By hierdie tyd is dit nou al meer as duidelik vir selfs ‘n klipkop soos ek dat die droom soos ek dit vir myself voorsien nie in sy totaliteit gaan realiseer binne die konteks van die struikelblokke wat ek sal moet oorbrug om daar te kom nie. Derhalwe het ek nodig om die fokuspunt so effens te skuif na die gedeeltes toe wat wel bereikbaar is, naamlik om myself onafhanklik te maak van ‘n inkomste uit net een bron uit.
Die gedagte om ‘n inkomste te verdien uit hande arbeid uit is ongelukkig dood gebore weens die feit dat: 1. Blouboordjie beroepe in Suid Afrika nie tans en ook nie in die voorsienbare toekoms dieselfde gewig sal dra as witboordjie beroepe nie. Kortweg gestel, jy kan oorleef maar jy sal nooit onafhanklik welgesteld word nie. 2. Ek kan nie beskostig om soos ‘n arbeider saam met die manne te werk nie, want iemand het nodig om die besigheid te bestuur. Bummer! Die gedagte bly steeds one helluva stokperdjie as jy goenoeg tyd daarvoor kan maak, wat presies is wat ek nou gaan probeer doen.
Wat ek nou sal moet doen is diversifiseer. Ek wil my huidige inkomstestroom wat basies net uit een bron afkomstig is, so verander dat ek inkomste kan genereer uit ten minste 3 en verkieslik 4 bronne uit. Om dit reg te kry moet ek tyd wen, en die enigste manier om dit reg te kry gaan wees om ontslae te raak van aktiwiteite binne my huidige opset wat nie kern is tot die groter droom nie, wat natuurlik ook ‘n verlaging in fooie tot gevolg gaan hê. Skielik neem volgende week se samesprekings ‘n hele nuwe dimensie aan. Ek het die aanvoorwerk gedoen vanuit die oogpunt van totale ontknoping oor die volgende jaar of so, maar nou sou ek eerder wil onderhandel rondom die oorhandiging van non-kern bedrywighede sodat ek steeds ongeveer 60% van huidige inkomste kan behou. Verder wil ek onderhandel om ‘n ongeveer 20 – 30% aandeel in die onderneming te bekom in die afsienbare toekoms. Dit bly dan my brood-en-botter lyn. Dit is ook prioriteit nommer een.
Inkomstestroom 2 wat die huidige plan B is word dan uitsluitlik op die been gebring om 3 te finansier, waarna 2 en 3 een entiteit sal vorm. Omdat dit in essensie ‘n konstruksiemaatkappy gaan wees wat “turnkey” oplossings bied, het ek heelwat tyd om dit af te handel. Ek kan baie klein begin en stadig groei om teen ongeveer 2015 gereed te wees om groot sake te doen. Om met volle kapitaaluitleg nou in die konstruksiebedryf in te spring sal finansiele selfmoord wees.
Lyn 3 hou ek baie naby my bors synde dat iemand soos DGS wat naby aan die arbeidsmark beweeg maklik die konsep sou kon snap en my voorspring in die uitvoering daarvan. Hierdie een gaan ‘n SEB transaksie moet wees, en ek sal met groot omsigtigheid te werk moet gaan want ek soek ‘n venoot, nie ‘n freeloader nie.
Sou al drie inkomstestrome dan funksioneer soos gehoop word sal ek die nodige kapitaal hê om ‘n eiendoms-batebestuursfirma te finansier wat my aftrede en my moontlike kinders se toekoms sal verseker. Terselfdertyd sal ek ook die vryheid – beide tydsgewys en finansieel – hê om nou en dan ‘n oorpak aan te pluk en bietjie handgemeen te raak op die skerpkant van my organisasie.
Natuurlik kan ek nie al die berekenings ensovoorts publiseer nie, maar die neerskryf van die buitelyn het my ‘n groot klomp gehelp met die formuleer van ‘n meesterplan. Alles hang nou van volgende week af. In die volgende 2 dae moet ek ontpop vanaf ‘n skaam Oshakhati-klong tot ‘n meester-onderhandelaar. Easy peasy . . .
Jaco
P.S. Ek gaan nou eers vir die week of so wat ek Kaap toe foeter die hele herdefinieer sage hier op die blog uitspan ten gunste van ligter vermaak. As ek dan terugkom sal ek die laaste 2 inskrywings van my transformasieproses publiseer. Vasbyt maters, die einde is in sig.
Bygedra deur wosonki
Bygedra deur wosonki
Bygedra deur wosonki 