
Nou ja daar is dit nou. Die koëel is deur die kerk, 2008 is in sy maai.
Geskiedenis. Ervaring. ‘n Paar kiekies in die onthouboksie.
As enigiemand my so uit die vuis uit moes vra, sou ek dadelik geantwoord het dat 2008 ‘n slegte jaar was vir die Wosonki’s. Maar soos ek deur die inskrywings blaai (183 sover die jaar) word dit duidelik dat my persepsie effens skeef is. Daar was baie goeie dinge ook. 2008 was beslis nie net sleg nie, ‘n waterskeidingsjaar definitief, maar definitief nie net sleg nie.
Vergun my dus nou maar my kort “trip down memory lane” terwyl ek terugkyk op dit wat was en uitsien na dit wat kom.
Januarie
Aai hoe lekker, die begin van ‘n vars nuwe jaar. Die geesdrif loop hoog vir die jaar wat voorlê. Ek maak ‘n paar voorspellings oor die jaar wat voorlê, min wetende hoe akuraat hierdie voorspellings gaan wees! Die res van die maand vlieg verby in ‘n waas van goeie voornemens en dagdromery.
Ek sukkel alweer om te slaap, Eskom krap ons lewens erg om met beurtkrag en ek vier tien jaar diens by die firma waar ek werk. Lyfie wonder oor wat nou eintlik die korrekte manier is om ‘n werksonderhoud te benader en ek lees stilletjies op oor emigrasie opsies Aus toe.
Februarie
Ons skop sommer die maand af met Lyfie se huldeblyk aan my pa wat my skoon hoendervleis gee. Kort daarna op die 14de slaan ek my hand aan die digkuns ter viering van Valentynsdag en ons troudag-herdenking. Toe dit blyk dat ek eerder moet hou by wat ek kan doen, moes ek ‘n haas uit die hoed trek om die dag vir Lyfie spesiaal te maak. Ongelukkig het elke afdraande ook ‘n opdraande, en ons Ierse maatjie Murphy kom tas-in-die-hand by ons voordeur te staan. Hierdie mannetjie is ongelooflik moeilik om van ontlae te raak, dit is al Desember en hy kuier nog steeds. Enige raad welkom!
Maart
Maart was inderdaad Doen-dit-self maand in Wosonkiland, maar die projekkie waarop ek die trotste is, is hierdie poging om gebruikte vloerblokkies in meubelstukke te omskep. Verder gebeur daar nie veel nie, die jaar begin spoed vang en frustrasies begin ophoop.
April
April begin sommer gagga deurdat ek binne die eerste paar dae die eerste van 5 keer die jaar onder die snotsiek-trein-het-my-getrap-virus deurloop. Murphy laat blyk sy teenwoordigheid en Maartmaand se DIY tendens gaan voort. Wosonki (die blog, nie die hond nie) vier sy eerste verjaarsdag. Teen die einde van die maand word ‘n uitstappie waarna ek verskriklik opgesien het, omgeskakel in ‘n baie lekker langnaweek.
Mei
Die enigste manier om Mei te beskryf is maagdraai-wipwaentjie. Ons was al geruime tyd besig om ‘n moontlike verhuising Kaap toe te ondersoek, toe daar skielik ‘n moontlike geleentheid in ons skote val. Na baie gewroeg het ons besluit om dit na te jaag, net om nog ‘n slagoffer te word van ons land se beleid van AA, EE of wat ookal. Drome is verpletter, maar die lewe gaan aan. Lyfie begin eksamen skryf, so daar is toe nie vreeslik baie kans om te tob oor dit wat kon wees nie. Ek raak eers so ‘n bietjie nostalgies en toe so ‘n bietjie kwaad oor dinge van die verlede. Teen hierdie tyd het die depressiemonster my al stewig in sy greep.
Junie
Junie begin met ‘n effense mediese deurbraak. Ek word gediagnoseer met ‘n hormoontekort waarvoor ek 3 maandeliks baie duur inspuitings moet kry, maar dit is elke sent werd! Later in die maand vertel ek die storie van ons ontmoeting, sommer net ‘n nostalgiese terugblik op ons eerste 16 jaar saam. Junie eindig ongelukkig nie so lekker nie deurdat ek in ‘n ligte stampie betrokke is terwyl ek op besigheid in Nelspruit is. My eerste in 18 jaar! Dit merk die begin van ‘n lang string moeilikheid met die kar. Die verdomde Murphy alweer.
Julie
Soos Junie begin Julie goed. Lyfie kry haar eksamen uitslae en slaag aldrie haar vakke. Skielik na soveel jare is daar net 3 oor! Ons gaan ook op ‘n lang verwagte vakansietjie bosveld toe. Dit is juis op hierdie vakansie wat ek so bietjie tyd kry om te dink en met die terugkomlag publiseer ek my eerste in ‘n hele reeks inskrywings oor hoe ek myself wil herdefinieer. Geen plan oorleef eerste kontak met die vyand nie, maar ek is bly om te rapporteer dat 5 maande later ek baie van my planne reeds in werking kon stel, terwyl ek heelwat van die wat nie eerste kontak oorleef het nie ook kon aanpas en maak werk. 2009 lyk inderdaad rooskleurig op persoonlike vlak.
Augustus
Sommer vroeg in die maand moet ons groot besluite maak rondom die aanneming van ‘n pienkvoet. Die amazing BB skryf ‘n liedjie vir Krista. Ek plaas ook die laaste van omtrent 8 inskrywings oor my beplande transformasie. Alles in ag genome, ‘n redelik stil maand.
September
Seker die Wosonki’s se slegste maand hierdie hele jaar. By hierdie tyd het die depressiemonster my baie stewig in sy greep. In ‘n swart bui besluit ek om die blog te sluit maar gelukkig het “sanity prevail” en ons neem ‘n ruskans van blogging vir die res van die maand. Ons breek slegs die stilte om die goeie nuus oor ‘n ander blogmaatjie te deel.
Oktober
Tradisioneel is dit nogal ‘n erg besige maand, en hierdie jaar was geen uitsondering nie. Sommer vroeg in die maand moet my geliefde Jonty, die oorspronklike wosonki, ‘n rugoperasie kry wat ons nie regtig kon bekostig nie. Alles het gelukkig toe goed afgeloop, die operasie was goedkoper as gekwoteer en ons kon die geldjies bymekaarmaak. Lyfie se verjaarsdag was nie so groot soos ander jare nie, finansies was maar boomskraap. Ek sal volgende jaar probeer opmaak. Ons soek (en kry) vir Roxy die basset ‘n huis. Ek baklei alweer met God oor goed wat ek nie verstaan nie. En ek verjaar ook, dieselfde dag as wat Lyfie begin eksamen skryf. Die enigste ander stukkie goeie nuus is dat ons een kar ten minste einde Oktober klaar betaal is, en ja dit is waar van tweedehandse karre en vroue. Sodra hulle op jou naam is, begin die moeilikheid.
November
Ek herdenk die afsterwe van my Pa, heeltemal te vroeg van ons weggeneem. Toevallig op dieselfde ouderdom wat BB se Helgard nog ‘n rekord opstel. Murpy is steeds ‘n huisgas, en hy het vriende gebring.
Desember
Alles is besig, daar is nog soveel om klaar te maak dat ons inskrywings opdroog tot ‘n handvol onsinnige stukkies brabbel. Lyfie se uitslae kom, en sy word ‘n hereksamen toegestaan op 1 vak. Die ander twee kom sy deur. Die sjampanje word vir eers weggesit en ek kry langer tyd om my rendisie van Gaudiamus Igitur te oefen. Volgende jaar verseker! Kersfees het gekom en gegaan, gepaardgaande met ‘n gespook om Lyfie se gymkwota vir die jaar vol te kry. En dan, byna ongesiens staan ons op die drumpel van ‘n vars nuwe jaar.
Die een wat verby is, was nie net lekker of net sleg nie. Daar was net ‘n goeie mengsel van soet en suur, opdraende en afdraende, sonskyn en donderweer. Hier is op die jaar wat verby is. Tjorts!
Jaco en Krista
Bygedra deur wosonki 
Bygedra deur wosonki 
Bygedra deur wosonki 