Frustrasie

Augustus 30, 2008

Saterdagaand, die bulle en die bokke het gat geskop (ek het nie een van die wedstryde gesien nie maar ek het die tellings gekry). Ek en Lyfie neem so ‘n bietjie ons-tyd, ‘n fliek opgevolg deur ‘n ete êrens waar ons lanklaas of nog nooit was nie. Brooklyn of Menlyn of so, enige plek behalwe Kollonade. My gemoed is nogal verbasend lig en ek sien uit daarna.

Ek moes geweet het dit is te goed om waar te wees!

Op pad fliek toe (dit is letterlik 3 minute se ry van die huis af) sien ek al iets is nie lekker met die kar nie. Ons het juis die kar gekies om mee te ry omdat ons dit so min gebruik deesdae. Na die fliek kom ons toe maar eers huis toe om voertuie om te ruil, maar “gou-gou kyk of ek kan sien wat fout is” word toe sommer vinnig ‘n uur se gespook. Die kar se termostaat wat ons nie te lank gelede nie ten duurste moes laat vervang haak vas en maak nie oop nie. Die keer maak hulle nie weer geld uit my nie, ek sal dit more op die heilige Sondag moet vervang. Soos geluk dit wil hê het ons juis Maandag die kar nodig omdat die bakkie moet teruggaan na die handelaar toe om die power-gemors wat hulle met die laaste diens gemaak het reg te maak, so ek is seker ek sal vergewe word vir die werk op die Sabbatsdag.

Toe ek uiteindelik hande gewas het en Lyfie die brandwonde wat ek op my arms opgedoen het van warm enjinpype salfies gesmeer het, is dit al byna halfnege. Ons ruil maar die ete-uit in op ete uit ‘n boks uit van die pizza winkel naby ons. Synde dat my Saterdagaand toe nou so effens geskroef is, besluit ek om maar op te vang op so bietjie admin, en sommer my voorlopige belastingopgawe klaar te voltooi, synde dat die ding in elk geval môre moet in.

So gesê, so gedaan. Ek vorder heel fluks, handel die admin af, bereken my belasting en om presies 22:30 op ‘n Saterdag aand probeer ek inlog op SARS se webwerf, net om dievolgende boodskap te kry.

Aaaaaaargh! Maar die beste deel is. Hierdie keer het ek nie eers geswets nie, nie my sleutelbord gebreek nie, niks! Daar is dalk tog meriete in hierdie positiewe gedagtes ding. En daar hoor ek jou wraggieswaar ‘n koortjie skreeu ” we told you so!” Ja baas C, ja liewe oom Hennie, you certainly did tell me so.

Jaco


Die antwoord.

Augustus 28, 2008

Vroeër die week het ek in een van my donker buie gespekuleer oor die sin van dit alles. Die sin van dit alles, liewe vriende, is nie ‘n konkrete ding nie. Dit is eerder ‘n abstrak grootliks gebasseer op perspektief, en my perspektief is redelik eng hier vanuit die bodem van die depressiegat. Dus het dit tyd geword dat ek weer vir ‘n slag my pad na die oppervlak klouter.

Om dit reg te kry kan ek een van 2 motiverings gebruik. Die kortpad is wat ek noem sersant styl. Dit is nou daardie fliek-cliche van die sersant wat so 2 duim van jou gesig af vir jou bulder om jou nonsens te stop en jouself reg te ruk, want daar is baie ander mense wat baie groter probleme as jyself het. Dit eindig gewoonlik met ‘n klap deur die gesig en die woorde “dankie ’sant, ek het dit nodig gehad”. Effens oordrewe, maar julle verstaan die punt? Ja,ek het ongelooflik baie om voor dankbaar te wees;, ja, daar is baie mense met baie groter probleme as ek. Ek dink byvoorbeeld hier aan Nico, wie se skeisaak vandag voorkom. Sterkte ou maat ons dink aan jou. So kan ek maar opnoem, Nelba en Carien wat die dood van kinders moet verwerk. Pikkie en Boendoe wat ver weg is van hulle geliefdes. Emil en Wippie wat deur een of ander blog terroris geteister word. Alta wat ‘n slagoffer van identiteits diefstal was en geldelike skade gelei het. Meermin wat midde in ‘n baie slegte verhouding staan. My eie vrou wie se lewe ek nogal erg bemoeilik met my buie. Punt is, aan motivering ontbreek dit nie.

Bogenoemde soort oplossing is egter net baie tydelik van aard synde dat dit die gevolge toesmeer eerder as om die oorsaak aan te spreek. Ek is in die gelukkige(?) posisie dat ek die oorsaak van my despressie tot ‘n groot mate kon selfdiagnoseer. Derhalwe is dit vir my effens makliker om weer myself weer uit die gat te hys. Eerstens is daai baie duur 3-maandelikse hormooninspuiting van my uitgewerk. Een van die simptome van lae testosteroon is depressie. Dit sal ons vandag regstel wanneer ons ‘n nuwe dosis bestel.  Goed, maar dit is maar ‘n deeltjie van die oorsaak.

Baie van julle het bitter naby aan die waarheid gekom in julle opmerkings op my vorige inskrywing. So in kort, hier is my probleem. Ek het in ‘n gemaksone verval waaruit ek nou worstel om uit te breek. Derhalwe my ellelange relaas oor hoe ek myself wil herdefinieer van so paar weke gelede. As gevolg van my agtergrond en hoe ek grootgeraak het, heg ek egter te veel waarde aan my besittings, wat dit vir my moeilik maak om ‘n kans te vat. Ek het in werklikheid ‘n gevangene van my eie sukses en besittings geword. In die proses het ek ook ‘n groot deel van my gesondheid prysgegee.

Die oorsaak van my huidige depressiebui is doodeenvoudig. Ek het die buitelyne van ‘n meesterplan hier op die blog ter tafel gelê van hoe ek die situasie wil omdraai. Ek is besig om daai meesterplan te volg, maar die resultate is op hierdie stadium min en nie alles positief nie. Synde dat ek iemand is wat floreer op resultate en daai kloppie op die skouer is dit voor die hand liggend dat die gebrek aan resultate my gaan omkrap. Die gevolg is my huidige toestand.

Gelukkig skyn die son waarskynlik weer teen Maandag. Ek wens net dit was binne my vermoëe om hierdie roller coaster vinniger te stop, vir my en my geliefdes se onthalwe.

Jaco


Wat is die sin daarin?

Augustus 26, 2008

Nadat ek uit SAW en seuns vrygelaat is, het ek gaan studeer soos dit enige jong man met ambisie betaam. Soms het dit maar erg broekskeur gegaan, baie aande was die maaltyd maar karig, maar my ma het my op een of ander wonderbaarlike manier tot anderkant ‘n graad gekry. Met my nuutgevonde wysheid en sterre in my oë het ek begin werk vir ‘n baie klein salarissie.

Die eerste ding wat in die slag gebly het is die sterre in my ogies. Die geldjie wat ek verdien het was hopeloos te min vir al die drome wat ek gehad het. Ek kon nie verstaan waaroor die senior manne so kla nie, waarom hulle nooit met glimlagte by die werk opgedaag het nie. Hulle had immers die goeie lewe, groot huise, blink karre, alles wat saak maak.

Soos die jare gevorder het het my salaris ook groter en groter geraak, my kar so bietjie nuwer, my adres so bietjie beter, vakansies so bietjie langer. Maar al die dinge kom teen ‘n prys. Belasting vat ‘n groter hap uit jou inkomste uit, versekering op daai nuwer model kar is amper 3 maal duurder as op jou ou skedonk, daar is altyd een of ander krisis met jou besittings wat vra dat jy ‘n hoop kontant daarheen gooi om dit op te los.

Met nog verloop van tyd word die vakansies weer al hoe korter, want dit is net te moeilik om op te vang as jy te lank weg was. Dit is donker as jy jou kantoor binnestap en dit is donker as jy daar uit stap. Die lengte van jou gordel word net al hoe langer soos jy jouself jaar na jaar belowe as hierdie projek eers klaar is, het ek weer tyd om behoorlik te oefen.

Dan word jy eendag wakker en jy is 35 jaar oud. Jy kan nie meer werk doen as wat jy alreeds hanteer nie, so jy gaan nie weer verhoging kry nie. Jy kan nie ander werk soek nie, want jy het eerstens te slim geword. Jou werkgewer kan en wil jou nie laat gaan alvorens jy nie iemand anders net so slim soos jy gemaak het nie. Tweedens kan jy nie vir minder geld gaan werk nie, want jy het verpligtinge om na te kom. Jy het ‘n gevangene van jou eie kennis en sukses geword. Skielik onthou jy weer die senior manne met die stroewe gesigte van wat voel soos ‘n leeftyd gelede toe jy die junior was.

Maar jy byt vas, geen uitkoms behalwe vorentoe nie. Dan eendag eindig dit alles in die stort met die staalbande wat om jou bors vou een more en die lewe uit jou uit druk tot dit genadiglik swart word. Of dalk in die weergalm van ‘n pistoolskoot in jou studeerkamer, of by die stopstraat op die hoek. Sodra die laaste kluite op jou kis klap word die somtotaal van jou lewe lustig deur jou nasate deur hulle gatte getrek tot daar niks van oor is nie.

Waar die fok is die sin daarin?

Jaco

P.S. Ja, ek is alweer in een van my troebel buie waar die swart depressiemonster verleidelik wink vir my om nader te kom. Dit gebeur al te dikwels deesdae, en dit voel of ek geen beheer meer het nie.


Kersfees 2008

Augustus 25, 2008

Ek het ‘n e-pos gestuur aan die Abraham Kriel Kinderhuis in Nylstroom om te vra dat hulle hulle jaarlikse Kerslyste aan my ook stuur. Ek het die volgende ontvang verlede week:

ABRAHAM KRIEL KINDERHUIS NYLSTROOM WENSLYSTE VIR 2008

Aangesien die ekonomie ons land in ‘n stewige greep het, het ons vanjaar besluit om op
slegs noodsaaklikhede te konsentreer. As die lewe in ons huise vergemaklik kan word
sal dit die hele 2009 Kersfees wees asook vir die huis se inwonertjies in die toekoms.
U kan u vriende, kollegas en familie hierby betrek en so waarde toevoeg tot ons afvlerk-
kinders se lewens. Skakel net vir Me Lombard by 082 897 3877 en sy sal die lys op
datum hou soos wat die mense onderneem om iets vir ‘n huis te koop.

HUIS BAUHINIA – 8 SENIOR DOGTERS – KINDERVERSORGER – LOUISA MEYER

Dit sal lekker wees om vlekvrye staal bekers, glase, borde en pap/nageregbordjies te hê,
12 van elk asb., want breekgoed breek so gou uit.
n TV en DVD/VIDEO masjien, want ons gebruik tans ons tannie s’n en as sy weggaan,
het ons huis niks.
Twee baba monitore sal verwelkom en ideaal wees, aangesien ons tannie elke tweede
naweek na twee huise moet omsien.
Help ons asb. om ‘n rekenaarprogram wat Wiskunde bevorder te bekom asook ‘n
rekenaarprogram wat lees en spel vaardighede bevorder.
Ons sal graag ‘n Afrikaanse Skrabbel, Monopoly, Rummy Cup bordspele wil hê en ‘n
Ratrace bordspel vir kinders sal WONDERLIK wees.
n Barok CD groot asb.

HUIS BOEKENHOUT – 10 SEUNS – KINDERVERSORGER – SARIE VAN DER BERG

Dis so warm hier – kan ons asb. 7 dakwaaiers kry?
Ons wil so graag ‘n mat voor ons beddens hê.
3 Toiletdeure
Iets om teen ons mure te hang – mooi portrette of foto’s.
n Besem met ‘n Squeegie.
4 Stortgordyne
12 vlekvrye staal koffiebekers – die ander breek so maklik.
Kan elkeen van ons ‘n spieël en kapstok by ons bed kry – dit sal so baie help.
Ons kamergordyne is al oud en deur die son verbleik, so as ons 5 kamer ‘n nuwe rokkie
kan kry, sal ons seuns dink ons is baie spesiaal.
Ons huis kan regtig doen met ‘n NUWE rekenaar, want ons probeer ons bes op die
tweedehandse ene.
Ons weet ‘n Playstation is ‘n luukse, maar miskien is daar iemand wat vir ons huis een wil
gee – dit sal nou “cool” wees.
Ons benodig groot opskepbakke – ons tannie sê ons moet goeie maniere leer.
Ons tafeldoeke is vodde en benodig ons 4 x 250cm x 200cm
Wat van ‘n mooi kombuisgordyntjie.
Ons benodig ‘n groot wasgoedmandjie vir die badkamer.
Emmers en lappe – plekmatjies – plastiese tafelkleedjies.

HUIS ESSENHOUT – 10 SEUNS – KINDERVERSORGER – LEONIE DE BRUYN

Ons benodig ‘n groot waterverkoeler asb. Ons tannie sê ons moet water drink, want dis
gesonder as koffie.
Sjoe, dit was koud die winter – kan ons outjies asb. ‘n asbesverwarmer teen die muur kry
by ons woonkamer en in die gang.
Ons tannie sê ons sal iets moet doen sodat ons huis lekker kan ruik – kan ons dus asb.
n toilet – suiweraar kry?
HUIS KATJIEPIERING – 8 DOGTERS – KINDERVERSORGER – MAGDA FOUCHè

Kan ons asb. mooi kindvriendelike videos en Afrikaanse CD’s kry?
Ons moet so baie kaartjies maak. Kan ons asb. lapverf, krale vir ryg, glitter en karton kry.

HUIS KIEPERSOL – 9 SENIOR SEUNS – KINDERVERSORGER – SUSAN BOTHA

Ons benodig roomkleurige teëls vir ons kombuis.
Ons sukkel sonder ‘n kombuis gereedskap stel soos bv. ‘n eierspaan, fyndrukker ens.
Ons gaan ook die rakkie benodig waaraan die gereedskap moet hang en verkieslik
vlekvrye staal dan is ons nie gebind aan ‘n kleur nie.
Ons sal baie graag groot slaaibakke en 2 stelle slaailepels wil hê.
Wat van ‘n skildery wat by ons groot manne sal pas?
Verder sal 5 dakwaaiers ons regtig help teen die hitte.
Ons tannie sê sy sal vinniger vir ons kos kan maak as sy ‘n groot eierpan, 2 groot potte,
n broodrooster (6 Snye ) en drinkglase vir ons kombuis kan kry asook opskeplepels.

HUIS KNOPPIESDORING – 11 SEUNS – KINDERVERSORGER – PHILIP MEYER

Ons oom sê dat ‘n nuwe badkamerkassie sal help dat ons hare beter lyk vir skool soggens
Ons benodig ‘n 6 snye broodrooster asook tupperware bakke om kos in die yskas te
bêre.
Ons het ‘n koue winter gehad en nou het ons gedink dat ‘n asbesverwarmer in ons woon-
kamer asook teen die gang se muur baie sal help.
“n Waterverkoeler sal ook teen die dors wat ons ondervind kan help.

HUIS MAROELA – 10 KLEUTERS – KINDERVERSORGER – CHRISTA HOFFMAN

Mnr Lombard sê ons is sy babatjies, maar hy is al ‘n oupa!
Kan ons asb, ‘n waterverkoeler/suiweraar kry?
Ons is so lief vir bokspappe soos Post Toasties, Weet-Bix, ens. Kan ons asb. daarvan
kry?
Ons Tannie was self ons klere en daarom soek ons huis outomatiese waspoeier en
Sta – soft asb.
Ons is soooo lief vir stroop en tamatiesous – kan ons groot seblief ook daarvan kry?

HUIS MATOPPIE – 8 DOGTERS – KINDERVERSORGER – ILZE V D WALT

Ons hou van tuinmaak. Kan ons asb. ‘n plastiese tuinstel kry – ‘n tafel met stoele.
Ons soek ‘n ordentlike pan om eiers en veral pannekoek in te bak.
Ons benodig ‘n 3 liter dikboom kastrol waarin ons tannie veral ons pap maak soggens -
ons s’n is al lendelam.
Ons wil ook baie graag ‘n CD speler en popcorn masjien hê – ons sal baaaiie bly wees.

HUIS MOPANIE – 10 DOGTERS – KINDERVERSORGER – RIKA LIEBENBERG

Ons is al groot! Ons benodig ‘n tuinstel wat sitplek bied vir 16 persone.
Wat regtig ‘n groot behoefte is is ‘n afdak 3500 x 5000 by ons agterdeur veral gedurende
die reënseisoen om skoene en nat klere uit te trek en om droog by die buitewasbak en
asblikke te kom. Dit sal ook ‘n plek wees waar die nat skoolskoene gepak kan word om
droog te word vir die volgende dag se skoolgaan.
Omdat ons tieners is leer ons nou met ‘n spoed om te bak en brou. Kan ons groot asb.
n elektriese menger en klitser kry?
Ons besef dat ‘n Playstation ‘n luukse is, maar dit sal ons breine flink hou I.p.v. voor die
TV sit en swak programme kyk.

HUIS OLIEN – 10 DOGTERS – KINDERVERSORGER – DELINE ADLAM

Ons huis moet binne en buite geverf word. Daarom benodig ons 200 L akrieliese verf,
want die ander verwe hou nie en ons was gedurig die mure.
Ons wil so graag ‘n elektriese menger en klitser hê met koekpanne.
Ons benodig ‘n nagklokkie sodat ons tannie ons gou kan hoor wanneer ons na haar roep.
Ons wil baie graag 4 standaard traliehekke hê asook 3 dakwaaiers vir die slaapkamers
en ‘n tuimeldroër.
Dan het ons so ‘n mooi tuin – kan ons asb. ‘n stoeptafel met 10 stoele kry asb.?

HUIS PROTEA – 10 DOGTERS – KINDERVERSORGER – SUE COETZEE

9 dakwaaiers aangesien ons vergaan van die hitte
n 25 L waterhouer op ‘n staander – dis ‘n warm plek die waarin ons woon.

HUIS TAAIBOS – 10 SENIOR SEUNS – KINDERVERSORGER – LETTIE V ROOYEN

Ons benodig 6 wasgoedmandjies wat ons in ons slaapkamers kan plaas, want ai, ons
kry so raas oor klere wat rondlê.
Ons benodig staal opskeplepels.
Kan ons asb. ‘n groot elektriese braaipan, blikoopsnyer en snoeiskêr kry – JULLE KAN
KOM KYK ONS SPOG MET DIE MOOISTE TUIN!

HUIS SOETDORING – 9 SEUNS – KINDERVERSORGER – GRIZELDA PRINSLOO

Kan ons asb. 2 groot ordentlike pannekoekpanne kry asook koekpanne en opskeplepels?

HUIS TAMBOTIE – 10 DOGTERS – KINDERVERSORGER – JUDITH DREYER

Ons bly in ‘n warm wêreld – kan ons asb. ‘n wateroase op staander kry van 25 L ?
Ons benodig ook 7 dakwaaiers vir ons huis. Ons is die eerste huis by die ingang – KOM
KUIER GERUS!

HUIS WAG ‘N BIETJIE – 11 SEUNS – KINDERVERSORGER – MARIE ELS

Ons huis kan doen met ‘n ordentlike stel potte en panne – ons s’n is gedaan!
Kan ons asb. ‘n kombuisgereedskapstel kry met die rakkie om dit teen die muur te hang.
Kan ons ook asb. vlekvrye staal bekers, borde, glase en poeding/papbakkies kry?
Ons sal moet slaaibakke, opskepbakke en opskeplepels kry, want ons het nie.
Ons wil ook baie graag ‘n waterhouer op ‘n staander hê van ± 25L vir die warm dae.
Ons huis moet binne geverf word. Kan ons asb. 120L akrieliese verf in ‘n roomkleur kry
asb. Ons kry so raas oordat ons die mure vuilmors en die verf word afgewas.
AS JULLE WIL KOM KUIER , ONS HUIS IS VERSTEEK AGTER BOME LINKS VAN
DIE HOOFGEBOU.

ALGEMEEN

Die gras by ons swembad is eintlik vuilgoed en nie regte gras nie. Dit sal regtig wonderlik
wees as ons van die gerolde kitsgras kan kry om daar te plant.
Ons benodig ook bome, struike, plante en saad om ons tuine in stand te hou.

****

Dink julle ons kan dalk iets hieraan doen?

Krista


Uiteindelik! BB se liedjie soos belowe.

Augustus 20, 2008

Na ‘n groot gesukkel het ons dit reggekry om BB se liedjie waaroor ons hier gepraat het,  te plaas sodat julle dit ook kan hoor.

Kliek op die skakel onder om die liedjie oop te maak.

Heer sal U haar arms vul

Ons plaas sommer weer die lirieke:

Leë hande in haar skoot

Wat woordeloos haar hart onbloot

Stille nag sy luister fyn

Hoor sy dalk ‘n hartklop rein?

-0-

Leë hande in haar skoot

Die ruimte daar oneindig groot

Heer U het haar moedershart

Laat klop reeds voor haar lewensvaart

-0-

Leë hande in haar skoot

Die plekkie waar ‘n baba hoort

‘n Skietgebed in donker nag

Hoe lank o Heer, moet sy nog wag?

-0-

Refrein:

Heer sal U haar arms vul

Soos in U plan en as U wil

Heer maak U haar arms vol

Met ‘n pienkvoet skattebol

© BB

Dankie weereens BB, you are a star.

Krista en Jaco


Met die maan gepla wees

Augustus 19, 2008

My lieftallige vroutjie het beveel dat ek hierdie stukkie moet skryf sodat daar ‘n balans is met die stukkie wat sy oor die malkoeisiekte geskryf het. In haar huidige toestand is my vrou vreeslik onredelik en sou ek haar durf teëgaan, dan gaan sy my waarskynlik weer slaan soos laaskeer, met die swaarboompot terwyl ek slaap! Ek wil nie hê dit moet gebeur nie want dit is werklik moeilik om al die blou kolle weg te steek, so hier gaan hy.

Daar is ‘n natuurwet wat lees dat vir elke aksie is daar ‘n gelyke maar teenoorgestelde reaksie. Alles probeer altyd om ‘n staat van balans te wees. Dus is dit ook na bewering so dat mans ‘n gelyke en teenoorgestelde reaksie het vir PMS. En nee ek praat nie van vrees en paniek nie. Omdat ons spesie nie ‘n fênsie drieletter afkorting daarvoor het nie, gaan ek nou maar sommer een opmaak. LMS oftewel lunar madness syndrome. Ook genoem maansiek, met die maan gepla wees, huil vir die maan ensovoorts.

Hierdie toestand takel mans na bewering met volmaan en maak hulle dinge doen wat hulle onder normale omstandighede nooit eers sou oorweeg nie. Net soos PMS in vroue. Simptome is onder andere humeurigheid, kommunikasie in enkel lettergrepe en algemeen irrasionele optrede. In meeste mans kom hierdie toestand een maal per maand rondom volmaan voor. Die lieftallige vroutjie het ‘n teorie dat dit verband hou met die aantrekkingskrag van die maan en die vloeistof in ‘n man se kop, ek dink die toestand – as dit enigsins bestaan – is ‘n bose komplot deur blommeverkopers en sjokolade vervaardigers om meer produk te verkoop. Een maal per maand tydens volmaan word een of ander iets in die water resevoirs gegooi wat mans koekoes maak en dan word dit op die maan blameer. Die gevolg is dat daar hope blomme en sakke vol sjokolade gekoop moet word om jammer te sê.

In elk geval. In die wosonki-grot is dit ongelukkig so dat PMS en die beweerde LMS op dieselfde tyd val, met chaotiese gevolge natuurlik. Die pas afgelope naweek was daar blykbaar ook nog ‘n gedeeltelike maansverduistering. Pandemonium! Daar word byvoorbeeld beweer dat terwyl ons staan en kosmaak het Sondagmiddag en ek besig was om ‘n hele berg uie te kerf, van die uie uit die bord gegly en op die vloer geval het. Terstond het ek na bewering die hele bord uie op die vloer omgekeer met die woorde ” . . . as julle dan op die vloer wil lê, fok dan soontoe! . . .” en uit die kombuis gestorm. I have no recollection of that. Maar my vrou en my skoonma is albei in trane en daar is so koue poolwindjie wat waai as ek by ‘n vertrek instap. Ek wonder hoekom?

Ek dink steeds die hele LMS ding is ‘n versinsel deur vroue om mans te laat skuldig voel. In die woorde van die ikoon Bart Simpson ” I didn’t do it, nobody saw me do it. Cant prove a thing!”

Jaco


. . . malkoeisiekte? . . .

Augustus 18, 2008

Dis vir my ‘n wonder dat ek vir die volle 14 jaar wat ek op die voorbehoedinspuiting (Depo Provera) was, ek nie mood swings gehad het nie. Ek het selde gehuil. Ek het Atilla the Hun ore aangesit as dit gekom het by “gryp hom aan die hare en ry hom bloots” in alle situasies. En noudat ek al 2 jaar nie meer die inspuiting kry nie, verander het in ‘n wandelende-depressiewe-huilende-bondel-hormone.

Ek het bietjie gaan oplees by Wikipedia en die volgende oor PMS en vroulike hormone gekry:

“PMS is a collection of symptoms. More than 200 different symptoms have been identified, but the three most prominent symptoms are irritability, tension, and dysphoria (unhappiness). The exact symptoms and their intensity vary from woman to woman. Most women with premenstrual syndrome experience only a few of the problems. The following symptoms can also be attributed to PMS:

Abdominal bloating

Abdominal cramps

Breast tenderness or swelling

Stress or anxiety

Aggression

Trouble falling asleep (insomnia)

Joint or muscle pain

Inability to finish thoughts

Headache

Fatigue

Acne

Extreme tearfulness

Unpredictable bursts of anger

Mood swings

Worsening of existing skin disorders, and respiratory (eg, allergies, infection) or eye (bulbar disturbances, conjunctivitis) problems

So, ek is nie besig om mal te word nie. Ek kry AL die bogenoemde simptome. En ek is nie alleen nie. Somehow, dink ek, is daar ‘n glips gemaak in hierdie samestelling van ons natuur en hoekom ons hierdeur moet gaan ter wille van voortplanting. Die risiko faktore volgens die artikel is “increasing age”. So dit gaan erger word? Agvokkietoggie, asseblief nie!?!?!?!?!!!!!!

Kan ons nie maar net ‘n knoppie druk en swanger word nie? Dit sal soveel makliker wees en soveel k@k uitskakel. En soveel onwelkome swangerskappe uitskakel. Mind you, dit moet tog asb nie ‘n knoppie wees wat “per ongeluk” gedruk kan word nie.

Ek (ons) moet dus hiermee cope tot ons swanger word, terug op die inspuiting gaan of menopause inskop. Is ek die enigste een op hierdie depressiewe-huilende-bondel-hormone-planeet?

Krista

P.S. Hierdie was Wosonki se 300 ste inskrywing.


So bietjie geskiedenis

Augustus 16, 2008

‘n Dokumentêre reeks in 7 dele oor die bosoorlog in Angola/Suidwes Afrika (1966 – 1989) wat ek toevallig op youtube raakgeloop het. So bietjie lank maar oor en oor die moeite werd as jy wil weet wat daar gebeur het, en terselfdertyd ook bietjie van SAW en seuns in aksie wil sien.

Jaco


Wat beteken vriendskap vir jou?

Augustus 15, 2008

Ons praat nou nie van terloopse kennise wat jy nou en dan raakloop nie, maar ware vriende wie se vriendskap die toets van tyd deurstaan het.

Ek en Lyfie is nogal baie spesifiek in wat ons verlang uit so ‘n vriendskap uit. Eerstens benader ons ‘n toegewyde vriendskap soos ‘n huwelik. Dit is iets wat gekoester en voortdurend aan gewerk moet word. ‘n Ware vriend(in) is iemand met wie jy jou diepste hartsgeheime kan deel en weet dat dit altyd as persoonlik en vertroulik behandel sal word. Dit is iemand wat eerlike raad sal gee, selfs al is dit raad wat jy nie wil hoor nie. Dit is iemand wat jy drieuur in die more kan bel as die kopwurms te erg raak, en hy/sy sal oorkom sonder om ‘n oog te knip of vrae te vra. Basies iemand wat jou belange op die hart dra, nes ‘n lewensmaat sou met die een verskil dat julle nie romanties betrokke is nie. Natuurlik moet so ‘n persoon ook dieselfde van jou verwag, en kry.

Eerbare gedagte, maar in praktyk blyk dit heelwat moeiliker te wees. Vir ons in elk geval. Selfs mense wat ons werklik gedink het ons as ware vriende kan tel, blyk nie altyd die mas op te kom in ‘n ware krisis nie. Somtyds deur ons eie hardkoppigheid. En ons smag werklik na ten minste twee of drie sulke vriendskappe. Die rede hoekom ons dit nog nie het nie, is waarskynlik vasgevat in die volgende redes.

In vandag se gejaagde lewe is mense geneig om altyd eerste te dink wat se voordeel daaruit geput kan word deur ‘n sekere vriendskap te sluit, m.a.w. vriendskappe word soos gewone netwerking benader. Op dieselfde trant wonder mense altyd wat se verskuilde intensies jy het as jy iets buitengewoon goed vir hulle doen, want mense vertrou nie meer goedsmoeds nie.

Ek en Lyfie vind meestal aanklank by mense wat 10 jaar plus ons senior is, wat waarskynlik ‘n aanduiding is dat ons of heeltemal verstok, of oud voor ons tyd of selfs pleinweg vol nonsens is.
Verder is ons ook beide groot introverte en boonop oorgewig – wat ‘n massiewe sosiale no-no is.

As daar nog ware vriendskappe buiten die tweetjies wat ons uit die kinderskoene probeer help daar buite is, sal ons ons uiterse bes doen om dit te vind. Die soektog gaan aan.

So Wat het jy nodig om my/ons vriend te wees?

Ons weet nie of mense dink ons meet vriende/kennise/ander aan hulle besittings nie. Of hoe vêr hulle gekwalifiseerd is nie. Of wie hulle ken nie. Of wat ek by hulle kan kry of hulle vir ons kan doen nie.
Vir ons maak dit nie saak of jy in ‘n 16 slaapkamer huis of ‘n krot bly nie. Of jou diefwering weekliks gepolish word en of daar jare se stof daarop lê nie. Of jy ‘n Hummer of ‘n ou jaloppie ry nie. Of jy Dr of Prof is en of jy net St. 8 het nie. Of jy Prada of Penny C of P.E.P. Stores dra nie. Of jy jou hare met salonprodukte of skottelgoedseep was nie. Of hoeveel jy weeg of nie weeg nie.
Ons vertrou moeilik. Dit vat ‘n rukkie voor jy in die “circle of trust” toegelaat gaan word. En as jy eers daarin is en jy maak k@k droog op ‘n nat sak, is die sirkel vir ewig vir jou gesluit.
Ons vereistes vir ‘n volwaardige vriendskap:

  • Soos wat ons jou aanvaar vir wie jy is, verwag ons dieselfde van jou
  • Wees altyd eerlik en reguit, ons verdra nie skynheiligheid of om die dam snel met ‘n grassie in jou holletjie nie
  • Moenie uitpraat oor iets wat ons jou in vertroulikheid meegedeel het nie, en ons sal dieselfde met jou doen
  • IOns sal vir jou ‘n geduldige oor wees – maak nie saak hoe lank en hoe gereeld jy nodig het om af te pak by ons nie, maar op ‘n stadium gaan ons jou vertel dat jy jou vinger uit jou cosy ass moet trek en begin om iets te doen aan jou omstandighede as dit enigsins in jou hande is om iets daaraan te doen
  • Ons verwag dan ook dat jy tyd moet hê vir ons as ons dinge wat druk met jou wil bespreek – en ons gaan nie praat oor ‘n drukkende panty- of onderbroekrek nie

Is wat ons verwag so verskriklik moeilik of seldsaam?
Krista & Jaco


Herdefinieer Jaco: Deel IV – My huwelik, familie en vriende

Augustus 13, 2008

En dan ten einde laaste, die vierde en laaste been van my ontdekkingstog na binne. Ook geen oomblik te vroeg nie, want ek is al hartlik gatvol vir myself. Gelukkig los ek die beste vir laaste, die straaltjie sonskyn in ‘n andersins stormagtige reis.

My Lyfie, my Liefie, my maat, my leermeester, my anker en my rots. Een van die redes hoekom ek tog glo daar is ‘n opperwese. Onopvallend van buite en tog so waardevol vir my, die spilpunt van my bestaan.

My oom Hennie, my gewete, my lantern in die wapad, my mentor. Ongevraagd het hy sy oorlede broer se rol as vader in my lewe oorgeneem. Sonder vergoeding en dikwels sonder erkenning, maar nooit is ek weggewys nie. Ander familie, en hier moet ek veral die Jouberts uitsonder. Elkeen van julle het op julle eie manier ‘n spoor in my lewe getrap. Daarvoor is ek dankbaar.

En dan is daar die vriende, die bitter min wat ons toegelaat het om agter die masker te kan loer, julle weet wie julle is. Dankie. Ons is dikwels ongenaakbaar in ons oordeel, gereeld moeilik om mee oor die weg te kom maar altyd, altyd, lojaal. Ons maak nie maklik kennisse nie, nog moeiliker vriende. maar julle sal altyd in ons harte wees.

Ek is nou klaar
Ek voel vreemd leeg

Jaco