
Die volgende storie is ‘n parodie. Enige ooreenkoms met persone en/of gebeurtenise huidiglik en/of in die verlede is blote toeval.
Die langslopende televisiereeks in die land moet sekerlik die sirkus wees. Ek kan wraggies nie aan een ander program (behalwe die nuus) dink wat so lang ononderbroke strekking gehad het nie. Die sirkus het oorspronlik by ons aangeland van oor die groot water af as ‘n sindikaatprogram met die naam People on Lowish Income Training in Corruption and Sneakiness oftewel P.O.L.I.T.I.C.S. Sommer gou gou is die naam aangepas na Suid Afrikaanse toestande toe en het P.O.L.I.T.I.C.S. Nat Partytjie oftewel N.P geword
Nou die eerste hoofnar van die N.P. sirkusgroepie wat ek kan onthou was ‘n komediant met die verhoognaam “groot krokodil” Sy kenteken toertjie was so skewebek gesig terwyl hy met sy vinger driftig in die lug beduie het. Dan het hy iets gebulder van die rubicon. Ek was nog te jonk om te verstaan, maar ek dink die oom het gesukkel met sy rubiks blokkie.
Ou krokodil is opgevolg deur ene Flat Wheel. Die ou was regtig nie snaaks nie, maar soos my oorle pa altyd gesê het, hy was miskien ‘n kaal kol met hare om maar hy wassie ‘n poephol nie! Flat Wheel het ‘n onafhanklike sirkusgroep gekontrakteer om die komediefunksie te verrig. Het ek al genoem dat die N.P. nie die enigste sikus in die dorp was nie. Verskeie kleiner onafhanklike sirkusse het ook bestaan, en die hoofnarre by van die kleiner sirkusse was nogal regtig snaaks. Ek onthou spesifiek een wat soos my oom op die plaas gelyk het met vaal veldklere en ‘n digte baard en wat kort-kort van sy perd afgeval het. Ek dink sy naam was E.T. Hy was so goed dat Stephen Spielberg later ‘n fliek oor hom gemaak het.
Maar ek dwaal af. Die hoofnar van die onafhanklike sirkusgroepie wat deur Flat Wheel gekontrakteer was, was so goed dat hulle sommer later die hele N.P. sirkusgroep uitgekoop en die naam verander het na Another New Circus oftewel A.N.C Daar is vandag tot ‘n liedjie ter ere van die hoofnar van die A.N.C Dit gaan so: ♪ . . . and the seagull’s name was Nelson, Nelson who came from the sea . . .♪ omdat hy blykbaar oor die see op ‘n eiland gewoon het. So groot was die buiteland se belangstelling in Suid Afrika se sirkus, dat ‘n hele nuwe sirkus gestig moes word wat spesialiseer het net in dieretoertjies. Daarin was bulle, leeus, cheetahs, olifante, griffons, haaie, valke, poemas en selfs ‘n paar springbokke. Hierdie subdivisie van die A.N.C. sirkus staan bekend as Rowwe Utte Gooi Baie Ys oftewel dan R.U.G.B.Y, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.
Nadat Nelson se twist verander het in ‘n skuifel, is hy opgevolg as hoofnar deur so koddige kort mannetjie met ‘n kromsteelpyp. Sy optredes het blykbaar iets te doen gehad met meubels as mens na sy verhoognaam kyk, maar niemand het dit ook gesien nie want hy was permanent oorsee besig met navorsing en het nooit by sy eie sirkus opgetree nie. Dan is dit seker ook nie snaaks dat hy kort voor lank deur die sirkusbestuur afgedank is nie. ‘n Temp hou intussen sy plek terwyl daar na ‘n nuwe hoofnar gesoek work.
Alle indikasies is dat die volgende hoofnar deel van ‘n tweemanskap gaan wees. Ene Jakob Zoem Zoem en Julius Mal –Enema. Ek vermoed hulle noem hom Mal-Enema want jy kry nogals so pyn in jou jy-weet-waar as hy sy verskyning maak. Bitter min is bekend op hierdie vroee stadium, maar daar is berigte dat hulle dalk Mafia verbintenisse mag hê. Dit spruit uit beweerde voorvalle waar Zoem-Zoem gevra het iemand moet vir hom sy masjiengeweer aangee, en by ‘n ander geleentheid waar Mal-Enema glo gese het hy sal iemand vermoor wat nie vir sy vennoot se toertjies lag nie.
Hoe dit ook al sy, ons het soos gewoonlik weer sitplek in die voorste ry en ons wag in spanning vir die vertoning om te begin.
Viva Suid Afrika! Lank lewe die sirkus
Jaco