Aan die einde van die Reenboog
Ek en Lyfie het Vrydagaand bietjie uitgegaan vir so bietjie “retail therapy”. By die CD winkel het ons so bietjie vasgehaak en ‘n week se lone van die gemiddelde Suid Afrikaner aan musiek spandeer. Onder andere Koos Kombuis se nuwe CD Bloedrivier.
Koos was nog altyd ‘n ou wat bekend was vir sy sterk anti-apartheid, anti-Botha’s-sienings. Daarom is dit met effense skok dat ek na die lirieke op hierdie CD luister. Die man is kwaad verby, moerig, ontnugter. Amper soos die res van ons. Hy is dalk reg.
Ons reenboog is oorgeverf in monokleur-swart. Aan die punt daarvan nie ‘n pot goud nie, maar ‘n brandende buiteband. Die vullis wat onverwyder in die strate lê as gevolg van een of ander staking word weggewas met die bloed van plaasboere, vlugelinge uit ons buurlande en ander wetsgehoorsame burgers.
Ons hardverdiende belastinggeld word verkwis deur allerhande halfgebakte en ondeurdagte regerings “inisiatiewe”, oorsese reise en blinker rygoed vir ministers. Die res word gevat deur kapers en inbrekers. Ons regering het ‘n “absentee landlord” geword. Ek het vir julle ‘n nuwe, meer gepasde, leuse vir die landswapen: “All animals are equal but some animals are more equal than others” Julle het ‘n hele nasie, nee, die hele Suidelike deel van Afrika gefaal. Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde.
Mbeki en kie, ek soek my reenboog terug. My hoop. My lewe. My land
Jaco
P.S. Ek sal more weer OK wees. Ek is net so bietjie depressed. Die mengsel van verkouemedisyne en die beelde op TV en in die koerante het my so bietjie onkant gevang. Vir ‘n klein rukkie was ek terug in ‘n ander tyd, waar mense mekaar ook met buitebande verbrand en met pangas doodgekap het. My rowe moet net eers weer begin vorm. Ek sal rêrig more weer OK wees. Alles sal more weer OK wees
May 21, 2008 at 10:03 pm
Sterkte, Hoop ‘n goei nagrus bring weer ‘n silwer rand terug
May 21, 2008 at 10:28 pm
Jaco ‘n baie goeie skrywe, wat ons almal se gevoelens weerspieël.
Ek soek ook my reënboog terug. (dis vir my ‘n mooi sin)
Môre sal jy beter wees, ons mense gaan lê mos nie maklik nie, ons staan altyd weer op.
Sterkte ook met die verkoue
May 22, 2008 at 7:08 am
Strekte Jaco, hoop jy voel stukke beter.
Soos jy en Riaan noem ” …. ek soek my reenboog terug” Dis van om mal te word.
May 22, 2008 at 7:09 am
Hoe het Emil dit gister so mooi gestel? “I need a break from South Africa”. Gaan lees hom gerus : http://www.emiljung.co.za.
“Gee my die reënboog terug…”
May 22, 2008 at 7:09 am
Sorryyyyyyyyyyyyyyy bedoel Wipneus!!
May 22, 2008 at 8:13 am
Het nie die CD, maar klink soos iets wat ek moet aanskaf. Ek voel soos jy.
May 22, 2008 at 9:07 am
Toe ek die prentjie sien van die brandende man het dit ook herinneringe terug gebring. Mens hoop so dat seker dinge nooit weer sal gebeur nie.
Bietjie warm brandwyn en Jamaica gemmer en disprin is goed vir verkoue.
May 22, 2008 at 9:37 am
BB, thanx vir die leen
Roer, kry maar daai CD, dit is briljant. Baie kwaad maar briljant
May 22, 2008 at 10:05 am
Tot onlangs toe, ek wil amper sê 10 dae terug het ek nog iewers gecomment dat hierdie my land is en dat ek nie gaan trek nie. O what a fool I am…. Gisteraand sit ek en Mynick toe en gesels, en ons wonder, dit wat hulle nog nie by ons gesteel het nie, is die bank s’n en die res sal binnekort seker nog verbrand word ook…
May 22, 2008 at 10:39 am
Stem, wil hê hulle moet nou ook my stukkie reënboog teruggee….of begin deliver op die leë beloftes wat aan die einde van die reënboog voor almal se oë gedangle word!
May 22, 2008 at 11:06 am
Ek dink ons almal gaan maar hierdeur.
Sterkte, mag jy gou weer positief voel!
May 22, 2008 at 12:06 pm
Ek is mal oor ou Koos! Ek sal nou maar laat iemand die CD vir my pos hier na die Ooste! Dit wat jy in jou possie beskryf is absoluut hoe die merderheid voel…
NS: dankie vir jou antwoord op my vraag
May 22, 2008 at 12:51 pm
Ek koop elke maand ‘ n cd vir my, soms twee, omdat ek nie tv kyk nie, lè ek rustig in die aande en luister cd’s nuwe, oues, maak so beurte, kan vir ure aaneen lè en cd’s luister terwyl ek soms lees of sommer net lè!!
May 22, 2008 at 1:02 pm
Jy verwoord baie van my eie frustrasies. Ek wil ook die reënboog terug hê…
May 22, 2008 at 4:08 pm
Ek sal dit waardeer as die “deployment” nou wil gebeur sodat ek my man kan terug kry. Al wat hy wil doen is om die storie te gaan oplos en dis al waarin hy kan dink - ek dink diep in sy hart sien hy ook al die walglike goed wat ons belowe is NOOIT weer sal gebeur nie. Ek is gefrustreerd oor hy gefrustreerd is oor ons reenboog op dieselle plek is as Jaco s’n.
May 22, 2008 at 8:09 pm
Jy praat die waarheid, maar ek sien alles nog deur ‘n baie rooskleurige bril. Sal seker spoedig terug aarde toe kom, maar damn! vir nou is ek histeries gelukkig om in my eie land te wees.
May 22, 2008 at 11:00 pm
Daai is een enorme stuk Africana, daai CD van Koos. Ek het hierdie stuk by bosparra geskryf (http://www.bosparra.com/uit-die-donker-put-%e2%80%93-a-momentary-lapse-of-reason) met die bottel Pinot Noir en Koos kliphard oor die luisprekers.
Dit is goed om so ‘n bietjie melancholies te wees - dis ‘n terugkeer in die self vir ondersoek. Ek het so ‘n bietjie daaroor geskryf voordat die “donker” stuk by bosparra verskyn het. Dalk as jy daar, maar hier is dit weer: http://emiljung.co.za/?p=271
Ek sien uit na hoe jy anderkant van hierdie gevoel skryf.
En ja, die reën moet nou eindig dat ons die reënboog weer kan sien.