Aan die einde van die Reenboog

May 21, 2008

Ek en Lyfie het Vrydagaand bietjie uitgegaan vir so bietjie “retail therapy”. By die CD winkel het ons so bietjie vasgehaak en ‘n week se lone van die gemiddelde Suid Afrikaner aan musiek spandeer. Onder andere Koos Kombuis se nuwe CD Bloedrivier.

Koos was nog altyd ‘n ou wat bekend was vir sy sterk anti-apartheid, anti-Botha’s-sienings. Daarom is dit met effense skok dat ek na die lirieke op hierdie CD luister. Die man is kwaad verby, moerig, ontnugter. Amper soos die res van ons. Hy is dalk reg.

Ons reenboog is oorgeverf in monokleur-swart. Aan die punt daarvan nie ‘n pot goud nie, maar ‘n brandende buiteband. Die vullis wat onverwyder in die strate lê as gevolg van een of ander staking word weggewas met die bloed van plaasboere, vlugelinge uit ons buurlande en ander wetsgehoorsame burgers.

Ons hardverdiende belastinggeld word verkwis deur allerhande halfgebakte en ondeurdagte regerings “inisiatiewe”, oorsese reise en blinker rygoed vir ministers. Die res word gevat deur kapers en inbrekers. Ons regering het ‘n “absentee landlord” geword. Ek het vir julle ‘n nuwe, meer gepasde, leuse vir die landswapen: “All animals are equal but some animals are more equal than others” Julle het ‘n hele nasie, nee, die hele Suidelike deel van Afrika gefaal. Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde.

Mbeki en kie, ek soek my reenboog terug. My hoop. My lewe. My land

Jaco

P.S. Ek sal more weer OK wees. Ek is net so bietjie depressed. Die mengsel van verkouemedisyne en die beelde op TV en in die koerante het my so bietjie onkant gevang. Vir ‘n klein rukkie was ek terug in ‘n ander tyd, waar mense mekaar ook met buitebande verbrand en met pangas doodgekap het. My rowe moet net eers weer begin vorm. Ek sal rêrig more weer OK wees. Alles sal more weer OK wees