Ons praat nou nie van terloopse kennise wat jy nou en dan raakloop nie, maar ware vriende wie se vriendskap die toets van tyd deurstaan het.
Ek en Lyfie is nogal baie spesifiek in wat ons verlang uit so ‘n vriendskap uit. Eerstens benader ons ‘n toegewyde vriendskap soos ‘n huwelik. Dit is iets wat gekoester en voortdurend aan gewerk moet word. ‘n Ware vriend(in) is iemand met wie jy jou diepste hartsgeheime kan deel en weet dat dit altyd as persoonlik en vertroulik behandel sal word. Dit is iemand wat eerlike raad sal gee, selfs al is dit raad wat jy nie wil hoor nie. Dit is iemand wat jy drieuur in die more kan bel as die kopwurms te erg raak, en hy/sy sal oorkom sonder om ‘n oog te knip of vrae te vra. Basies iemand wat jou belange op die hart dra, nes ‘n lewensmaat sou met die een verskil dat julle nie romanties betrokke is nie. Natuurlik moet so ‘n persoon ook dieselfde van jou verwag, en kry.
Eerbare gedagte, maar in praktyk blyk dit heelwat moeiliker te wees. Vir ons in elk geval. Selfs mense wat ons werklik gedink het ons as ware vriende kan tel, blyk nie altyd die mas op te kom in ‘n ware krisis nie. Somtyds deur ons eie hardkoppigheid. En ons smag werklik na ten minste twee of drie sulke vriendskappe. Die rede hoekom ons dit nog nie het nie, is waarskynlik vasgevat in die volgende redes.
In vandag se gejaagde lewe is mense geneig om altyd eerste te dink wat se voordeel daaruit geput kan word deur ‘n sekere vriendskap te sluit, m.a.w. vriendskappe word soos gewone netwerking benader. Op dieselfde trant wonder mense altyd wat se verskuilde intensies jy het as jy iets buitengewoon goed vir hulle doen, want mense vertrou nie meer goedsmoeds nie.
Ek en Lyfie vind meestal aanklank by mense wat 10 jaar plus ons senior is, wat waarskynlik ‘n aanduiding is dat ons of heeltemal verstok, of oud voor ons tyd of selfs pleinweg vol nonsens is.
Verder is ons ook beide groot introverte en boonop oorgewig – wat ‘n massiewe sosiale no-no is.
As daar nog ware vriendskappe buiten die tweetjies wat ons uit die kinderskoene probeer help daar buite is, sal ons ons uiterse bes doen om dit te vind. Die soektog gaan aan.
So Wat het jy nodig om my/ons vriend te wees?
Ons weet nie of mense dink ons meet vriende/kennise/ander aan hulle besittings nie. Of hoe vêr hulle gekwalifiseerd is nie. Of wie hulle ken nie. Of wat ek by hulle kan kry of hulle vir ons kan doen nie.
Vir ons maak dit nie saak of jy in ‘n 16 slaapkamer huis of ‘n krot bly nie. Of jou diefwering weekliks gepolish word en of daar jare se stof daarop lê nie. Of jy ‘n Hummer of ‘n ou jaloppie ry nie. Of jy Dr of Prof is en of jy net St. 8 het nie. Of jy Prada of Penny C of P.E.P. Stores dra nie. Of jy jou hare met salonprodukte of skottelgoedseep was nie. Of hoeveel jy weeg of nie weeg nie.
Ons vertrou moeilik. Dit vat ‘n rukkie voor jy in die “circle of trust” toegelaat gaan word. En as jy eers daarin is en jy maak k@k droog op ‘n nat sak, is die sirkel vir ewig vir jou gesluit.
Ons vereistes vir ‘n volwaardige vriendskap:
- Soos wat ons jou aanvaar vir wie jy is, verwag ons dieselfde van jou
- Wees altyd eerlik en reguit, ons verdra nie skynheiligheid of om die dam snel met ‘n grassie in jou holletjie nie
- Moenie uitpraat oor iets wat ons jou in vertroulikheid meegedeel het nie, en ons sal dieselfde met jou doen
- IOns sal vir jou ‘n geduldige oor wees – maak nie saak hoe lank en hoe gereeld jy nodig het om af te pak by ons nie, maar op ‘n stadium gaan ons jou vertel dat jy jou vinger uit jou cosy ass moet trek en begin om iets te doen aan jou omstandighede as dit enigsins in jou hande is om iets daaraan te doen
- Ons verwag dan ook dat jy tyd moet hê vir ons as ons dinge wat druk met jou wil bespreek – en ons gaan nie praat oor ‘n drukkende panty- of onderbroekrek nie
Is wat ons verwag so verskriklik moeilik of seldsaam?
Krista & Jaco
Augustus 15, 2008 at 7:23 vm |
Vriendskap is iets waaroor mens boeke kan volskryf. Ware vriende in my lewe is maar min, maar dis seker omdat ek so baie rondtrek. Snaaks genoeg, dit lyk my cvolkome eerlikheid in vriendskap is iets wat afhang van kultuur. In ander lande is ware vriende mense wat altyd vir jou gaan vertel wat jy graag wil hoor en nie noodwendig die waarheid nie.
Augustus 15, 2008 at 7:35 vm |
Ek het my al gedaan gesoek, maar daardie bande ontwyk my nog steeds. Ek het my een of twee vriendinne, maar nou sit hulle ook so ver dat ek hulle selde ooit of nooit sien nie…. My soektog gaan steeds voort!
Augustus 15, 2008 at 8:40 vm |
Verskoon my as ek weer lag terwyl julle oor so ernstige onderwerp wil praat. Maar rerig: ‘grassie in die holletjie’! Wie van julle dink sulke goed uit??
(My bet is op Krista)
Ek dink nie julle vereistes is te moeilik nie, mits daar ‘chemistry’ tussen julle was. Dis snaaks hoe mens met sekere mense kan bond, en met ander nie, al is hulle ook hoe nice. Die vertroulikheid-aspek is vir my ook belangrik. As jy nie by jou vriend/e kan galbraak nie, what’s the point?
En ‘n vragie van my eie. Kan mens internet/blogvriende he? Iemand het my nou die dag daaroor bevraagteken.
Augustus 15, 2008 at 8:42 vm |
Boendoe, ek dink wel so. Blog-vriende is nie noodwendig mense by wie jy jou diepste geheime blootlê nie, maar kry tog ‘n kykie in mekaar se siele/harte en leer mense so ken.
Augustus 15, 2008 at 9:08 vm |
Ons dink presies dieselfde oor vriendskap! Ek kan absoluut NIKS byvoeg nie! Mense wat soos “ons” oor vriendskap voel, is nie gesaai nie, hulle is geplant!
Naas my huwelik – is my vriendskappe die kosbaarste “bates” in my lewe en dis iets albei wat harde werk vat om in stand te hou! Ek het ALTYD tyd vir my vriende en hulle weet hul kan 24/7 vir my met enige iets pla, selfs ‘n onderbroek en pantie wat druk! (hahaha)
Ek dink dis plein WREED dat mense op hul uiterlike en hul besittings beoordeel word of hul jou vriendskap werd is of nie!! Sulke goed maak my sommer bos-bedinges! Dis wat in die hart aangaan wat WERKLIK saakmaak!
Augustus 15, 2008 at 10:00 vm |
Ek het al gedink ek verwag te veel van vriendskappe. Maar dit moet alles wees, of niks nie. En sjoe, dank die Hemelse Vader dat ek wel sulke vriende het. Ek moet met skaamte erken dat ek soms ‘n minder goeie vriendin is as wat ek vriende het. En glo my dis my voorneme om te verbeter.
Vriendskappe vat tyd en energie en verdraagsaamheid en baie liefde. En viva julle! wat dit besef.
Augustus 15, 2008 at 10:34 vm |
[...] August 15, 2008 Posted by vygie in Uncategorized. trackback So in die lyn van Jaco en Krista wat oor vriendskap skryf. Wanneer mens op ‘n nuwe plek intrek, is dit nogal ‘n ding. Jy [...]
Augustus 15, 2008 at 10:48 vm |
Ware vriende is baie uniek. Daar moet duidelike onderskeid tussen jou vriende en kennise wees. Daar is gewoonlik dan net ‘n handvol met wie jy alles kan deel, en wie vir mekaar enigiets eerlik kan sê sonder dat dit op ‘n fight gaan uitloop.
Dit is wonderlik om ware vriende te hê, maar dit is nie die helfde so vervullend as om ‘n ware vriend te wees nie.
Julle verwag definitief nie te veel nie. Dit is waar die vriende/kennisse skeidslyn inkom.
Augustus 15, 2008 at 11:08 vm |
Ek soek eerlikheid, opregtheid en vertroue in ‘n vriendskap. Iemand wat my aanvaar soos wat ek is. Miskien is dit te veel gevra? Ek weet nie … het nog nie op daardie vriendskap afgekom nie.
Augustus 15, 2008 at 11:16 vm |
Verskillende mense, verskillende kwaliteite. My een vriendin is bv verskriklik reguit, maar ek weet sy’t ‘n goeie hart en soms is haar skerp woorde aan my nodig. Ek vat dit van wie dit kom. Die ander een is weer ‘n soetjies-poep, maar ek weet sy bid vir my en dra my en my gesin se belange op die hart. Ensovoots! Niemand is perfek nie. Ek kan nie verwag om perfekte vriend/inne te hê as ek self so ‘n misvaagsel is nie. Buiten skynheiligheid is daar net een NO-NO by my wat vriendskap betref. MOENIE my 3 uur in die oggend bel nie (mits jou lewe in gevaar is)! Ek’s baie lief vir my slaap en my vriende weet dit.
Augustus 15, 2008 at 12:09 nm |
Ek voel soos Roer. Behalwe op een punt.
Bel my maar 3h in die nag. Selfs al as jy ‘n kennis.
Augustus 15, 2008 at 1:03 nm |
Dit is vir my baie moeilik om vriende te maak. Die twee wat ek al gehad het, het of getrek en ons het kontak verloor (nog op skool), die ander een het my in die rug gesteek na omtrent 3 jaar se goeie vriendskap. So ek is maar BAIE versigtig en vertrou nie maklik nie.
Van die os op die jas: Die tannie wat die lekker vetkoeke gebak het, gaan moontlik Maandag weer ‘n nuwe Coffee Shop begin en moontlik weer die vetkoek ding doen. Sal julle op hoogte hou as julle weer hierheen kom.
Augustus 15, 2008 at 1:51 nm |
Ek dink weer nie dat vriendskap veronderstel is om sulke harde werk te moet wees nie. Alles in die lewe is harde werk. Regte vriendskap behoort gemaklik te voel sonder om altyd te diep te wees. Daar moet ‘n balans wees tussen diep dinge, harstsake en lawwigheid, dink ek. Dis hoe ek ons vriendskap ervaar. Daar is tye vir dood ernstig voel en almal hard moet dink en wonder oor die volgende stap, maar daar is ook tye wat ons ons gatte kan aflag vir niks in besonder nie. Alles hoef nie altyd ‘n ander betekenis te he nie. Die lekkerste is om te weet daar is mense wat lief is vir jou, liewer as jou familie jou het, en ook nader aan jou is as hulle. Dis om gemaklike stiltes te he waar niemand verplig is om iets te se nie. Dis om te voel dat as Jaco in die geselskap aan die slaap raak, dit nie is oor hy ons boring vind nie, maar dat hy gemaklik genoeg met ons is om sy Guard weg te vat en te weet hy is veilig om net sy oe toe te maak vir ‘n rukkie. En om te weet ek hoef nie my huis silwer skoon, kinders stil en skoene aan die voete te he voor julle kom kuier nie. Ek persoonlik dink dat ons nie vir beter vriende as julle kon gevra het nie. Julle is gawe , goeie mense met harte van goud, perfectly imperfect, mense vir wie ons verskriklik lief is.
Augustus 15, 2008 at 5:06 nm |
Ek het ‘n paar sulke vriende. My verseistes verskil nie veel van julle s’n nie. Sommige van my vriende sien ek eenmaal ‘n maand, maar dis as gevolg van werksverpligtinge – en as ons dan bymekaarkom, kuier ons ‘n hond uit ‘n bos uit. Dit is so lekker as ons eers begin met “onthou jy nog?” want ons vriendskap strek al oor jare. Dis die tipe mense by wie ek rerig myself kan wees, in ‘n spaghetti top kan rondloop al is ek oorgewig, en eenvoudig net gemaklik kan voel. Ek stem saam met Rene, hierdie mense is geplant, nie gesaai nie. En ek KAN hulle bel 3uur in die oggend. En hulle weet hulle kan dieselfde doen. Dis ‘n lekker gevoel om te weet iemand is altyd daar vir jou.
Boendoe, ja!!! Internet vriendskappe is real! Hoe kan jy twyfel?
Augustus 15, 2008 at 5:45 nm |
Vir my is dit belangrik dat ‘n vriendskap ‘diep’ moet wees. Ek wil nie net oor ditjies en datjies gesels nie, maar ek het egter geleer dat mens iets anders kry uit elke vriendskap.
Elkeen van my vriende beteken vir my iets anders en ek mis elkeen van hulle. Ek het al in 3 lande en verskillende plekke gebly, soms het ek net nodig om met ‘n spesifieke een te gesels oor iets, waaroor net ons twee altyd so lekker kon gesels.
Ek bly nou 6 maande op hierdie eiland en sukkel om aanklank by iemand te vind, dit vat my lank, maar as ek vriende maak is dit vir ewig.
Ek dink blogvriende kan defnitief hegte vriende raak.
Augustus 15, 2008 at 10:03 nm |
Ons vriende is vir ons baie spesiaal. En ja ons voel presies soos julle oor die vereistes.
Vertroue speel ook ‘n baie groot rol. En ja ons vertrou ook baie moeilik, dus as die vertroue verbreek word, is die “trust” dadelik by die agterdeur uit.
Ek kies vriende vir die hart wat daar binne klop! Ek kan nogal lekker saam my vriendinne gaan window shopping by Prada en in Pep stores inloer.
Ek dink mens kan internet blog vriende hê, hier is ‘n paar mense in die wêreld wat mens nog kan vertrou!!!
Augustus 17, 2008 at 8:16 nm |
Vriende is iemand wat 11 uur in die nag na jou huis toe sal kom as jy hulp nodig het met ‘n siek kind. Dis iemand wat vir jou blomme bring vars uit haar tuin gepluk. Dis iemand wat jou kar se fenbelt kom help regmaak as jy langs die pad gaan staan. En …jy doen presies dieselfde. Dis vriendskap, gee en neem. Jy moet eers ‘n vriend wees voor jy een kan he.
Augustus 18, 2008 at 10:29 vm |
Ek is seker dat ons almal na die regte vriendskap soek – een waar jy waarlik net jouself kan wees en waar hy gemaklik en bo alles, veilig voel.
Ek het nou een middag tot die harsteer, ontnugterende ontdekking gekom dat ek niemand het wat ek kan bel en se ek voel sad nie. Dat ek niemand het by wie ek n glas wyn kan gaan drink en afpak nie. Dat daar baie mense is wat se hulle sal altyd daar wees as ek hulle nodig kry, “druk op my knoppie”, maar baie min wat dit waarlik bedoel. Daai knoppie is damn klein as jy hom regtig moet druk en die ou aan die anderkant is oor die algemeen haastig, of sit in die verkeer, of bad gou die kinders…
Ek het met n merske skok tot die besef gekom dat vriendskappe meer as lipservice, n verhouding moet wees, en ek het tot nou te veel tyd aan kinders en huwelik spandeer om enige kwaliteit tyd aan n vriendskap af te staan – to my detriment.
Jy is reg Jaco, n vriendskap is n verhouding – as so een jou kant toe kom moet jy hom oppas en vertroetel en aan hom werk…
Ek is nou sommer morbied!!
Augustus 19, 2008 at 3:27 nm |
Vriende is mense vir wie ek lief is – maakie saak wie en wat hulle is, het of doen nie. Ek is lief vir julle…. Julle is my vriende.
Een vir jou: x en een virrie Narciepit: x
(*tsk* @ senior…
LOL!!)
Maart 31, 2009 at 7:47 vm |
Dis een van die hartseerste goed in die lewe dat mense alleen, veroordeel, of verwerp is of voel. Die siekte van ons tyd het geword dat vriendskap, verhoudings nie meer komitment vra van mense en mense dit nie meer gee. Mense hardloop in en uit verhoudings en laat net wrakke agter wanneer gaan ons soos Jesus mense onvoorwaardelik lief he, vergewe en help bou aan hulle misrabele lewentjies. Ons hardloop eerder weg, of trap die arme ou tot daar dan letterlik niks van hom/haar oor is nie want hul voldoen nie aan ons misrabele A standaarde nie en ons klassifiseer mense laer as onsself net omdat ons in ons geestelike hoogmoed werk aan ons ewige dood. Dit klink hard maar geestelike hoogmoed is die grootste vernietiger van mense, selfs in ons kerke vandag. Ons moet leer om te help, raad te gee, en bo alles krag by God te put om dit alles te kan doen.As ons verder dink oor wat ons mense aan ettiketeer dan dink ek dit is skrikwekkend, daar is mense wat dit al vervolmaak het en dit in ‘n japtrap kan doen sonder om te blik of te bloos, of te weet wat was die omstandighede wat daardie gedrag daar gestel het. Ten laaste het ek dit nooit geglo nie maar ek begin al hoe meer en meer. Mense wat nie in hulle gees heel is nie, KAN NIE LIEF HE NIE! Hulle laat ‘n pad van vernietigde mense agter.
Word heeel en he dan voluit lief sonder hangups, boekkietjies van die kwaad, totaal onvoorwaardelik.