
Daar is nie genoeg woorde (sleutels) op die keybord om my dag van Maandag te beskryf nie. Boy, what a day!
Die storie begin so:
Op 23 Oktober – die 1ste dag van my eksamen en Lyfie se verjaarsdag – gaan Moeder na ‘n internis toe, verwys deur haar huisdokter (agv haar borspyne en kortasemrigheid). Sy moes 3 maande vir die afspraak wag so besig is die ou. Moeder se sussie vergesel haar toe. Na die derde uur in haar afspraak in, raak ek al hoe meer bekommerd – ek bedoel, daar is net soveel om te sien! Die dr. spesialiseer in kardiologie, hipertensie en nog so ‘n paar ander vloekwoorde.
UIteinde van die saak is dat sy toe geskeduleer word vir ‘n angiogram met moontlike stent-plasings vir Maandag-oggend (gister).
Die vak wat ek gister sou skryf, val toe geheel-en-al deur die planke wat voorbereding aanbetref, wat beteken dat ek van Vrydag-aand tot Maandag-middag gehad het om deur die werk te kom en iets te onthou. Omdat ek toe nou so onrustig oor Moeder was en al hoe meer stres, kry ek niks in my verdomde brein in nie. Fokkol, nada, zilch, buggerall. Saterdag-middag kuier ons toe by Jaco se oom (minus ‘n regter been) en omdat niemand anders opdaag vir enige besoektyd nie, kuier ons toe tot 8 uur. Sondag-oggend is ons toe uit vir ‘n belated birthday brekvis vir Lyfie.
EK spring toe verwoed aan die werk (baie te laat, ek weet, ek weet) en leer wat ek kan. Later sien ek ek kom nie deur die werk nie en spot toe ‘n paar vrae. Maandag-oggend 5:30 sit ons toe af hospitaal toe, ekke met die boeke onder die arm (want ek sal mos kans kry by die hospitaal om bietjie te leer). Boek by die hospitaal in, kom in die saal aan by die snaakste rooikop nurse wat ‘n baie groot bek, ek bedoel mond het. En sy’s werklik snaaks! (Sy noem al die mans “boet Fasie” en giggel lekker as sy hulle moet skeer. Sy het die atmosfeer verlig en almal aan die giggle gehad. Natuurlik baie goed vir my voorneme om te leer, nê?
Moeder is net voor 11 uit die teater uit, darem met goeie nuus: geen blokkasies in die are nie, maar die dr. wil spesiale plate van haar longe neem. Boetie kom neem toe oor 11 uur en ek vat toe die pad skougronde toe. En ek leer. En leer. En maak rympies. En leer. Om die storie kort te maak, ek het toe van die vrae kon doen, maar het die pot geheel-en-al mis gesit met die fokken lang vraag van 25 punte wat ‘n 1/3de van die vraestel tel. Nie eers effens geraak nie, sommer die hele kakhuis kleinhuisie misgesit!!!!!!!!
Vlie toe daar op met ‘n moerse spoed toe die eerste uur verby is (Ek skryf nooit langer as ‘n uur aan enige vraestel nie, maar dis ‘n kwessie vir ‘n ander keer) omdat ek nou vir Buti moet gaan aflos by moeder omdat hy ook dinge het om te doen. Klim in die kar en . . . fokkol niks! Die donnerse kar wil nie start nie. Hy draai, maar verder niks. En ek is so haastig, my hol ek vreet sulke happe uit die spons, maar fokkol niks! En dit na ‘n kak vol naweek, fokkol min slaap en ‘n uiters kak slegte vraestel!
Nou staan die saak so: Koos het reeds sy 3 waarskuwings weggehad, en hy is vertel dat as hy my weer gaan drop, dit die streep sal trek. Ek het hom toe gister mooi vertel van intrades, vuurhoutjies, diefstal en so meer. En gedreig en geskop en gebid en tot 100 getel en gegrens en . . . en toe maar vir Lyfie gebel. Lyfie vertel toe vir my hy kom, Buti laat weet hy kan nie te lank bly nie, ek voel ek moet plan maak. Ek try ‘n uur lank . . .
Lyfie was seker so 6 blokke van my af, toe start die fokker bliksem! Kan jy dit in jou lewe oorvertel?!?!?!?. Ek laat weet vir Lyfie hy moet maar nog steeds kom sodat ons kan karre omruil sodat ek vir Moeder by die hospitaal kan gaan haal. Ek bel intussen vir Buti en vra of hulle nie tog maar vir Moeder kan huis toe bring nie synde dat sy naby aan ontslaan is en hy stem toe in. Toe moet ek mos nou weer vir Lyfie bel om vir hom te sê hy moet omdraai, ek kom met die kar huis toe. Oh my word! Daar beleef Lyfie toe ‘n gemoedsbekakking van epidermiese proporsies episode en sit die foon in my oor neer.
En dit was toe nou die laaste strooitjie op ‘n holruggeryde kameel se vrag! Toe doen ek wat ander vrouens doen en wat ek absoluut verpes om te doen: ek bars in trane uit! Damn!
Die episode is toe darem uitgesorteer toe ons by die huis kom – daar is weer vrede in die Fillistynse woestyn. Koos weet hy’t my by die short-and-curly’s beet omdat ons nie op hierdie stadium kan bekostig om hom in te ruil nie. Maar ek kry darem so ‘n bietjie genoegdoening as ek die Wiele-supplement van die Beeld hardop lees waar hy kan hoor en al die ander rygoed daarin in kleur-en-geur bewonder!
Wat ‘n dag!
Ek hoop die res van my week lyk beter . . .
Krista