Herdefinieer Jaco: Deel II (d) – Die pad vorentoe

Julie 31, 2008

By hierdie tyd is dit nou al meer as duidelik vir selfs ‘n klipkop soos ek dat die droom soos ek dit vir myself voorsien nie in sy totaliteit gaan realiseer binne die konteks van die struikelblokke wat ek sal moet oorbrug om daar te kom nie. Derhalwe het ek nodig om die fokuspunt so effens te skuif na die gedeeltes toe wat wel bereikbaar is, naamlik om myself onafhanklik te maak van ‘n inkomste uit net een bron uit.

Die gedagte om ‘n inkomste te verdien uit hande arbeid uit is ongelukkig dood gebore weens die feit dat: 1. Blouboordjie beroepe in Suid Afrika nie tans en ook nie in die voorsienbare toekoms dieselfde gewig sal dra as witboordjie beroepe nie. Kortweg gestel, jy kan oorleef maar jy sal nooit onafhanklik welgesteld word nie. 2. Ek kan nie beskostig om soos ‘n arbeider saam met die manne te werk nie, want iemand het nodig om die besigheid te bestuur. Bummer! Die gedagte bly steeds one helluva stokperdjie as jy goenoeg tyd daarvoor kan maak, wat presies is wat ek nou gaan probeer doen.

Wat ek nou sal moet doen is diversifiseer. Ek wil my huidige inkomstestroom wat basies net uit een bron afkomstig is, so verander dat ek inkomste kan genereer uit ten minste 3 en verkieslik 4 bronne uit. Om dit reg te kry moet ek tyd wen, en die enigste manier om dit reg te kry gaan wees om ontslae te raak van aktiwiteite binne my huidige opset wat nie kern is tot die groter droom nie, wat natuurlik ook ‘n verlaging in fooie tot gevolg gaan hê. Skielik neem volgende week se samesprekings ‘n hele nuwe dimensie aan. Ek het die aanvoorwerk gedoen vanuit die oogpunt van totale ontknoping oor die volgende jaar of so, maar nou sou ek eerder wil onderhandel rondom die oorhandiging van non-kern bedrywighede sodat ek steeds ongeveer 60% van huidige inkomste kan behou. Verder wil ek onderhandel om ‘n ongeveer 20 – 30% aandeel in die onderneming te bekom in die afsienbare toekoms. Dit bly dan my brood-en-botter lyn. Dit is ook prioriteit nommer een.

Inkomstestroom 2 wat die huidige plan B is word dan uitsluitlik op die been gebring om 3 te finansier, waarna 2 en 3 een entiteit sal vorm. Omdat dit in essensie ‘n konstruksiemaatkappy gaan wees wat “turnkey” oplossings bied, het ek heelwat tyd om dit af te handel. Ek kan baie klein begin en stadig groei om teen ongeveer 2015 gereed te wees om groot sake te doen. Om met volle kapitaaluitleg nou in die konstruksiebedryf in te spring sal finansiele selfmoord wees.

Lyn 3 hou ek baie naby my bors synde dat iemand soos DGS wat naby aan die arbeidsmark beweeg maklik die konsep sou kon snap en my voorspring in die uitvoering daarvan. Hierdie een gaan ‘n SEB transaksie moet wees, en ek sal met groot omsigtigheid te werk moet gaan want ek soek ‘n venoot, nie ‘n freeloader nie.

Sou al drie inkomstestrome dan funksioneer soos gehoop word sal ek die nodige kapitaal hê om ‘n eiendoms-batebestuursfirma te finansier wat my aftrede en my moontlike kinders se toekoms sal verseker. Terselfdertyd sal ek ook die vryheid – beide tydsgewys en finansieel – hê om nou en dan ‘n oorpak aan te pluk en bietjie handgemeen te raak op die skerpkant van my organisasie.

Natuurlik kan ek nie al die berekenings ensovoorts publiseer nie, maar die neerskryf van die buitelyn het my ‘n groot klomp gehelp met die formuleer van ‘n meesterplan. Alles hang nou van volgende week af. In die volgende 2 dae moet ek ontpop vanaf ‘n skaam Oshakhati-klong tot ‘n meester-onderhandelaar. Easy peasy . . .

Jaco

P.S. Ek gaan nou eers vir die week of so wat ek Kaap toe foeter die hele herdefinieer sage hier op die blog uitspan ten gunste van ligter vermaak. As ek dan terugkom sal ek die laaste 2 inskrywings van my transformasieproses publiseer. Vasbyt maters, die einde is in sig.


Herdefinieer Jaco: Deel II (c) – Struikelblokke

Julie 30, 2008

As dinge maar so maklik was soos wat dit in gister se inskrywing klink, dan het ons almal lankal reeds ons eie besighede gehad en gedoen wat ons gelukkig maak. Helaas.

Dit is ‘n voldwonge feit dat as jy vir ‘n baas werk (al is dit soos ek as kontrakteur) jy met ten minste 25% onderbetaal is vir dit wat jy doen. Eenvoudige besigheidsbeginsels. Die paadjie na finansiele onafhanklikheid begin dus deurdat jy jou eie inkomste moet genereer. Maar die paadjie is vol slaggate. Ek kon meeste van die slaggate op my paadjie al identifiseer.

Eerstens en waarskynlik die kleinste struikelblok is my agtergrond en opvoeding. Ek is vas oortuig dat hoe jy grootgeword het, ‘n beduidende rol speel in die manier hoe jy met geld omgaan. Mense soos ek en Krista wat as “werkersklas” grootgeword het, is geneig om redelike praktiese vaardighede te hê, maar ons is baie konserwatief as dit by geldsake kom. Mense uit meer gegoede huise is gemakliker met finansiële sake en neem oorwegend ook makliker risiko’s. Ek moet as’t ware eers gaan “leer” hoe om met geld te werk en geld te hefboom omdat dit nie iets is wat natuurlik by my kom nie. ‘n Tersiëre kwalifikasie het ‘n lang pad gegaan om hierdie agterstand uit te wis, maar daar is steeds werk om te doen.

Tweedens is nie almal is ‘n intrepeneur nie, of het ten minste ‘n kop vir besigheid nie. Om ‘n geleentheid raak te sien is maar ‘n klein deeltjie van die proses. ‘n Baie groter deel is die mobilisering van die regte hulpbronne om die geleentheid in geld te omskep. Daarvoor moet jy jouself en/of jou idée baie effektief kan verkoop. Ek sukkel met daai konsep. Ek sal moet leer netwerk en terselfdertyd uit my dop moet kruip. Introverte maak nie goeie verkoopsmense nie.

Derdens is daar die persepsie van Suid Afrikaners oor blouboordjie werkers. Dit wat ek as my passie beskou is doodgewone handewerk in die finale analise. Mense in Suid-Afrika, en spesifiek die mark wat ek sal teiken met die diens wat ek beplan om te lewer, is geneig om neer te sien op iemand wat ‘n ambag beoefen en derhalwe is dit bitter moeilik om ‘n professionele fooi te vra, maak nie saak hoe professioneel die uitvoering van die werk nie. Tesame hiermee is daar die geneigdheid van mense om altyd die goedkoopste kwotasie te aanvaar. Die gevolg is dat die mark tot barstens toe gevul is met minder-eerbare karakters. In hulle verbygaan los hulle ‘n spoor van slapgat-werk, substandaard materiaal en verbreekte beloftes. Die gevolg is dat bouers oor die algemeen nie ‘n baie goeie reputasie het nie. Binne hierdie konteks moet ek potensiële kliënte oortuig dat ek eerbaar is en dat my werk verteenwoordigend sal wees van die fooi wat ek vra, synde dat die fooi noodwendig heelwat hoër as die algemene palooka s’n sal wees. Nie ‘n maklike taak nie.

En dan is daar natuurlik kapitaal. Kapitaal genoeg om die nodige toerusting aan te skaf sowel as om ons in ons huidige leefstyl te handhaaf tot die besigheid homself kan dra en begin om my salaris te dra.

Die prentjie lyk relatief donker.

Jaco


Herdefinieer Jaco: Deel II (b) – My droom

Julie 30, 2008

Ons almal moet werk, daarby is daar geen verbykomkans nie. Meeste van ons sit in beroepe wat ons nie regtig gelukkig maak nie, maar die geld is goed en daarom bly ons maar. Twak! Jy het ‘n keuse, ek het ‘n keuse. Jy spandeer ten minste 8 ure per dag oftwel een derde van jou dag by die werk. Sal dit nie goed wees as jy met ‘n glimlag kan werk toe gaan en met dieselfde glimlag kan huis toe kom nie? Wel jy kan, en ek wil. Die eerste ding om te doen is om te bepaal wat jou behoeftes is.

Baie welgestelde (lees stinkryk) mense werk ongelooflik harde en lang ure. So as jy so ‘n bietjie lui is, gaan jy nie stinkryk word nie. Ek wil graag gemaklik welgesteld wees, m.a.w die aankoop van ‘n nuwe motor is steeds iets wat mooi voor begroot moet word, maar daar is altyd ‘n los geldjie vir ‘n kort oorsese vakansie of iets dergliks. Kortliks, ek wil my geldjies geniet. Maar ek sal graag ook so bietjie genieting wil pluk uit die verdien daarvan.

Soos reeds genoem is ek nie skeppend nie, so die kunste is uit soos perdry in die kerk. Maar ek is wel ‘n skepper. Ek kan ‘n konsep visualiseer en laat realiseer. Dit is die rede hoekom ek die konstruksiebedryf as my loopbaan gekies het in die eerste plek. Ek is iemand wat nie baie goed klaarkom met die abstrakte nie, en deel in die konkrete (of issit nou concrete?). Ek moet aan die einde van die dag die sweet van my gesig af kan vee en sien wat ek gedoen het. Om die waarheid te sê, ek sal sover gaan om te proklameer dat die dae toe ek hekke en heinings gesweis het en my tuindiens onderneming se masjienerie onderhou het om vir my studies te betaal en my familie te help versorg, was die lekkerste en mees sorgvrye van my lewe.

Ek is vas oortuig ek kan weer daardie sorgvrye dae terugkry. Sedert ek die eerste keer by vriende die program Holmes on Homes op DSTV gesien het, het ek geweet hoe. Die heer Holmes is die VSA se weergawe van “Die Nutsman”, maar soos Amerika nou maar is,doen hy dit beter en groter as enigiemand anders. Jy kan maar sê sy spesialiteit is om die werk reg te doen, eerste keer, elke keer.

Ek glo vas dat daar wel so ‘n geleentheid in Suid Afrika bestaan vir ‘n organisasie wat opknappings in en om die huis reg kan doen. Dit sal noodwendig nie die goedkoopste op die mark wees nie, maar waarde vir geld sal dit definitief wees. En ek wil daardie onderneming besit en bestuur. Nie van agter ‘n lessenaar of van uit die bakkie se kajuit nie, maar in die voorste linie saam met my manne. Daar waar die splinters waai.

En aan die einde van die dag as die son sak, wil ek my seer lyf reguit maak en met trots kan sê “daar staan hy, ek het hom gemaak”.

Jaco


Herdefinieer Jaco: Deel II (a) – My huidige kopspasie binne my beroep

Julie 28, 2008

Lighartigheid sal so teen volgende week terugkeer na die blog toe, terwyl ek in die Kaap is. Daarna sal ek die laaste skof aanpak. Maar teen die tyd wat ek uit hierdie bosberaad-met-myself stap wil ek begin om die mens te wees wie ek wil wees. So humour me, or just browse on past. OK? As jy iets het om toe te voeg, positief of negatief, laat ek van jou hoor.

Waar was ek. O ja, die vier bene van my menswees. Gesondheid is afgehandel, planne is in plek en ons is uit die blokke uit. Nou my gunsteling troetelwroegie, my brood-en-botter.

Ok, so ek het ‘n baie standvastige werk. My kantoor is by my huis. Die vergoeding is nie onleefbaar sleg nie. Ek is die groot hond in die hele land sover dit my spesifieke skill-set aangaan. Maar steeds het ek die moedermaatskappy kort voor vertrek op vakansie laat weet ek soek ‘n weg uit. Hulle het terug laat weet ons moet sou gou moontlik mekaar sien vir ‘n hele week se konsultasies sodat ons die pad vorentoe kan baan. Daardie reeks vergaderings is geskeduleer vir volgende week – die hele week – in Kaapstad

Hoekom vra jy? Hoekom inderdaad? Kort antwoord, ek is nie meer gelukkig in wat ek doen nie. Ek sien nie meer kans om vir die res van my lewe so aan te ploeter nie. Staan op, gaan sit voor die eenoog-god, werk die hele dag sodat jy vannaand sielsmoeg die ding afskakel, EN EK HET ABSOLUUT FOKKOL OM VIR MY HELE DAG SE ARBEID TE WYS NIE!

Daar was ‘n tyd tot redelik onlangs wat ek gek was oor my werk. Elke dag was ‘n uitdaging, gevul met die wonder van nuwe dinge ontdek, toets, navors implimenteer. ‘n Dramatiese skuif in die firma kultuur en fokus het veroorsaak dat ek “bevorder” is na ‘n sieldodende maalkolk van mensebestuur, administrasie en repeterende take. My klankbord met wie ek struikelblokke kon deel is ook uit die prentjie geneem. Ek kan dit na slegs 8 maande nie meer uitstaan nie, dit maak my mal.

Soos ek al voorheen genoem het, alhoewel ek nie skeppend is nie, is ek ‘n skepper. Ek moet die vrugte van my dagtaak kan sien. Miskien het ek oorhaastig opgetree deur die brief aan my werkgewer te stuur, maar dit is nou te laat. Wat ek wel nog kan probeer is om my saak so duidelik moontlik te gaan stel en hoop dat my lojaliteit bewese oor 10 jaar deur moeilike tye en my skaars vaardighede tog in my guns sal tel en dat ons iets kan uitwerk. As dit nie slaag nie moet ek plan B (wat op die stadium nog net ‘n vae gedagte is) van die grond af kry.

As ek kyk na die haastigheid waarmee hoofkantoor hierdie vergaderings oor my rol binne die organisasie geskeduleer het, is daar ‘n 50/50 kans dat plan B baie vinniger in aksie geskop moet word as wat beplan is. Ek is regting bang dat ek my en Lyfie se finansiele sekuriteit in gedrang gebring het my my oorhaastige besluite, maar daar is geen meer omdraai nie.

Vandag oor ‘n week vlieg ek Kaap toe om die saak af te handel. My ingewande is in knope. Ek het deesdae permanent sooibrand.

Jaco


14 Februarie 2009

Julie 27, 2008

Desember 2007 het baie van ons geld geskenk aan die Abraham Kriel Kinderhuis in Nylstroom aangesien ons op daardie stadium te laat was om geskenke in te samel vir die Kersboom. My planne loop verder as Kersboom 2008, maar laat ek aan julle verduidelik, dan laat weet julle my wat julle daarvan dink.

My eintlike idee gaan oor 14 Februarie 2009. Valentynsdag – wat val op ‘n Saterdag. Wat ook die Wosonki’s se 4de huweliksherdenking sal wees. My gedagtes hardloop toe nou as volg:

Sê nou ons gaan weg vir die naweek. En daar gaan ‘n paar bloggermaatjies saam wat dalk saam met ons die heugelike dag sou wou vier. En sodoende het ons ‘n lekker kans om mekaar beter te leer ken om ‘n gesellige knettervuur in die middel van die bosveld. En ons reël ‘n bosbraai waarnatoe ons met die bostrok aangery word – nadat ons eers die local wildlife ‘n kans gegee het om die vreemde wesens te beskou wat dan nou spesiaal na hulle toe aangery word vir die hele ervaring.

En synde dat die nou die Dag van die Liefde is en ons so ongeveer 10 minute se ry van die Kinderhuis af sal wees, mag die idee om ‘n paar tjokkies of persentjies by die kinnertjies te gaan aflaai dalk nie te onaardig wees nie . . . om self te beleef wie hulle is en dat hulle ook maar net eintlik gewone mensies is met gewone behoeftes . . . en dat hulle dalk die aandag en spesiale moeite verskriklik sal waardeer . . .

Sou julle wou saamgaan?

Krista


Herdefinieer Jaco: Deel I(b) – Herwin gesondheid, die plan van aksie

Julie 25, 2008

Eerstens, verskriklik baie dankie aan almal wat raad gegee het op die vorige 2 dae se inskrywings en ook die wat e-pos gestuur het sonder om noodwendig kommentaar te los. Ons waardeer dit meer as wat julle dalk besef.

Die pas afgelope 2 dae se inskrywings is al meer as ‘n week gelede geskryf, terwyl ons nog met vakansie was. Die rede hoekom ek spesifiek vir kommentaar gevra het is omdat ons reeds gedurende ons vakansie al begin het om die lewensstyl verandering te maak, en ons wou ‘n klankbord hê om ons idees te toets. Geen plan oorleef die eerste kontak met die vyand (lees die cholesterol toets) nie, maar ons sal die outjie skaaf soos nodig. Vir (gebrek aan) botter of wors, hier is die buitelyn van die plan waarmee ons die besigheid aanpak.

Heel eerste. Die enigste manier wat so leefstyl verandering werk is as die hele familie inkoop in die idee. In retrospek was my vorige poging gedoem van die begin af juis omdat ek tot ‘n groot mate alleen gestaan het. Hierdie keer het ons die hele gesin en hulle aanhangsels gekry om in te koop. Ek sê nie dat iemand dit nie alleen kan maak nie, maar dit is definitief baie moeiliker.

Die volgende stap was om uit te vind of daar enige onderliggende sielkundige of emosionele kwessies is wat bydrae tot die huidige stand van sake. Die ideaal sou sekerlik gewees het om ‘n professionele persoon in te roep om hiermee te assisteer, maar daardie idee moes vir eers op die agtergrond skuif. Ons kon egter tot ‘n groot mate self identifiseer wat moontlike snellers kon wees deur stap vir stap ons lewens te ontleed sedert die probleem ontstaan het, een van die voordele van mekaar so lank ken!

Soos met die breek van enige verslawing, is die verandering van jou lewensstyl ‘n wilsbesluit . Jy moet dit wil doen, dan moet jy dit spreek. En dan moet jy vir jouself realistiese doelwitte stel. Nadat al hierdie grondwerk gedoen is kom jy eers by die boute en moere van die fisiese daad van verslank uit. En hier kan ek uit bittere ondervinding praat, want ek het my kop al op elke denkbare manier gestamp.

Voel vry om in te chip as ek iets uitlaat of nonsens praat

Oefening plus korrekte voeding is die enigste manier om gesond te word en so te bly. Let wel ek sê korrekte voeding en nie dieet nie, en ook gesond word en nie maer word nie. Daar is ‘n groot verskil. Slegs een of die ander is natuurlik ook goed maar nie naastenby so effektief nie. Atkins is duiwelsdrek, jou cholesterol sal jou doodmaak lank voor jy maer is. Daar is geen magic pilletjie of potiontjie wat jy kan sluk ek jy word wonderbaarlik slank terwyl jy steeds eet soos en wat jy wil nie. Hoodia werk dalk vir die Boesmans, maar ek en jy is nie Boesmans nie, is ons? Sureslim is satanstront, jou lyf is ‘n masjien wat brandstof nodig het om te werk. Om jouself uit te honger los niks op nie. Capiche? You get the picture?

Balans is die wagwoord. Om af te spek moet jy meer kalorieë brand as wat jy inneem. ‘n Lae GI dieet is definitief ‘n goeie begin, en ‘n dieetkundige kan ongelooflik baie help daarmee. Moenie jouself egter nie ‘n gat in die kop laat praat deur dieetkundiges wat allerhande “spesiale” kos voorskryf nie. Die goed is duur en dikwels bevat dit meer skadelike stowwe as gewone kos. Lees die etikette! Jy kan ‘n hoogs suksesvolle gebalanseerde eetplan volg met gewone kos. Bepaal wat jou behoeftes is in terme van kalorie-inname en deel dit dan op in 6 tot 8 kleiner etes per dag.

Volgende issue. Gewig in isolasie is nie die alpha en omega nie. Weeg as jy moet, maar andersins bly weg van die skaal af. Hoe jy voel en hoe laag jou Cholesterol en liggaamsvet lesings is tel baie meer punte as hoeveel jy weeg of wat jou BMI is. Daai planklyfies in die glanstydskrifte is nie hoe gewonde mense lyk nie. Daai goed is 50% Photoshop manipulasies.

Laastens oefening. Voor ek die eerste tree gegee het, het ek ‘n A-Z workup by die dok gehad wat bloedtoetse van allerhande benamings en ‘n stress EKG ingesluit het. Soos Blixer gesê het, ‘n Internis is waarskynlik die beste keuse, maar ‘n mens moet somtyds klaarkom met minder as die beste. Daarna is dit biokinetikus toe vir ‘n behoorlike oefenplan. Dit het ons nou al ‘n jaar terug gedoen. Twee belangrike punte hier is dat nie al die oefening in die gym hoef te gebeur nie, en dat jy voortdurend met jou biokinetikus moet gesels sodat julle die oefenplan kan opgradeer en aanpas na gelang van wat jou lyf vir jou sê. Luister na jou lyf.  Wees versigtig vir die hele personal trainer whoo-haa, dit is nie altyd wat beste is vir jou nie. ‘n Gym is ook eerste ‘n besigheid onthou.

Jy sal nie jou motor na Sannie-oppie-hoek toe vat vir herstelwerk nie, maar jy is bereid op die dieet wat sy vir jou voorskryf te probeer wat so-en-so se sussie se ma het dan soveel gewig daarmee verloor. Stick to the professionals. Daar is ongelooflik baie slaggate in die pad na gesondheid, hou jou oë en ore oop en jou beursie toe en jy sal ver gaan.

Ek het ‘n goeie gevoel hieroor. Selfs al sê statistiek dat slegs 5% van mense wat morbidly obese is dit terug na normaal toe maak. Ek het laas so gevoel gehad toe ek 2 en ‘n halwe jaar gelede finaal ophou rook het. If you dream it, you can do it . . . if you want it badly enough. Hier is op weer probeer.

Jaco


Glyconutrients

Julie 24, 2008

http://en.wikipedia.org/wiki/Glyconutrient

So op die onderwerp van gesondheid. Ek is nogal nie meer die ou wat val vir jou tipiese TV-advertensie foefies nie. Daarvoor het ek ek te veel katte in die sak gekoop.

Maar onlangs het ek op Glyco-Nutrients afgekom. Daar is absoluut geen wetenskaplike bewys dat dit enigsins werk nie, en as dit nie was vir persoonlike ondervinding met hoe my baas se vrou se witbloedtelling hoog gebly het reg deur ‘n intensiewe reeks chemoterapie-behandelings nie, en hoe hy self wonderbaarlik vinnig van Bell’s palsy herstel het, sou ek seker nooit eers daarna gekyk het nie.

Ek het egter nou vir my en Lyfie ‘n 3 maande voorraad aangekoop om vir myself te kyk wat die resultaat is. Enigiemand daarbuite al van Glyconutrients gehoor? Gebruik? Resultate gehad?

Die goed is vrek duur, so ek wil nie aangaan as ek nie 100% seker is dat dit werk nie. Enige raad is weereens welkom.

Jaco


Herdefinieer Jaco: Deel I(a) – My Gesondheid in oorsig

Julie 23, 2008

En daarmee kom ons by die eintlike doel van ons pasafgelope vakansie. Jaco het tyd nodig gehad om te gaan dink oor life, love and everything else. Die platform wat my lewe is staan op hierdie stadium op 4 bene: my huwelik, familie en vriende; my gesondheid; my beroep en my geloof. 3 van hierdie vier bene is erg geroes en dreig om te wankel, daarom het dit tyd geword om te besin oor wie en wat ek is en waarheen ek oppad is. “Indulge” my maar soos die Ingilsman sal sê, of blaai maar verby as dit erg vervelig raak. Maar ek het nodig om dit swart op wit te kry sodate ek dinge vir myself kan uitwerk. As jy wel lees, enige kommentaar/opmerkings is welkom.

Laasjaar ongeveer dieselfde tyd het ek myself by ‘n gimnasium ingeskryf nadat ek met ‘n skok agtergekom het hoe ver my lyf en my gesondheid agteruitgegaan het in die laaste tien jaar. Vir ongeveer 8 maande was ek gereeld tenminste 4 – 6 keer per week op my pos besig om die situasie om te draai. My vordering netjies aangeteken op die Vitalstatistix bladsy van die blog.

‘n Reeks terugslae wat begin het met ‘n griep wat vir 6 weke my in sy kloue gehad het, gevolg deur ‘n depressie wat skrik vir niks het veroorsaak dat ek nou ongeveer vir 4 maande glad nie in die gym was nie, en natuurlik is al die vordering wat ek gemaak het tot niet.

Onlangs het my baas in ‘n vergadering die opmerking gemaak dat hulle bekommerd is oor my gesondheid, en dat hulle graag wil hê dan ek moet begin om beter na myself te kyk. Whoa! Praat van ‘n “wake up call. Ek het intussen besef dat hy heeltemal gelyk het, en terselfdertyd besef dat ek effens in die donkerbruin is.

My huidige situasie is soos volg. As ek nie drasties iets aan my gesondheid, en spesifiek my gewig doen nie, gaan ek dood wees binne 10 jaar van nou af – soos my Pa en my Oupa voor hom. Dit is egter glad nie meer so maklik gedaan as gesê nie. In 10 jaar het ek gevorder van fiksheid fanaties waar ek alles gespeel, getrap en gehardloop het wat ek kon inpas, tot die ou wat ek vandag is wat skaars sal hek toe stap as dit nie absoluut noodsaaklik is nie. Erens het ek een of ander major onderliggende sielkundige knak weg, en enige verslank pogings gaan niks help voor ek dit nie onder die knie het nie. Tweedens vat jy nie net ‘n 144kg lyfie en raak aan die hardloop nie, dit werk doodeenvoudig nie so nie. Dit is ‘n helse lang proses.

Maar hierdie nonsens stop nou. Ek wil nog eendag met my kiddies kan speel. Vitalstatistix word dus sonder verwyl van die Blog afgevee en enige vordering sal ek op die hoofbladsy sit as ‘n inskrywing. Intussentyd het ek nie simpatie nodig nie, daarvan kry ek genoeg by my vrou. Wat ek nodig het is goeie raad van iemand wat daar was, en iemand wat saam met my kan soek vir daai verdomde trigger wat veroorsaak dat die kospotte my happy-place geword het

Jaco


Onwillig terug.

Julie 22, 2008

Die Wosonki-clan is onwillig terug uit die bos, hier waar die ligte net te helder is, die stilte afwesig en die sterre net te ver.

Dit gesê, ons het heerlik ontspan, nonsens gepraat, wyn gedrink en ure lank in die vlammetjies van ons bosveldvuurtjie gestaar. Dit is met hernude ywer dat ons vandag ons dagtaak hervat, maar ook met nuwe planne en ‘n nuwe uitkyk. Hou die spasie dop.

Die was die normale Bullshit “I’m Ok you’re OK”-weergawe. Die waarheid is dat die somtotaal van die hele wegbreek vir my ‘n totale verlies was, en ek is bevrees ek het dit vir Lyfie ook geruineer. In 17 dae het ek nie een nag se ordentlike slaap gehad nie. My spanningshoofpyne het Sondag alreeds weer begin.

My inboksie is vol, en dit is alles slegte nuus. My gemoed so donker soos die bosveld nag. Maar ek gaan nie ‘n donner weer die smiley-face-ek-is-oraait maskertjie aantrek nie

Julle bliksems. You wanna piece of me, then come get some . . .

Dit is goed om terug te wees in ons hoekie van die blogosfeer, ons het julle gemis.

Jaco


Die bosveldleeu ontwaak

Julie 21, 2008

Nou ja, so kom alle goeie dinge tot ‘n einde. Vandag is die laaste dag van ons vakansie. Tyd om die ekspedisiehoed op die kapstok te hang, die kampstoele te bêre, hare te sny en baard te skeer.

More wag ons beide se base met lang messe vir hulle pond vleis. Ek het ook vandag letterlik begin baklei vir my lewe, maar meer daaroor later.

Jaco