Vrydag 20 Mei 1983. Pretoria. Om 16:30 ruk ‘n massiewe ontploffing die spitstyd geharwar aan flarde. Die Kerkstraat-bom het so pas ontplof. Oorkant die pad van die voertuig waarin die bom was het ‘n jongerige paartjie een oomblik nog hand-aan-hand gestap, die volgende oomblik is hulle fisies deur die skokgolf opgetel en meters verder teen die sypaadjie geslinger, hulle lywe gepeper met skrapnel.
Hulle was van die gelukkiges weens die afstand wat hulle weg was van die ontploffing. Met sakdoeke het hulle die ergste bloeding gestop en met hulle eie voertuig na een van die naaste hospitale gery waar hulle behandeling kon ontvang.
Slegs ongeveer 3 km padlangs vanaf die hospitaal wag ‘n 9 jarige blondekop dogtertjie vir mamma en pappa om haar by ouma te kom haal waar sy soos elke middag na skool bly. Ouma woon gemaklik reg oorkant die skool, sien. Maar mamma en pappa is laat vanmiddag. Niemand is egter vreeslik bekommerd nie, dit is immers Vrydagmiddag en verkeer is seker maar moeilik. Of dalk is hulle net gou winkels toe. Dit is heelwat later dat ouma se telefoon lui. Pappa bel van die hospitaal af (dit is lank voor selfone) en verduidelik vir ouma dat hulle ok is en net die beseerdes help aanry hospitale toe. Dit is toe nie die hele waarheid nie. Mamma en pappa lê soos baie ander op hospitaalbeddens in die gange en wag om gehelp te word.
Ouma besluit om die doggie solank te laat eet terwyl mamma en pappa by die hospitaal behandel word – die enigste normale aksie in ‘n abnormale situasie. Eers heelwat later word sy vertel dat mamma en pappa seergekry het. Oupa en oom het die volgende dag die motor by die hospitaal gaan haal om die bloedbevlekte bekleedsel van die motor skoon te was. Pappa is eers etlike dae later ontslaan, mamma ‘n maand later.
In die gemoed van ‘n klein dogtertjie is die assosiasie egter reeds geskep, alles as gevolg van een traumatiese gebeurtenis. Vir die volgende 25 jaar word kos - oftewel die aksie om te eet - daardie dogtertjie se meganisme om te deel met enige stresvolle situasie - ‘n vertroosting.
Dit is soveel makliker om die monster te baklei as jy weet wie en wat hy is.
You are currently browsing the Wosonki
weblog archives for the day Tuesday, May 20th, 2008.
Ons Motto
"Remember that the most difficult tasks are consummated, not by a single explosive burst of energy or effort, but by the constant daily application of the best you have within you."