compulsive-cleaner is nie.

Jy, my lief, is uniek. Jy is ‘n enigma. Jy’s beter as James Bond. Jy kan meer doen as MacGuyver. Jy’s meer effektief as die A-Team. BAIE meer secretive as Magnum PI. Dodeliker as Airwolf. Funnier as Johan van der Walt, Barry Hilton & Casper de Vries saam. Sexier as Bruce Willis.

My hartjie smelt soos warm tjoklit wanneer ons in ‘n mall loop en jy my hand soek. Wanneer jy jou hand op my been sit in ‘n restaurant. Wanneer jy bereid is om 4:45 op te staan om my werk toe te vat nadat ek my rug seer gemaak het en sou sukkel om te bestuur – en die aand weer gaan haal. Wanneer jy jou paaseiers met my deel omdat dit “goed is vir rugpyn”. Wanneer jy depressed is omdat nog ‘n baba-kans verby is wanneer die bitch met die rooi Harley kom kuier.

Ek wens ek kon vir jou meer gee.

Krista


Sies Pretoria!

May 14, 2008

Die Tswane metroraad het gister ereburgerskap van Pretoria aan Madiba oorhandig. Ook maar goed hulle het besluit om die oorhandiging in Houghton te doen, want geen selfrespekterende mens wil dit naby ons rommelbesaaide stad waag nie. Vullis in die meeste strate is meer as ‘n week laas verwyder, en mens loop letterlik kniediep in die gemors op party plekke. As ek lid van die metroraad was, skaam ek my oë uit my kop uit.

Ek was eintlik van plan om ‘n lang relaas te skryf oor vakbonde en massa aksie ensomeer, maar ek het besluit om my te bepaal by goed waarvan ek iets weet.

Miskien net dit. Die onlangse gebeure by Pilansberg het bewys dat Suid Afrika nog myle verwyder is van ware demokrasie, en die rede daarvoor is weereens onderstreep deur die munisipale werkers unie staking in Pretoria.

Respek.

Voordat Suid Afrikaners nie respek leer nie, gaan ons nie êrens kom nie.

Jaco