Nabetragting, voorraadopname en balansstaat

December 28, 2008

newyear2008

Nou ja daar is dit nou. Die koëel is deur die kerk, 2008 is in sy maai.

Geskiedenis. Ervaring. ‘n Paar kiekies in die onthouboksie.

As enigiemand my so uit die vuis uit moes vra, sou ek dadelik geantwoord het dat 2008 ‘n slegte jaar was vir die Wosonki’s. Maar soos ek deur die inskrywings blaai (183 sover die jaar) word dit duidelik dat my persepsie effens skeef is. Daar was baie goeie dinge ook. 2008 was beslis nie net sleg nie, ‘n waterskeidingsjaar definitief, maar definitief nie net sleg nie.

Vergun my dus nou maar my kort “trip down memory lane” terwyl ek terugkyk op dit wat was en uitsien na dit wat kom.

Januarie

Aai hoe lekker, die begin van ‘n vars nuwe jaar. Die geesdrif loop hoog vir die jaar wat voorlê. Ek maak ‘n paar voorspellings oor die jaar wat voorlê, min wetende hoe akuraat hierdie voorspellings gaan wees! Die res van die maand vlieg verby in ‘n waas van goeie voornemens en dagdromery.

Ek sukkel alweer om te slaap, Eskom krap ons lewens erg om met beurtkrag en ek vier tien jaar diens by die firma waar ek werk. Lyfie wonder oor wat nou eintlik die korrekte manier is om ‘n werksonderhoud te benader en ek lees stilletjies op oor emigrasie opsies Aus toe.

Februarie

Ons skop sommer die maand af met Lyfie se huldeblyk aan my pa wat my skoon hoendervleis gee. Kort daarna op die 14de slaan ek my hand aan die digkuns ter viering van Valentynsdag en ons troudag-herdenking. Toe dit blyk dat ek eerder moet hou by wat ek kan doen, moes ek ‘n haas uit die hoed trek om die dag vir Lyfie spesiaal te maak. Ongelukkig het elke afdraande ook ‘n opdraande, en ons Ierse maatjie Murphy kom tas-in-die-hand by ons voordeur te staan. Hierdie mannetjie is ongelooflik moeilik om van ontlae te raak, dit is al Desember en hy kuier nog steeds. Enige raad welkom!

Maart

Maart was inderdaad Doen-dit-self maand in Wosonkiland, maar die projekkie waarop ek die trotste is, is hierdie poging om gebruikte vloerblokkies in meubelstukke te omskep. Verder gebeur daar nie veel nie, die jaar begin spoed vang en frustrasies begin ophoop.

April

April begin sommer gagga deurdat ek binne die eerste paar dae die eerste van 5 keer die jaar onder die snotsiek-trein-het-my-getrap-virus deurloop. Murphy laat blyk sy teenwoordigheid en Maartmaand se DIY tendens gaan voort. Wosonki (die blog, nie die hond nie) vier sy eerste verjaarsdag. Teen die einde van die maand word ‘n uitstappie waarna ek verskriklik opgesien het, omgeskakel in ‘n baie lekker langnaweek.

Mei

Die enigste manier om Mei te beskryf is maagdraai-wipwaentjie. Ons was al geruime tyd besig om ‘n moontlike verhuising Kaap toe te ondersoek, toe daar skielik ‘n moontlike geleentheid in ons skote val. Na baie gewroeg het ons besluit om dit na te jaag, net om nog ‘n slagoffer te word van ons land se beleid van AA, EE of wat ookal. Drome is verpletter, maar die lewe gaan aan. Lyfie begin eksamen skryf, so daar is toe nie vreeslik baie kans om te tob oor dit wat kon wees nie. Ek raak eers so ‘n bietjie nostalgies en toe so ‘n bietjie kwaad oor dinge van die verlede. Teen hierdie tyd het die depressiemonster my al stewig in sy greep.

Junie

Junie begin met ‘n effense mediese deurbraak. Ek word gediagnoseer met ‘n hormoontekort waarvoor ek 3 maandeliks baie duur inspuitings moet kry, maar dit is elke sent werd! Later in die maand vertel ek die storie van ons ontmoeting, sommer net ‘n nostalgiese terugblik op ons eerste 16 jaar saam. Junie eindig ongelukkig nie so lekker nie deurdat ek in ‘n ligte stampie betrokke is terwyl ek op besigheid in Nelspruit is. My eerste in 18 jaar! Dit merk die begin van ‘n lang string moeilikheid met die kar. Die verdomde Murphy alweer.

Julie

Soos Junie begin Julie goed. Lyfie kry haar eksamen uitslae en slaag aldrie haar vakke. Skielik na soveel jare is daar net 3 oor! Ons gaan ook op ‘n lang verwagte vakansietjie bosveld toe. Dit is juis op hierdie vakansie wat ek so bietjie tyd kry om te dink en met die terugkomlag publiseer ek my eerste in ‘n hele reeks inskrywings oor hoe ek myself wil herdefinieer. Geen plan oorleef eerste kontak met die vyand nie, maar ek is bly om te rapporteer dat 5 maande later ek baie van my planne reeds in werking kon stel, terwyl ek heelwat van die wat nie eerste kontak oorleef het nie ook kon aanpas en maak werk. 2009 lyk inderdaad rooskleurig op persoonlike vlak.

Augustus

Sommer vroeg in die maand moet ons groot besluite maak rondom die aanneming van ‘n pienkvoet. Die amazing BB skryf ‘n liedjie vir Krista. Ek plaas ook die laaste van omtrent 8 inskrywings oor my beplande transformasie. Alles in ag genome, ‘n redelik stil maand.

September

Seker die Wosonki’s se slegste maand hierdie hele jaar. By hierdie tyd het die depressiemonster my baie stewig in sy greep. In ‘n swart bui besluit ek om die blog te sluit maar gelukkig het “sanity prevail” en ons neem ‘n ruskans van blogging vir die res van die maand. Ons breek slegs die stilte om die goeie nuus oor ‘n ander blogmaatjie te deel.

Oktober

Tradisioneel is dit nogal ‘n erg besige maand, en hierdie jaar was geen uitsondering nie. Sommer vroeg in die maand moet my geliefde Jonty, die oorspronklike wosonki, ‘n rugoperasie kry wat ons nie regtig kon bekostig nie. Alles het gelukkig toe goed afgeloop, die operasie was goedkoper as gekwoteer en ons kon die geldjies bymekaarmaak. Lyfie se verjaarsdag was nie so groot soos ander jare nie, finansies was maar boomskraap. Ek sal volgende jaar probeer opmaak. Ons soek (en kry) vir Roxy die basset ‘n huis. Ek baklei alweer met God oor goed wat ek nie verstaan nie. En ek verjaar ook, dieselfde dag as wat Lyfie begin eksamen skryf. Die enigste ander stukkie goeie nuus is dat ons een kar ten minste einde Oktober klaar betaal is, en ja dit is waar van tweedehandse karre en vroue. Sodra hulle op jou naam is, begin die moeilikheid.

November

Ek herdenk die afsterwe van my Pa, heeltemal te vroeg van ons weggeneem. Toevallig op dieselfde ouderdom wat BB se Helgard nog ‘n rekord opstel. Murpy is steeds ‘n huisgas, en hy het vriende gebring.

Desember

Alles is besig, daar is nog soveel om klaar te maak dat ons inskrywings opdroog tot ‘n handvol onsinnige stukkies brabbel. Lyfie se uitslae kom, en sy word ‘n hereksamen toegestaan op 1 vak. Die ander twee kom sy deur. Die sjampanje word vir eers weggesit en ek kry langer tyd om my rendisie van Gaudiamus Igitur te oefen. Volgende jaar verseker! Kersfees het gekom en gegaan, gepaardgaande met ‘n gespook om Lyfie se gymkwota vir die jaar vol te kry. En dan, byna ongesiens staan ons op die drumpel van ‘n vars nuwe jaar.

Die een wat verby is, was nie net lekker of net sleg nie. Daar was net ‘n goeie mengsel van soet en suur, opdraende en afdraende, sonskyn en donderweer. Hier is op die jaar wat verby is. Tjorts!

Jaco en Krista


Elliptical from HELL!!!

December 24, 2008

elliptical

Gisteraand klim ons toe mos nou vir die 1ste keer op die Elliptical Trainers by die gym. bliksemoerwetterhel Wat ‘n ondervinding!

Ek is nie baie goed met balanseer op dinge wat onder my voete beweeg nie. Dan moet jy ook nog daarmee saam jou arms beweeg deur aan die handlebars vas te hou – anders koes jy heeltyd vir die goed wat so op jou afstorm!

Nou is jy op en gebalance en jy weet nie lekker wat om te doen nie – moet jy roei of moet jy hol? Die masjien flikker met soveel liggies soos Danville se liggiehuis maar kan hoop om te hê. Kan hulle nie maar die resistance op -6 begin nie? Die laagste vlak is 0 en ek dink dis vêr te hoog vir ‘n novice soos ek wat die eerste keer op so ‘n gevaarte klim – as die vlakke eers by -6 begin sal dit dalk makliker wees om baas te raak, jy weet, soos in die masjien hol by homself en jy moet eers net by bly om gewoond te raak aan die op en af.

Vir iemand wat nog nooit regtig gehardloop het nie – te veel hoppende dele, jy sien – is dit ‘n aardige ondervinding. Dit is nie regtig smooth nie, die pedale beweeg in snaakse vorms en rigtings en jy moet either by bly of jy word afgemoer!

Na 5 minute toe wens ek ek het maar afgemoer daar aan die begin. Daar waar my bo-bene was, is nou net jellie en dit voel of my knieë agtertoe wil buig. Die aarde is nie meer plat of stil nie. Ek loop funny en voel funny en ek is seker ek het funny gelyk ook!

Daarna was die treadmill ‘n seën. Jy beweeg net in 1 rigting en niks gaan op en af nie. Ek weet nie so lekker nie . . . my bene is vanoggend nog op hulle eie mission en dreig om sommer elkeen in sy eie rigting pad te gee. (Miskien sou dit beter gewees het as ek van die begin af gesien het my resistance was op 400 (ek lieg, dit was op 4, maar dit het gevoel soos 400)). En om alles te kroon, hol Lyfie toe die elliptical so ewe lekker dat dit lyk of hy gaan opstyg!

Oefening is nie vir sissies nie . . . miskien is die ligte snotneusie wat ek het, meer as net ‘n ligte verkoue . . .

Krista


Sinterklaas is in die dorp

December 22, 2008

christmastree

Ek wou eintlik ook soos baie van die ander bloggers alreeds gedoen het, virtuele geskenke aan my gunsteling blogvriende uitgedeel het. Maar ek het bietjie te lank gewag, en die tyd het uitgeloop. Ek is ook dalk meer as net ‘n bietjie lui.

So aan al die blogvrinne wie se blogs ons volg (al lewer ons nie altyd kommentaar nie), mag jy en jou geliefdes ‘n merkwaardige feesseisoen beleef. Elkeen na gelang van sy geloof. As jy met vakansie gaan, reis veilig, geniet dit gate uit en kom uitgerus terug.

Aan ons werklike-lewe-vriende en die blogvriende wat ons deur die jaar ontmoet en hegte vriende mee geraak het, vir julle wil ons graag werklike geskenke gee. Synde dat geldjies maar skaars is hierdie jaar, het ons besluit op die geskenk wat aanhou gee. Hierdie is ons hernude belofte aan jou liewe vriend/vriendin: Wanneer jy ons ook al nodig het, dag of nag, elke dag van die jaar, roep net en ons sal daar wees. Hierdie belofte is ons trots en ons erns, en dit is ons geskenk aan jou. Gebruik dit enige tyd en soveel keer as wat jy dit nodig het. Daar is nie ‘n “use by” of “best before date” vir hierdie geskenk nie.

Geseënde Kersfees

Jaco en Krista


Soet en stout

December 17, 2008

Yip, dit is weer daardie tyd van die jaar wat ‘n mens moet begin dink aan wie geskenke moet kry en die gewroeg wat daarmee saamgaan om seker te maak dat jy nie iets gee wat onwelkom is nie.

Hierdie jaar is dit gelukkig maklik aangesien ons nie geskenke gaan gee nie, nie eers vir mekaar nie, maar ek het nietemin ‘n “naughty & nice” lysie gemaak. Sonder verdere verwyl dan, dievolgende instansies kwalifiseer vir geskenke uit kersvader se spesiale sak uit. Nou hierdie sak bevat geskenke wat totaal onwelkom maar terselfetyd broodnodig is

Eskom/Eksdom: Julle kan tog sekerlik nie nog geskenke verwag na al die man-ure wat julle van my gesteel het hierdie jaar nie? Bo en behalwe dit sit julle sommer julle tariewe met meer as 20% op en ek lees in die koerant gister van die nuwe wetgewing wat julle voorstel om mense te beboet met astronomiese bedrae wat nie 25% besparings in verbruik maak nie. Praat van skop die gans wat goue eiers lê morsdood omdat jy vergeet het om haar kos te gee. Nee-nee bly maar in die ry, kersvader het ‘n baie spesiale geskenk vir julle. ‘n Moerse skop in die kroonjuwele. Voel hoe voel dit! Lekker né?

Telkom/Helkom: Ja ek weet my telefoon het meeste van die tyd gewerk, my kliente het meeste van die tyd hulle e-posse gekry en my ADSL lyn was altyd ten minste 50% van die geadverteerde spoed, maar in my boekie balanseer dit nog steeds nie my rekeninge wat ten minste 50% duurder as enige ander plek in die wêreld is nie. Julle is skelms en ek hou nie skelms nie. Julle geskenkie dus, elkeen een van julle eie produkte sonder vooroordeel of afslag.  Voel hoe leef die mense wat julle uitbuit.

MTN: Om vir my ewe te vertel ek moet die saldo’s op my twee kontrakte prysgee as ek wil opgradeer na ‘n hoër kontrak toe is julle beleid? So steel is julle belied? Ek het nie daai saldo’s verniet gekry nie. Dit is betaal in harde kontant, verdien in die sweet van my aangesig. Ek herhaal wat ek op Telkom/Helkom se kaartjie hierbo gesê het, ek hou nie van mense wat van my steel nie. Julle geskenkie, elkeen een van die grootste en hoekigste selfone wat ek kan kry, opgedruk waar die son nooit skyn nie. Sonder vaseline. En sorry dit is verpligtend, kersvader beleid jy sien . . .

Metro Auto: Julle ouens verdien ‘n spesiale vermelding. Binne ‘n kwessie van 5000 kilometer R15 000 se herstelwerk (waarvan die helfde as gevolg van swak vakmanskap aan julle kant) en steeds wegkom sonder om ‘n verskoning aan te bied. Julle geskenkie, mag julle gedwing word om lewenslank Ford of Mazda karre te ry en dit moet slegs by julle eie werkswinkel gediens en herstel word. O ja, sterkte hoor!

SAID: Aaah, laaste maar definitief nie die minste nie. Na laasjaar se fiasko het ek gedink julle kan nie slegter nie. Ek was verkeerd. Na amper 3 maande het ek uiteindelik vanoggend my elektroniese aanslag gekry. En ook maar net omdat ek via ‘n kontak iemand in die binnekringe kon kry wat die nodige toutjies kon trek.  Ongelukkig dink ek ek het meer spandeer aan foonoproepe etc. na julle kantore toe as wat ek gaan terugkry. My geskenk aan julle, mag julle leef om 120 jaar oud te word, en mag julle met julle eie opgawes presies dieselfde oorkom as ek. Elke jaar.

Heppie Krismis al julle bliksems.

Kersvader


As almal vêr is

December 15, 2008

Halloooooooooooooo!

Is hier nog iemand hier? Hulle het waaragtig weer almal wegeloop see toe en my alleen hier staan en los.

Jislaaik ek lus ‘n regte-egte somer vakansie. Zanzibar of Maldives, Seychelles of Barrier reef. Kaapstad of Sodwana.

Eendag . . .

[groot sug]

Wag laat ek gaan werk.

Jaco

PS. Wat is die kanse dat ek iemand in SARS se call centre sal in die hande kry vandag?


So kom ons aan nog ‘n einde . . .

December 8, 2008

En so gaan ons die ou jaar uit, amper soos ons die nuwe-ou-jaar ingekom het. Nie veel het verander hierdie jaar nie, ten spyte van ons verwagtinge hierdie tyd laas jaar.

Die volgende 3 weke tot die einde van die jaar gaan vir albei van ons hectic wees, daarom nou al die wense . . .

Mag julle ‘n vreugdevolle en spanninglose Feestyd beleef. Mag die beste van 2008 vaal vergelyk met die beste van 2009.

Vir die van julle wat met vakansie gaan, moenie met leë hande terugkom nie, hoor! Daar moet darem ‘n ou klein troosprysie wees vir die van ons wat die sake by die huis aan die gang sal hou! :wink:

santa1

Geniet en lewe voluit!

Die Wosonki’s

PS: Ek hoop julle was soet hierdie jaar en dat Kersvader al julle briefies gekry het! :grin:


Chaos op Youtube

December 3, 2008

Nee dis nie wat julle dink nie, maar ek het julle aandag of hoe?

Hieronder is die opname van ons blogger pel Chaos a.k.a Bad to the Bone se rekord-brekende poging waaroor ons hier geskryf het

Hierdie is die stukkie van Arno Lambrechts (Suid Afrika se swaarste atleet in enige dissipline) by die video geskryf het.

“My training partner Helgard Coertze Squatting 180kg (400lb) for 25 reps during a break at the Gauteng North powerlifting championships on 29 November 2008. No suit or briefs. Belt and light wraps only. Helgard is 46 years old, by the way.

Spotting on the left is Dan Hurlin. On the right is 5 times SA Strongman champions, Ettiene Smit and I’m behind Helgard”

Weereens welgedaan ou grote.

Jaco


Afrikaners is plesierig

December 2, 2008

Die ou volksliedjie lui “Afrikaners is plesierig, dit kan julle glo . . .”

Wat ‘n hoop nonsens.

Afrikaners in die algemeen is die venynnigste, inhaligste en mees self gesentreerde groep mense in Suid Afrika, en waarskynlik met min gelyke in die wêreld. Die deursnit Afrikaner kan nie die son laat skyn oor ‘n ander nie, en ly aan ernstige vervolgingswaan.

Ek behoort te weet, ek is een van hulle. Die agtste geslag om presies te wees.

Ek wil nie meer so wees nie, al vat dit die res van my lewe.

Enige iemand daarbuite wat my verkeerd kan bewys?

Jaco