Versigtig waarvoor jy wens . . .
May 7, 2008. . . jy mag dit dalk net kry. Ons spreek nou al geruime tyd ons wens hier uit dat ons eendag wil Kaap toe verhuis om nader aan die beskawing en verder van die rotresies te gaan bly.
Met dit in gedagte het Krista aansoek gedoen vir ‘n pos in Somerset Wes, letterlik om die hoek en in dieselfde kompleks as my huidige hoofkantoor en teen Gauteng salaris ook nog. Binne enkele ure het die firma terug laat weet hulle stel belang en sy moet kom vir ‘n onderhoud. Na heelwat heen en weer het die firma besluit om tog maar ‘n telefoniese onderhoud toe te staan instede daarvan dat Krista soontoe vlieg. Die onderhoud was gistermiddag. Hulle stel steeds belang.
Eendag het nou skielik baie nader gekom.
Ons is bang. Baie bang. Dit voel vir my soos emigreer. As daardie foonoproep kom om te sê Krista was die suksesvolle applikant, wat maak ons dan? Bly hier waar ons gemaklik is, waar ons mense is? Of gaan maak ‘n nuwe lewe in die skaduwee van die Helderberg?
Het ek al genoem dat ek moeilik ontwortel?
Jaco
Posted by wosonki