Hoekom lees jy?

May 4, 2008

” Vir die eerste keer het ek soos ‘n indringer gevoel, ‘n sieklike voyeur wat deur die bure se vensters loer . . .” So skryf die Amerikaanse joernalis Jim Hooper in sy boek oor Koevoet kort nadat twee lede van Koevoet wat Jim geken het in ‘n Swapo hinderlaag gesterf het.

George Maru sê in hierdie skrywe “Die vraag oor waarom ek blog het my wel aan ‘n ander, verwante vraag laat dink. Hoekom lees jy hier?” Onwillekeurig is die eerste ding wat toe by my opkom juis bogenoemde aanhaling van Jim Hooper.

Daar is baie soorte blogs, sport, aktuele sake, humor ensomeer. Die groep waaronder ons blog waarskynlik die beste sorteer is persoonlike blogs, oftewel dan dagboeke van dinge in ons dag-tot-dag bestaan wat ons bereid is om met vreemdelinge te deel. Dit is slegs hierdie segment van die blogosfeer waarop ek nou wil fokus. Nou wonder ek ook, wat maak dat jy hier lees? Wat maak dat ek iemand anders se dag-tot-dag bestaan sit en lees sonder dat ek die persoon al ooit met ‘n oog gesien het?

Kom ek maak ‘n onderskeid tussen 2 tipes leser. Die eerste tipe is die persoon wat iets op ‘n vreemdeling se blog lees wat tot hom/haar spreek en dan ‘n kommentaar los. Deur kommentaar te lewer verklaar die leser eerstens sy/haar teenwoordigheid en tweedens sy/haar beskikbaarheid om ‘n virtuele interaksie aan te knoop.
Die tweede tipe leser is die persoon wat naas sy/haar IP adres en/of ‘n trefslag op een of ander teller geen teken laat dat hy/sy daar was nie. Ek is ook dikwels skuldig hieraan.

Vraag: as jy herhaaldelik die inhoud van ‘n blog lees sonder om kommentaar te los, is jy ‘n voyeur, is jy net bleddie nuuskierig, of maak jy jouself soos ek wys dat jy nie wil betrokke raak/inmeng/steur nie?

Jaco