Tequila, Takuzza, Te jammer
June 23, 2008Die storie begin etlike jare gelede, toe ons nog in ons prille jeug was en van brieke daar geen sprake was nie. Dit was ‘n Saterdag, en alhoewel dit in die middel van die winter was, was dit lekker warm op Zeerust in die Marico distrik. Ons het pas op die dorp aangekom uit Pretoria uit, op pad na ‘n familie geselligheid. Oom Johan (oupa Jôhnie vir ons) en ouma Hester (Vaalvrou waar sy ons nie kon hoor nie) vier hulle 50ste huweliksherdenking in die landbousaal op die die dorp en die hele familie is daar.
Nou kyk, in die Marico is dit glad nie ongekend dat so ‘n ou geselligheidjie sommer maklik vir ‘n hele naweek kan aanhou nie, en innerlike versterking is dikwels al wat jou lewendig deur so besigheid kry, derhalwe was ons eerste stop toe ons die dorp inry natuurlik die drankwinkel. Of noodapteek as jy ‘n ding dan nou nie so blatant op sy naam wil noem nie.
Ewenwel, dit word wyd verkondig dat ‘n mens nie moet kruideniersware gaan koop as jy honger is nie, want dan word jou inkope as’t ware deur jou maag gelei. Nou uit bittere ondervinding (verskeie kere) kan ek nou ook getuig dat ‘n mens nie by die noodapteek moet aandoen as jy dors het nie. En daai dag was ons dors . . .
In die skemerdonkerte daar binne in die winkeltjie loop ons onself toe waaragtig vas in ‘n ou kennis van ons by name Olmeca. In daai jare was ons Mexikaanse pêl maar ‘n “petty thief” en sy borgtog glad nie te buitensporig nie, en synde dat ons begroting maar skraps is, vat dit nie veel beraadslaging gevat om hom van sy uitkykpunt op die boonste rak te bevry nie. Ek moes toe al geweet het dat hier moeilikheid kom, maar op vroeg-in-die-twintig is jy mos bulletproof.
Om ‘n lang storie kort te maak, daai aand is die eerste en enigste keer dat ek my liewe swaer se geselskap vir meer as 10 minute kon uitstaan. Ek het ook nie geweet my klein sussie kan so dors word nie! Maar dit is eers veel later wat die werklike sports begin. Aanvanklik was ek baie trots op my besluit om liewer by die gastehuis ongeveer 600 meter van die saal af te oornag, eerder as om nog die stuk pad plaas toe aan te durf. By ons kamer aangekom het ek die twee draaiende katels so rukkie staan en beskou, en besluit dat vir een aand kan ons maar op aparte bedjies slaap. Daar is geen manier wat ek die goed gevang kan kry om hulle teen mekaar te skuiwe nie. Toe my katel weer verby gesirkel kom, toe is ek op hom. Ek het so deur die slaapnewels gesien Lyfie het haar kateltjie darem ook gevang.
Nie te lank daarna nie word ek wakker van iets wat klink soos ‘n baie dorstige kameel in die badkamer. Met baie moeite kon ek my een ooglid oopforseer, net om te sien dat dit net Lyfie is wat die kouewater kraan met mag en mening aanval. Wyl ek toe wakker is, dink ek dit toe ‘n goeie plan om maar dieselfde te doen, synde dat ek darem maar ongelooflik dors is vir iemand wat so baie vloeistof aanboord geneem het. Net na ek weer my lê gekry het, begin Lyfie uit haar hoek kla dat die goeters haar byt. Ons het naderhand die ligte aan, maar sien g’n niks van die goeters wat haar so byt nie. Uit pure desperaatheid ruil ons beddens, maar steeds kla sy die goeters byt haar. Sy het opgehou kla nadat ek histeries begin giggel het, en gevra het of Olmeca iets daarmee te doen het.
Skaars het ek ingesluimer of ek word wakker van die stemmetjie in die donker. Liefie, liefie….lieeeeefieeee. Huh!? is omtrent al wat ek deur my droeë keel kon forseer. Aag wil jy nie die Coke in die kar gaan haal nie, ek is nou vreeslik dors en die kraanwater smaak sleg, pleit sy uit die donker. Hoe kan ‘n mens dan nou so stemmetjie weier, en met net ‘n kort rugbybroekie durf ek die koue nag aan om vir Lyfie koeldrank uit die kar te loop haal.
In retrospek dink ek die water het begin sleg smaak omdat Lyfie waarskynlik die reservoir droog gedrink het daai aand. Hoe dit ook al sy, Marico partytjies is nie vir sissies nie, veral nie as die Mexikane ook daar is nie. Dankie tog vir spek, eiers, roosterbrood en moerkoffie, want daarsonder sou daai klein mannetjie nou nog paneelkloppery in my kop beoefen het
Jaco
Posted by wosonki






