Op Hierdie Dag

Vrydag 20 Mei 1983. Pretoria. Om 16:30 ruk ‘n massiewe ontploffing die spitstyd geharwar aan flarde. Die Kerkstraat-bom het so pas ontplof. Oorkant die pad van die voertuig waarin die bom was het ‘n jongerige paartjie een oomblik nog hand-aan-hand gestap, die volgende oomblik is hulle fisies deur die skokgolf opgetel en meters verder teen die sypaadjie geslinger, hulle lywe gepeper met skrapnel.

Hulle was van die gelukkiges weens die afstand wat hulle weg was van die ontploffing. Met sakdoeke het hulle die ergste bloeding gestop en met hulle eie voertuig na een van die naaste hospitale gery waar hulle behandeling kon ontvang.

Slegs ongeveer 3 km padlangs vanaf die hospitaal wag ‘n 9 jarige blondekop dogtertjie vir mamma en pappa om haar by ouma te kom haal waar sy soos elke middag na skool bly. Ouma woon gemaklik reg oorkant die skool, sien. Maar mamma en pappa is laat vanmiddag. Niemand is egter vreeslik bekommerd nie, dit is immers Vrydagmiddag en verkeer is seker maar moeilik. Of dalk is hulle net gou winkels toe. Dit is heelwat later dat ouma se telefoon lui. Pappa bel van die hospitaal af (dit is lank voor selfone) en verduidelik vir ouma dat hulle ok is en net die beseerdes help aanry hospitale toe. Dit is toe nie die hele waarheid nie. Mamma en pappa lê soos baie ander op hospitaalbeddens in die gange en wag om gehelp te word.

Ouma besluit om die doggie solank te laat eet terwyl mamma en pappa by die hospitaal behandel word – die enigste normale aksie in ‘n abnormale situasie. Eers heelwat later word sy vertel dat mamma en pappa seergekry het. Oupa en oom het die volgende dag die motor by die hospitaal gaan haal om die bloedbevlekte bekleedsel van die motor skoon te was. Pappa is eers etlike dae later ontslaan, mamma ‘n maand later.

In die gemoed van ‘n klein dogtertjie is die assosiasie egter reeds geskep, alles as gevolg van een traumatiese gebeurtenis. Vir die volgende 25 jaar word kos - oftewel die aksie om te eet - daardie dogtertjie se meganisme om te deel met enige stresvolle situasie - ‘n vertroosting.

Dit is soveel makliker om die monster te baklei as jy weet wie en wat hy is.

Jaco

11 Responses to “Op Hierdie Dag”

  1. BB Says:

    Ek het daardie middag by die Capital Park busshalte gesit op Kerkplein toe ek die ‘aardbewing’ voel. Ek kan onthou dat mense saamgedrom het by Oom Paul en sommiges halfpad teen hom opgeklouter het om weswaarts te staar. Baie mense het soontoe begin hardloop - die gevangenisdiens se amtenare het o.a in die Poyntons gewerk as ek reg onthou…
    My hart huil nou net so ‘n bietjie - mens besef nooit werklik die volle impak van so ‘n situasie nie - dankie vir die seer-seer eye-opener.
    Ek is só lief vir julle tweetjies!!

  2. Wipneus! Says:

    Onthou ook daardie dag, was ‘n student. Sou dit liewer wou vergeet, maar die tipe van dinge vergeet jy nooit.

  3. demoerin Says:

    Dit is sad, letsels van gebeure bly langer met enigeen van ons as enige ander herinneringe. Die snaakste klein dingetjie kan jou aan iemand od iets herinner, en die herinneringe is nie altyd lekker nie. Letsels van trauma wat jy deurgaan bly baie lank, vat nou bv die Vietnam-veterane. Iets soos ‘n bom plant, iemand skiet of selfs mense met klippe bestook, veroorsaak baie meer letsels vir ander mense as net die persoon tennoor wie dit gemik is. Ons moet ons aksies goed deurdink!

  4. Pikkelik Says:

    Ek onthou, ek kan nie sê ek wil onthou nie, maar ek onthou! Ons het in daai ontploffing twee familielede verloor. Was ‘n moeilike, moeilike tyd.

  5. Dellie Says:

    Ek onthou dit, want in Januarie van daardie jaar is my Mammie oorlede. Ek het toe net by my broer hulle in Natal gaan bly. Dit was nie ‘n goeie jaar nie.

  6. Koeksuster Says:

    Ons was so ver verwyder van die regte gebeure in die Kaap, dat die gebeurtenis n van belang is, maar die assosiasie ontbreek, hartseer ne. Almal in dieselfde land en tog …

    Die troos soek in kos is maar n coping mechanism tot n mens verstaan waar dit vandaan kom en dan met die oorsaak deel. Snaaks hoe ons mense nodig het om n “vashou plekkie” te he om aan te gaan!

  7. Paula Says:

    Dit is baie hartseer.
    My man was in die gebou en het die ontploffing met ‘n paar minute gemis .. anders was hy ook een van die slagoffers. Mag God al die slagoffers en hulle families bystaan wat elke jaar die seer moet onthou.

  8. riaanoosthuysen Says:

    Ek kan die dag onthou maar het niemand geken wat daardeur geraak is nie. Snaaks na soveel jaar om in aanraking met mense te kom wat geraak is.

  9. Adrie Says:

    Op hierdie dag . . . kon ek nog nie eers praat nie.

    Ek dink ek het net een artikel oor die kerkstraat bom gelees, baie jare terug. Dit was die deel van die geskiedenis wat vinnig onder die mat ingevee is. Nooit op skool daarvan gehoor nie.

    Jaco, ek het hierdie inskrywing insigewend gevind. Dit het iets in my agterkop baie diep weggesteek ‘n werklikheid gemaak.

  10. sonkind Says:

    Jaco, dis ‘n diep inskrywing hierdie en dit raak elkeen van ons op ‘n ander manier, selfs al het dit ons nie fisies deur die bomontploffing geraak nie. ‘n Mens se onderbewussyn is magtiger as wat mens maar ooit sal kon raai.

    Ek het al so baie gewonder hoeveel letsels dra my kinders met hulle saam oor iets wat ek dalk onwetend in hulle lewe laat gebeur het.

  11. Shalom « Dorings en soms Rose Says:

    [...] May 21, 2008 Ek wil iets aanroer wat my al lank pla.  In ‘n mate sluit dit aan by Roer en Wosonki.  [...]

Leave a Reply