Logostieke nagmerrie

Junie 30, 2008

Wosonki en kie gaan maar bitterlik stil wees met rukke so oor die volgende paar weke. Ons lewens is op hierdie stadium ‘n logostieke nagmerrie, en ons bankrekening is tot rampgebied verklaar.

Dit is tog snaaks hoe al die besittings wat jy met soveel sorg en ywer versamel somtyds die vermoë het om jou lewe in ‘n nagmerrie te verander sodra die delikate balans versteur word.

Laasweek se Nelspruit uitstappie, en meer spesifiek die ontydige en onbeplande ontmoeting met die voorkant van ‘n bakkie het die balans van ons bestaan versteur, en nou is die hel los. Die bakkie moet gediens word voor ons met vakansie gaan, die kar se versekeringseis moet afgehandel word sodat die kar herstel kan word terwyl ons met die bakkie op vakansie is, maar tot ons vakansie begin het ons nog albei voertuie nodig.  Muffin die resiesbulldog het haarself beseer en moes vanmore in onderstepoort opgeneem word vir ‘n klein operasie. My inboksie loop oor van sakies wat my aandag verg, skoonma hulle is weg see toe met vakansie en ons sit met die hele huishouding. Die baas probeer sy bes om my so te oorlaai met werk dat ek nie kan verlof neem nie, my glyconutrients word more afgelewer en moet getoets en betaal word, . . . (diep sug) . . .  en al waaraan ek kan dink is dat daar nog net 5 dae oor is voor ons verlof begin.

Derhalwe skuld ek onder andere dievolgende mense verskonings

Chaos – sorry. Ek ignoreer jou nie, ek wil baie graag met jou notas vergelyk. Miskien is dit weer tyd vir ‘n ou brekfissie of so?

Wipneus en Teddy, baie lekker om julle te ontmoet Saterdag. Anja en Didi, Koeks en Johan – goed om julle weer te sien. BB, jou lyrics is steeds amazing. Moenie moed verloor nie, onthou die crowd was nou nie wat jy kan reken as ideaal nie, but you will get there. Jammer ek was op my eie planeet. Ek skuld julle and I will make it up to you.

Jaco


. . . Nelspruit’s a bummer . . .

Junie 26, 2008

%W#!$*!@^%#$!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Lyfie was vroeg vanoggend in ‘n ligte fender-bender betrokke in Nelspruit. Nie veel skade nie (dis nou op Lyfie), maar Koos het bietjie seer gekry. Hy is besig om die wheel-strut en bande laat vervang en R2000 later behoort hy reisvaardig genoeg te wees om by die huis te kom.

Ek vermoed hy was bietjie bang om my te bel en te vertel daarvan. Of miskien was hy verlig dat hy so vêr is en dus buite bereik . . . :wink:

Maar belangrikste van alles is dat Lyfie veilig is, en Lyfie is oppad huis toe. EN dis nog net 1 week voor ons verlof begin! Jiiiiiiiiiiippiiiiiiiiiiiieeeeeeeeeeeeeee! :grin:

Krista


. . . pausing . . .

Junie 25, 2008

 

Jaco is in die Laeveld op training en is eers Vrydag terug. Intussen is dit ‘n malhuis by die werk – dit hou net nie op nie.

So as julle nie veel van ons hoor tot volgende week nie, moenie paniek nie, ons probeer net ons koppe bo die bruin spul #$% hou . . .

Miskien kan julle intussen help dink: ons soek idees vir ‘n besighed om na-uurs by die huis te begin. Dit kan klein begin, maar moet die potensiaal hê om te groei. Help asseblief? (Ons kan altyd onderhandel om tantieme te betaal vir ‘n idee wat werk . . .) :wink:

 

Krista


Tequila, Takuzza, Te jammer

Junie 23, 2008

Die storie begin etlike jare gelede, toe ons nog in ons prille jeug was en van brieke daar geen sprake was nie. Dit was ‘n Saterdag, en alhoewel dit in die middel van die winter was, was dit lekker warm op Zeerust in die Marico distrik. Ons het pas op die dorp aangekom uit Pretoria uit, op pad na ‘n familie geselligheid. Oom Johan (oupa Jôhnie vir ons) en ouma Hester (Vaalvrou waar sy ons nie kon hoor nie) vier hulle 50ste huweliksherdenking in die landbousaal op die die dorp en die hele familie is daar.

Nou kyk, in die Marico is dit glad nie ongekend dat so ‘n ou geselligheidjie sommer maklik vir ‘n hele naweek kan aanhou nie, en innerlike versterking is dikwels al wat jou lewendig deur so besigheid kry, derhalwe was ons eerste stop toe ons die dorp inry natuurlik die drankwinkel. Of noodapteek as jy ‘n ding dan nou nie so blatant op sy naam wil noem nie.

Ewenwel, dit word wyd verkondig dat ‘n mens nie moet kruideniersware gaan koop as jy honger is nie, want dan word jou inkope as’t ware deur jou maag gelei. Nou uit bittere ondervinding (verskeie kere) kan ek nou ook getuig dat ‘n mens nie by die noodapteek moet aandoen as jy dors het nie. En daai dag was ons dors . . .

In die skemerdonkerte daar binne in die winkeltjie loop ons onself toe waaragtig vas in ‘n ou kennis van ons by name Olmeca. In daai jare was ons Mexikaanse pêl maar ‘n “petty thief” en sy borgtog glad nie te buitensporig nie, en synde dat ons begroting maar skraps is, vat dit nie veel beraadslaging gevat om hom van sy uitkykpunt op die boonste rak te bevry nie. Ek moes toe al geweet het dat hier moeilikheid kom, maar op vroeg-in-die-twintig is jy mos bulletproof.

Om ‘n lang storie kort te maak, daai aand is die eerste en enigste keer dat ek my liewe swaer se geselskap vir meer as 10 minute kon uitstaan. Ek het ook nie geweet my klein sussie kan so dors word nie! Maar dit is eers veel later wat die werklike sports begin. Aanvanklik was ek baie trots op my besluit om liewer by die gastehuis ongeveer 600 meter van die saal af te oornag, eerder as om nog die stuk pad plaas toe aan te durf. By ons kamer aangekom het ek die twee draaiende katels so rukkie staan en beskou, en besluit dat vir een aand kan ons maar op aparte bedjies slaap. Daar is geen manier wat ek die goed gevang kan kry om hulle teen mekaar te skuiwe nie. Toe my katel weer verby gesirkel kom, toe is ek op hom. Ek het so deur die slaapnewels gesien Lyfie het haar kateltjie darem ook gevang.

Nie te lank daarna nie word ek wakker van iets wat klink soos ‘n baie dorstige kameel in die badkamer. Met baie moeite kon ek my een ooglid oopforseer, net om te sien dat dit net Lyfie is wat die kouewater kraan met mag en mening aanval. Wyl ek toe wakker is, dink ek dit toe ‘n goeie plan om maar dieselfde te doen, synde dat ek darem maar ongelooflik dors is vir iemand wat so baie vloeistof aanboord geneem het. Net na ek weer my lê gekry het, begin Lyfie uit haar hoek kla dat die goeters haar byt. Ons het naderhand die ligte aan, maar sien g’n niks van die goeters wat haar so byt nie. Uit pure desperaatheid ruil ons beddens, maar steeds kla sy die goeters byt haar. Sy het opgehou kla nadat ek histeries begin giggel het, en gevra het of Olmeca iets daarmee te doen het.

Skaars het ek ingesluimer of ek word wakker van die stemmetjie in die donker. Liefie, liefie….lieeeeefieeee. Huh!? is omtrent al wat ek deur my droeë keel kon forseer. Aag wil jy nie die Coke in die kar gaan haal nie, ek is nou vreeslik dors en die kraanwater smaak sleg, pleit sy uit die donker. Hoe kan ‘n mens dan nou so stemmetjie weier, en met net ‘n kort rugbybroekie durf ek die koue nag aan om vir Lyfie koeldrank uit die kar te loop haal.

In retrospek dink ek die water het begin sleg smaak omdat Lyfie waarskynlik die reservoir droog gedrink het daai aand. Hoe dit ook al sy, Marico partytjies is nie vir sissies nie, veral nie as die Mexikane ook daar is nie. Dankie tog vir spek, eiers, roosterbrood en moerkoffie, want daarsonder sou daai klein mannetjie nou nog paneelkloppery in my kop beoefen het

Jaco


Die klank van ‘n poep

Junie 22, 2008

Voor ek begin, laat ons sommer by voorbaat die volgende uit die weg ruim: ALMAL laat van tyd tot tyd ‘n ou windjie. As jy een van daardie neus-in-die-lug-tipes is wat weier om te erken dat jy ook soms poep, moet dan nie verder lees nie en gaan poep verder om die hoek.

Vir my bestaan ‘n poep uit 3 dele:

  1. Veilig/onveilig (moet ons jou in die tuin met die hosepipe afspuit of was hy droog?)
  2. Klank (hoe klink jou poep?)
  3. KLANK (huur jou vrou/man jou aan Afghanistan uit as hulle biological warfare gasvervaardiger of ruik joune na laventel?)

My saak vandag is met no 2 = Klank.

Afhangende van hoe jy sit en hoe jy knyp, klink dit wat by jou onderkant uitkom, nie sommer dieselfde nie. O ja, en WAAR jy sit (tuis of openbare troon) maak ook ‘n verskil.

Ek het al die volgende waargeneem:

Hy kan laat los word soos ‘n mishoring sodat hy bulderend in die gang afstorm en hoef(poep)spore op die plafon los (alles in een go).

Of soos die sokkerondersteuners uitasem op die vuvusela’s blaas om genoeg wind bymekaar te kry om darem ook gehoor te word.

Hy kan natuurlik ook so geknyp word dat hy nie ontsnap nie en dus opborrel na jou brein toe sodat jy vir die res van die week kak gedagtes ontwikkel.

Of klink soos ‘n masjiengeweer se ratta-tattatt en almal om jou slaan dekking om uit die koeëls se pad te kom.

Fyn en op ‘n hoë noot soos lug wat uit ‘n ballon gelaat word laat my altyd giggel.

So natuurlik en tog so sosiaal onaanvaarbaar . . .

Winderig Maré


Give me the good news

Junie 21, 2008

Ek berus my by die feit dat alhoewel ek ‘n erge blogsonde pleeg deur te “copy & paste”, ek dit doen omdat ander mense dit soveel beter as ek sê. Ek dis ‘n great song!

Crocodile Harris

If we accept the word forever
Maybe we should live together
And not be scared to watch
The late night news
You can’t use guns to build a nation
A bullet never was creation

Give, give me the good news
War’s the one game where we all lose
Give me the good news

If I accept the word tomorrow
Can I file away my sorrow
And not be scared to watch
The late night news
You can’t use force to sell a promise
Dictatorship was never honest

Give, give me the good news
War’s the one game where we all lose
Give me the good news

Give, please give me the good news
War’s the one game where we all lose
Give me the good news

If I accept the word forever
Maybe we should live together
And not be scared to watch
The late night news
You can’t use guns to build a nation
A bullet never was creation

Give, give me the good news
War’s the one game where we all lose
Give me the good news

Give, please give me the good news
War’s the one game where we all lose
Give me the good news

Give, give me the good news
War’s the one game where we all lose
Give me the good news


Min dae

Junie 20, 2008

Oor presies twee weke begin span wosonki se welverdiende (en langverwagte) verlof.  Ons sien nogal vreeslik uit daarna, 17 volle dae van leeglê en saamwees. Met hardekoolvuurtjies, rooiwyn en die reuk van bosveld in jou neusgate. Met die koer van tortelduiwe as die son opkom. Die bosveld roep soos Zulu dromme, daardie narkotiese Afrika ritme, doem da da doem da da doem doem da da doem da da doem doem da da doem da da doem.

Terug in die regte wêreld moet daar egter nog eers so paar dingetjies platgespeel word voor ons gaan. Daar is ‘n vierdag trippie Laeveld toe vir my volgende week om bietjie besigheid op te jaag. Lyfie kan ongelukkig nie saam nie, maar op die positiewe kant kant ek darem bietjie by my broer loop inloer – die man raak nou groot ons begin dalk net om regtig te bond nou. Ek vat egter my gunsteling oom, mentor en stand-in pa saam. Soortvan ‘n manne uitstappie. Sjaaim hy is so opgewonde, ek dink hy pak al! En ek kan gaan avo’s kry teen meer billike pryse. Alles en alles sal die uitstappie nie te ondraaglik wees nie, alhoewel ek dit haat om weg van Lyfie te wees.

Voor ek egter kan ry moet ek gou eers vandag die kar se lisensie gaan hernu. Want soos laasjaar het ek gedink die ding verval eers en Junie, terwyl hy reeds einde Mei verval het. Daar is ongelukkig nie pille vir domgeit nie. Maar gelukkig het ek dit raakgesien voor ek gery het, en nie eers as die bloubaadjie my van die pad aftrek nie.

Dan is daar die klein kwessie van hoe om die ure op te maak wat ek verloor terwyl ons op vakansie is, maar ek sal nog bietjie daaroor moet dink.

Vasbyt honkispan, min dae!

P.S. Dellie, het jy gesien hoe mooi het ek ‘n positiewe draai op alles probeer sit? Ek is nogal heel trots op myself.


Een uit ‘n miljoen

Junie 18, 2008

Gedurende die verloop van jou lewe kruis jou paaie met sekerlik honderde, of selfs duisende mense. En as jy gelukkig is kruis jou pad met iemand so spesiaal dat hy/sy kop en skouers bo die ander uitstaan. BB is so ‘n spesiale persoon.

BB, dit is vir ons ‘n absolute eer en voorreg dat jy ons lewenspaadjie gekruis het. Jou geskenk getuig van jou deernis en van die diep gevoelsmens wat jy is en dit sal vir ons uitstaan as een van die hoogtepunte in ons lewens.

Jy is voorwaar een uit ‘n miljoen en ons is geseënd om jou te ken

Krista en Jaco

P.S. Op die foto is ‘n amazing sanger/liedjieskrywer en ‘n pêl duisend. Die ander ou is Koos somebody. Hy skryf blykbaar ook so nou en dan ietsie. ;)


It’s a beautiful thing

Junie 18, 2008

Jaco


. . . my lief . . .

Junie 17, 2008

 

jou liefde maak my wandel

in eeue se bosreuse se gesels

om in die stilte en die water

my siel te voed

 

jou liefde maak my sweef

in altyd se duine se fluister

om in die warmte en die wind

my gees te streel

 

jou liefde maak my sluimer

in verewig se berge se rots

om in die vasheid en sterkte

my wese te anker

 

sonder jou

is ek leeg

is ek niks

is ek nie

kan ek nie

K