Tequila, Takuzza, Te jammer

Die storie begin etlike jare gelede, toe ons nog in ons prille jeug was en van brieke daar geen sprake was nie. Dit was ‘n Saterdag, en alhoewel dit in die middel van die winter was, was dit lekker warm op Zeerust in die Marico distrik. Ons het pas op die dorp aangekom uit Pretoria uit, op pad na ‘n familie geselligheid. Oom Johan (oupa Jôhnie vir ons) en ouma Hester (Vaalvrou waar sy ons nie kon hoor nie) vier hulle 50ste huweliksherdenking in die landbousaal op die die dorp en die hele familie is daar.

Nou kyk, in die Marico is dit glad nie ongekend dat so ‘n ou geselligheidjie sommer maklik vir ‘n hele naweek kan aanhou nie, en innerlike versterking is dikwels al wat jou lewendig deur so besigheid kry, derhalwe was ons eerste stop toe ons die dorp inry natuurlik die drankwinkel. Of noodapteek as jy ‘n ding dan nou nie so blatant op sy naam wil noem nie.

Ewenwel, dit word wyd verkondig dat ‘n mens nie moet kruideniersware gaan koop as jy honger is nie, want dan word jou inkope as’t ware deur jou maag gelei. Nou uit bittere ondervinding (verskeie kere) kan ek nou ook getuig dat ‘n mens nie by die noodapteek moet aandoen as jy dors het nie. En daai dag was ons dors . . .

In die skemerdonkerte daar binne in die winkeltjie loop ons onself toe waaragtig vas in ‘n ou kennis van ons by name Olmeca. In daai jare was ons Mexikaanse pêl maar ‘n “petty thief” en sy borgtog glad nie te buitensporig nie, en synde dat ons begroting maar skraps is, vat dit nie veel beraadslaging gevat om hom van sy uitkykpunt op die boonste rak te bevry nie. Ek moes toe al geweet het dat hier moeilikheid kom, maar op vroeg-in-die-twintig is jy mos bulletproof.

Om ‘n lang storie kort te maak, daai aand is die eerste en enigste keer dat ek my liewe swaer se geselskap vir meer as 10 minute kon uitstaan. Ek het ook nie geweet my klein sussie kan so dors word nie! Maar dit is eers veel later wat die werklike sports begin. Aanvanklik was ek baie trots op my besluit om liewer by die gastehuis ongeveer 600 meter van die saal af te oornag, eerder as om nog die stuk pad plaas toe aan te durf. By ons kamer aangekom het ek die twee draaiende katels so rukkie staan en beskou, en besluit dat vir een aand kan ons maar op aparte bedjies slaap. Daar is geen manier wat ek die goed gevang kan kry om hulle teen mekaar te skuiwe nie. Toe my katel weer verby gesirkel kom, toe is ek op hom. Ek het so deur die slaapnewels gesien Lyfie het haar kateltjie darem ook gevang.

Nie te lank daarna nie word ek wakker van iets wat klink soos ‘n baie dorstige kameel in die badkamer. Met baie moeite kon ek my een ooglid oopforseer, net om te sien dat dit net Lyfie is wat die kouewater kraan met mag en mening aanval. Wyl ek toe wakker is, dink ek dit toe ‘n goeie plan om maar dieselfde te doen, synde dat ek darem maar ongelooflik dors is vir iemand wat so baie vloeistof aanboord geneem het. Net na ek weer my lê gekry het, begin Lyfie uit haar hoek kla dat die goeters haar byt. Ons het naderhand die ligte aan, maar sien g’n niks van die goeters wat haar so byt nie. Uit pure desperaatheid ruil ons beddens, maar steeds kla sy die goeters byt haar. Sy het opgehou kla nadat ek histeries begin giggel het, en gevra het of Olmeca iets daarmee te doen het.

Skaars het ek ingesluimer of ek word wakker van die stemmetjie in die donker. Liefie, liefie….lieeeeefieeee. Huh!? is omtrent al wat ek deur my droeë keel kon forseer. Aag wil jy nie die Coke in die kar gaan haal nie, ek is nou vreeslik dors en die kraanwater smaak sleg, pleit sy uit die donker. Hoe kan ‘n mens dan nou so stemmetjie weier, en met net ‘n kort rugbybroekie durf ek die koue nag aan om vir Lyfie koeldrank uit die kar te loop haal.

In retrospek dink ek die water het begin sleg smaak omdat Lyfie waarskynlik die reservoir droog gedrink het daai aand. Hoe dit ook al sy, Marico partytjies is nie vir sissies nie, veral nie as die Mexikane ook daar is nie. Dankie tog vir spek, eiers, roosterbrood en moerkoffie, want daarsonder sou daai klein mannetjie nou nog paneelkloppery in my kop beoefen het

Jaco

19 Responses to “Tequila, Takuzza, Te jammer”

  1. netjane Says:

    Ek lees net die woord Tequila dan begin ek al ril… One too many was toe ook die laaste keer wat ek aan die goed gevat het!

  2. Nico Says:

    Excellent storie! Ekself dink alle vorms van Tequila moet Mexico toe verban word – kan proe dis gedistilleer deur mense wat desperaat vir ‘n dop is en dit laat mense wat nie Mexikaners is nie, soos Mexikaners optree.

    Olé.

  3. Pikkelik Says:

    Dit is briljant, ek gaan nooit kan slaap vanaand nie, gaan heeltyd dink aan daai bedvangery van jou…. Whahahaha… :lol: :lol: :lol:

  4. Rustig Says:

    Tequila! Nie weer oor my lippe nie. So tequila jellies geeet dat ek tot vandag nie kan onthou hoe ek in my bed gekom het nie. Bed was so paar km ver. Volgende oggend met die kussing wakker geword wat aan my voorkop “vasgegom” was. Ek drink nou maar net water.

  5. kaalvoetinireen Says:

    “Tequila! It makes you happy…”
    Ek is mal oor tequila, maar daar moet darem sout en suurlemoen ook wees anders sluk ek maar swaar aan die mannetjie.
    Dis jammer dis hier so vrek duur, maar dalk ook ‘n goeie ding, want ek weet nie of die Koreane en die Mexikane so lekker gaan saamwerk nie :lol:

  6. Wipneus! Says:

    Laat dit my terug dink aan ‘n dag uit my verlede….

    Mense dit was ‘n lekkerrrrr jolly dag, maar hoe lekker ookal ek wil daardie dag nie oorhê nie. As jy jonk is eksperimenteer jy mos, jy gaan elke dag op ekspedisies. Ughhh!! ek was siek!! Ek het die hele nag bus gedryf oor die toilet, ek het warm en koue sweet uitgeslaan, ek het op die koue teël vloer gelê en hyg vir asem en verligting…… alles te danke aan :::: HEY!!!! HAND ME DOWN THAT BOTTLE OF TEQUILA, SHEILA!!!

    Dis ook die vinnigste wat ek gewig verloor het in my lewe, want ek kon vir dae daarna nie na kos kyk nie, dan was ek dadelik van voor af siek soos ‘n hond. :mrgreen:

  7. Paula Says:

    My familie kom ook van Marico/Zeerust af :)

  8. kaalvoetinireen Says:

    Wip, mens noem daai ene alkoholvergiftiging!!! :shock:

  9. demoerin Says:

    :lol: Tequila bly darem ‘n wenner, en ek dink dit sorg ook vir menige snaakse storie. Persoonlik is ek baie lief daarvoor, en kuier ek gereeld saam met my goeie vrind Jose Cuervo.

  10. Koeksuster Says:

    Takiela!!!!!!!!!

    We weeel cum to viesiet djou but leave die wooorm in die car???

  11. Wipneus! Says:

    @ Kaalvoet verseker was dit gjif my kind!!! :lol: My kop begin sommer draai as ek daaraan dink, ‘n kopseer, naar gevoel, en die dorste van ‘n kameel wat 7 dae in die woestyn was sonder water, gooi sulke prentjies in my brein.

  12. Dellie Says:

    Hehe. :lol: Net bietjie erger as daai draaiende beddens, is as jy die volgende oggend wakker word in ‘n vreemde tent met liefie wat in jou oor fluister: “waar de fok is ons?!” :shock:

  13. Blixer Says:

    Was daar ‘n bloedspoor op die vloer soos jou lewer gaan water soek het?

  14. boendoe Says:

    LOL @ draaiende katels!! Hahahahaha!!!!!

  15. Eben Says:

    Gie gie …. Dellie !!!! :) :) :)

  16. Sonkind Says:

    Viva Tequila! ;-)

  17. alta Says:

    Nee tog daai goed maak my moer siek!! Ek weet, was daar!

  18. BB Says:

    Hilarious!! ek picture julle – kriewels en al, ai Vriending!! :mrgreen:
    Ek drink my tequila 1 tot teq/1 tot lime – gooi altwee ini kieste en gorrel – hmmmmmmmm *NJAM*!

  19. demoerin Says:

    Mmmm BB, daai combo klink interessant. Neat bly maar die lekkerste, veral as dit so lekker yskoud is!

Leave a Reply