Muffin, die resies Bulldog
July 1, 2008Almal weet al teen die tyd dat honde in ons huis soos kinders behandel word. Om die waarheid te sê, die honde is ons kinders. Omdat die erfie nou nie so massief groot is nie het ons maar altyd kleiner hondjies aangehou soos worsies, foksterriers en Jack Russels. Maar namate ‘n mens ouer word, neem jou toleransie vir raserige kinders af, en toe die lus vir nog ‘n kiddie ons weer ‘n slag beetpak het ons oudergewoonte die internet bestyg vir so bietjie navorsing. Na vele dae en nagte is die besluit uiteindelik gemaak - ‘n Engelse Bulhond of sommer kortweg budoggi sou dit wees, stil en stemmig en sy sou Martha heet.
Na ‘n ernstige soektog (budoggi’s is duur!) kom hierdie bondeltjie energie toe spesiaal uit Durban by ons aan. ‘n Regte egte Engelse dame, en alhoewel sy nie papiere het nie - had haar ma en pa wel. Nie dat ons regtig so baie omgee nie.
Hierdie foto moes al vir ons ‘n indikasie gegee het dat die geen “normale” Bulldog sou wees nie. Sommer vroeg-vroeg het ons al besluit dat Martha nie ‘n gepaste naam vir die klein rabbedoe-sokkerhooligan was nie. Helga (the horrible) en Taliban is oorweeg voordat ons op Muffin besluit het. Alles baie tong-in-kies natuurlik, want sag en sponserig was sy beslis nie. Maar uniek, dit is sy wel. Haar onderkaak het heelwat langer as die bo-kaak gegroei, en omdat sy baie sukkel om kos op te tel uit ‘n bak uit word sy met ‘n vurk of lepel gevoer nes ‘n babatjie. Sy sal vir jou blaf en met die oë beduie na die blokkies as sy honger is, dan moet jy die hondeblokkies vir haar voer, twee op ‘n slag anders spoeg sy dit uit.
Muffin is nou al 5 jaar oud en steeds net so besig soos altyd. Van daardie lui, vet bulldog wat in die sonnetjie lê is daar steeds geen teken nie. Smiddae as mamma van die werk af kom skreeu sy in so ‘n fyn skeermeslem-stemmetjie by die skuifdeur dat mamma moet kom balspeel. Dan moet die sokkerbal vir haar geskop word sodat sy dit kan jaag en net so behendig soos enige sokkerspeler terug dribbel deur haar bors en skouers te gebruik. Van al die balspeel is haar tande al byna stomp teen die tandvleise afgeslyt.
Dit is juis hierdie balspelery wat haar nou in die hospitaal laat land het. Soos wat sy soms oor die plaveisel hardloop skeur en breek sy haar toonnaels verskriklik, veral die twee naels langs die kant van haar voete. Sondagaand moes ons haar onderstepoort toe neem juis nadat sy weer haar voet seergemaak het. Gister is sy opgeneem om onder narkose ‘n geskeurde toonnael reg te maaken sommer die twee naels langs haar voete te verwyder. Aanvanklik sou sy weer dieselfde dag kon huis toe gaan, maar die veearts het besluit om haar daar te hou. Lyfie was byna in trane gisteraand oor bekommernis dat Muffin warm is, en dat sy gevoer is. Sy het my omtrent 10 keer vandag al gevra of hulle al iets van Muffin laat weet het.
Hulle het laat weet, Muffin kan huis toe gaan. Ek ry binnekort om haar te gaan haal. Ek hoop hulle kort ‘n hondewasser of perde-roskammer, want anders weet ek nie hoe ek die rekening gaan betaal nie. En as ek sonder Muffin by die huis opdaag . . .
Vanaand slaap Suid-Afrika se enigste resies Bulldog weer warm onder die duvet by ma en pa se voete op die bed, reg langs Jonty die worshond-wat-dink-hy-is-’n-rottweiler. Mamma kan ophou huil oor haar kind in die hospitaal, tot volgende keer wanneer ons in die wagkamer sit en mense die stukkende en verwaarloosde diere inbring wat hulle langs die straat optel. Nota aan self - vat ekstra sakdoek as ons veearts toe gaan.
Is dit verkeerd of snaaks om so te voel oor jou diere?
Jaco


Posted by wosonki


