Muffin, die resies Bulldog

July 1, 2008

Almal weet al teen die tyd dat honde in ons huis soos kinders behandel word. Om die waarheid te sê, die honde is ons kinders. Omdat die erfie nou nie so massief groot is nie het ons maar altyd kleiner hondjies aangehou soos worsies, foksterriers en Jack Russels. Maar namate ‘n mens ouer word, neem jou toleransie vir raserige kinders af, en toe die lus vir nog ‘n kiddie ons weer ‘n slag beetpak het ons oudergewoonte die internet bestyg vir so bietjie navorsing. Na vele dae en nagte is die besluit uiteindelik gemaak - ‘n Engelse Bulhond of sommer kortweg budoggi sou dit wees, stil en stemmig en sy sou Martha heet.

Na ‘n ernstige soektog (budoggi’s is duur!) kom hierdie bondeltjie energie toe spesiaal uit Durban by ons aan. ‘n Regte egte Engelse dame, en alhoewel sy nie papiere het nie - had haar ma en pa wel. Nie dat ons regtig so baie omgee nie.

Hierdie foto moes al vir ons ‘n indikasie gegee het dat die geen “normale” Bulldog sou wees nie. Sommer vroeg-vroeg het ons al besluit dat Martha nie ‘n gepaste naam vir die klein rabbedoe-sokkerhooligan was nie. Helga (the horrible) en Taliban is oorweeg voordat ons op Muffin besluit het. Alles baie tong-in-kies natuurlik, want sag en sponserig was sy beslis nie. Maar uniek, dit is sy wel. Haar onderkaak het heelwat langer as die bo-kaak gegroei, en omdat sy baie sukkel om kos op te tel uit ‘n bak uit word sy met ‘n vurk of lepel gevoer nes ‘n babatjie. Sy sal vir jou blaf en met die oë beduie na die blokkies as sy honger is, dan moet jy die hondeblokkies vir haar voer, twee op ‘n slag anders spoeg sy dit uit.

Muffin is nou al 5 jaar oud en steeds net so besig soos altyd. Van daardie lui, vet bulldog wat in die sonnetjie lê is daar steeds geen teken nie. Smiddae as mamma van die werk af kom skreeu sy in so ‘n fyn skeermeslem-stemmetjie by die skuifdeur dat mamma moet kom balspeel. Dan moet die sokkerbal vir haar geskop word sodat sy dit kan jaag en net so behendig soos enige sokkerspeler terug dribbel deur haar bors en skouers te gebruik. Van al die balspeel is haar tande al byna stomp teen die tandvleise afgeslyt.

Dit is juis hierdie balspelery wat haar nou in die hospitaal laat land het. Soos wat sy soms oor die plaveisel hardloop skeur en breek sy haar toonnaels verskriklik, veral die twee naels langs die kant van haar voete. Sondagaand moes ons haar onderstepoort toe neem juis nadat sy weer haar voet seergemaak het. Gister is sy opgeneem om onder narkose ‘n geskeurde toonnael reg te maaken sommer die twee naels langs haar voete te verwyder. Aanvanklik sou sy weer dieselfde dag kon huis toe gaan, maar die veearts het besluit om haar daar te hou. Lyfie was byna in trane gisteraand oor bekommernis dat Muffin warm is, en dat sy gevoer is. Sy het my omtrent 10 keer vandag al gevra of hulle al iets van Muffin laat weet het.

Hulle het laat weet, Muffin kan huis toe gaan. Ek ry binnekort om haar te gaan haal. Ek hoop hulle kort ‘n hondewasser of perde-roskammer, want anders weet ek nie hoe ek die rekening gaan betaal nie. En as ek sonder Muffin by die huis opdaag . . .

Vanaand slaap Suid-Afrika se enigste resies Bulldog weer warm onder die duvet by ma en pa se voete op die bed, reg langs Jonty die worshond-wat-dink-hy-is-’n-rottweiler. Mamma kan ophou huil oor haar kind in die hospitaal, tot volgende keer wanneer ons in die wagkamer sit en mense die stukkende en verwaarloosde diere inbring wat hulle langs die straat optel. Nota aan self - vat ekstra sakdoek as ons veearts toe gaan.

Is dit verkeerd of snaaks om so te voel oor jou diere?

Jaco


Tequila, Takuzza, Te jammer

June 23, 2008

Die storie begin etlike jare gelede, toe ons nog in ons prille jeug was en van brieke daar geen sprake was nie. Dit was ‘n Saterdag, en alhoewel dit in die middel van die winter was, was dit lekker warm op Zeerust in die Marico distrik. Ons het pas op die dorp aangekom uit Pretoria uit, op pad na ‘n familie geselligheid. Oom Johan (oupa Jôhnie vir ons) en ouma Hester (Vaalvrou waar sy ons nie kon hoor nie) vier hulle 50ste huweliksherdenking in die landbousaal op die die dorp en die hele familie is daar.

Nou kyk, in die Marico is dit glad nie ongekend dat so ‘n ou geselligheidjie sommer maklik vir ‘n hele naweek kan aanhou nie, en innerlike versterking is dikwels al wat jou lewendig deur so besigheid kry, derhalwe was ons eerste stop toe ons die dorp inry natuurlik die drankwinkel. Of noodapteek as jy ‘n ding dan nou nie so blatant op sy naam wil noem nie.

Ewenwel, dit word wyd verkondig dat ‘n mens nie moet kruideniersware gaan koop as jy honger is nie, want dan word jou inkope as’t ware deur jou maag gelei. Nou uit bittere ondervinding (verskeie kere) kan ek nou ook getuig dat ‘n mens nie by die noodapteek moet aandoen as jy dors het nie. En daai dag was ons dors . . .

In die skemerdonkerte daar binne in die winkeltjie loop ons onself toe waaragtig vas in ‘n ou kennis van ons by name Olmeca. In daai jare was ons Mexikaanse pêl maar ‘n “petty thief” en sy borgtog glad nie te buitensporig nie, en synde dat ons begroting maar skraps is, vat dit nie veel beraadslaging gevat om hom van sy uitkykpunt op die boonste rak te bevry nie. Ek moes toe al geweet het dat hier moeilikheid kom, maar op vroeg-in-die-twintig is jy mos bulletproof.

Om ‘n lang storie kort te maak, daai aand is die eerste en enigste keer dat ek my liewe swaer se geselskap vir meer as 10 minute kon uitstaan. Ek het ook nie geweet my klein sussie kan so dors word nie! Maar dit is eers veel later wat die werklike sports begin. Aanvanklik was ek baie trots op my besluit om liewer by die gastehuis ongeveer 600 meter van die saal af te oornag, eerder as om nog die stuk pad plaas toe aan te durf. By ons kamer aangekom het ek die twee draaiende katels so rukkie staan en beskou, en besluit dat vir een aand kan ons maar op aparte bedjies slaap. Daar is geen manier wat ek die goed gevang kan kry om hulle teen mekaar te skuiwe nie. Toe my katel weer verby gesirkel kom, toe is ek op hom. Ek het so deur die slaapnewels gesien Lyfie het haar kateltjie darem ook gevang.

Nie te lank daarna nie word ek wakker van iets wat klink soos ‘n baie dorstige kameel in die badkamer. Met baie moeite kon ek my een ooglid oopforseer, net om te sien dat dit net Lyfie is wat die kouewater kraan met mag en mening aanval. Wyl ek toe wakker is, dink ek dit toe ‘n goeie plan om maar dieselfde te doen, synde dat ek darem maar ongelooflik dors is vir iemand wat so baie vloeistof aanboord geneem het. Net na ek weer my lê gekry het, begin Lyfie uit haar hoek kla dat die goeters haar byt. Ons het naderhand die ligte aan, maar sien g’n niks van die goeters wat haar so byt nie. Uit pure desperaatheid ruil ons beddens, maar steeds kla sy die goeters byt haar. Sy het opgehou kla nadat ek histeries begin giggel het, en gevra het of Olmeca iets daarmee te doen het.

Skaars het ek ingesluimer of ek word wakker van die stemmetjie in die donker. Liefie, liefie….lieeeeefieeee. Huh!? is omtrent al wat ek deur my droeë keel kon forseer. Aag wil jy nie die Coke in die kar gaan haal nie, ek is nou vreeslik dors en die kraanwater smaak sleg, pleit sy uit die donker. Hoe kan ‘n mens dan nou so stemmetjie weier, en met net ‘n kort rugbybroekie durf ek die koue nag aan om vir Lyfie koeldrank uit die kar te loop haal.

In retrospek dink ek die water het begin sleg smaak omdat Lyfie waarskynlik die reservoir droog gedrink het daai aand. Hoe dit ook al sy, Marico partytjies is nie vir sissies nie, veral nie as die Mexikane ook daar is nie. Dankie tog vir spek, eiers, roosterbrood en moerkoffie, want daarsonder sou daai klein mannetjie nou nog paneelkloppery in my kop beoefen het

Jaco


Een uit ‘n miljoen

June 18, 2008

Gedurende die verloop van jou lewe kruis jou paaie met sekerlik honderde, of selfs duisende mense. En as jy gelukkig is kruis jou pad met iemand so spesiaal dat hy/sy kop en skouers bo die ander uitstaan. BB is so ‘n spesiale persoon.

BB, dit is vir ons ‘n absolute eer en voorreg dat jy ons lewenspaadjie gekruis het. Jou geskenk getuig van jou deernis en van die diep gevoelsmens wat jy is en dit sal vir ons uitstaan as een van die hoogtepunte in ons lewens.

Jy is voorwaar een uit ‘n miljoen en ons is geseënd om jou te ken

Krista en Jaco

P.S. Op die foto is ‘n amazing sanger/liedjieskrywer en ‘n pêl duisend. Die ander ou is Koos somebody. Hy skryf blykbaar ook so nou en dan ietsie. ;)


It’s a beautiful thing

June 18, 2008

Jaco


In die ware gees van Comrades

June 15, 2008

Want maak nie saak wat die organiseerders besluit nie, die ware gees en kamaraderie van Comrades sal altyd bly voortleef in die harte van die deelnemers.

Van kleintyd af was hierdie stuk musiek nog altyd vir my sinoniem met die gees van Comrades. Vandag is dit nog steeds een van my gunsteling stukke.

Jaco


The story of us

June 12, 2008

Geensins so romanties soos van die ander troustories wat ons al die week gelees het nie, maar dit is ons storie en sal daarby hou ;)

Dit was ‘n tyd nie so lank gelede nie in ‘n plek nie te ver van hier nie. Die jaar 1991. ‘n Matriek klong sit agter in die Afrikaanse klas, dik verveeld. Hy tel die ure af na huistoegaan-tyd. Rugby-tyd. Wie wil nou skoolgaan as daar rugby is om te speel? Om die tyd om te kry skop-skop hy so teen die meisiemens wat voor hom sit se stoel. Elke nou en dan vervies sy haarself en snou hom iets toe, maar sodra sy haar rug draai begin hy weer. Skop . . . skop . . . skop. Die volgende periode is die onderwyser nie daar nie en die kinders sit in groepies en nonsens gesels. Meisiemens vra ons rugbyheld om mooi stil te sit want sy wil sy oë kyk. Sy reken dit is sulke mooi groenes met geel en bruin vlekkies in. Sy roep selfs ‘n vriendin om haar observasies te bevestig. Ons rugbyheld weet dit nog nie, maar die koeël is alreeds daardie dag deur die kerk.

Rugbyheld was miskien ‘n yster op die veld, maar die dinge van die hart het hom erg verboureer. Die nabyheid van enige lid van die vroulike spesie het hom in ‘n stotterende idioot verander. As R.S.M. van die skool se kadette was dit sy taak om nou en dan die meisies drilpeleton ook bietjie touwys te maak. Dit het nooit gebeur nie, want die nabyheid van soveel estrogeen het hom sy bevele laat vergeet! Dankie tog vir die “matchmaking” insette van ‘n klasmaat wat uiteindelik veroorsaak het dat onse rugbyspeler die meisiemens van die Afrikaanse klas vir ‘n date gevra het na die skool se jaarlikse deurnagsokkie toe. Ten spyte van die feit dat hy van dans niks geweet het nie, en vandag steeds nie 2 voete voor mekaar kan sit op ‘n dansbaan nie. By die tweede date (‘n uitstappie Pretoria skou toe) moes meisiemens maar die leiding neem en ons rugbyheld aan die hand vat. As sy vir hom moes wag het sy nou nog gewag. Het ek al genoem dat ons rugbyheld ‘n totale neandertal was as dit kom by sake van die hart?

So het die laaste dae van hulle sorgvrye skooldae uitgeloop en rugbyheld is vort SAW & Seuns toe om ‘n grensvegter recce te gaan word. Vir ‘n kort rukkie gedurende hierdie tydperk was die verhouding verbreek want ons grensvegter recce het gevoel dat ‘n man van sy statuur ‘n bergklim-en-uitkamp meisie moet hê. Geen bergklim-uitkamp meisie kyk egter tweemaal na ‘n stotterende idioot nie. Gelukkig het onse meisiemens, wat intussen in ‘n ietwat boheemse jong dame ontwikkel het wat haar hare spierwit kleur, lang rompe en John Lennon brilletjies dra en met middagete op die labratorium toonbanke in die son lê en slaap, besluit om haar te vermoei met die ouer-en-wyser recce-grensvegter. Maar die prys van toegang tot haar hart was dat hy die drome van recce word moes laat vaar, synde dat sy nie met ‘n bossies-recce-grensvegter wil opgeskeep sit sodra SAW en seuns sy oorskot uitgespuug het nie..

9 jaar en baie sakke sout later trek ons man, nou ‘n gegradueerde en witboordjie-werker, saam met Liefie in haar huis in. Die laaste van sy ouers onlangs oorlede. Baie saggies en geduldig het sy oor die voorafgaande 9 jaar die kopwurms van sy grensvegter-recce-dae verban tot die verste hoeke van sy brein en van hom ‘n semi-beskaafde mens gemaak. ‘n Verdere 4 jaar later, in Oktober 2004 vra hy haar om haar hand op die strand by Scottburgh aan die Natalse suidkus. Sy stem in met sekere voorwaardes. Hulle besluit om rondom Augustusmaand van die volgende jaar te trou.

Een goeie Maandagaand - 31 Januarie 2005 om presies te wees, is ons twee karakters besig om aandete te pleeg in die kombuis toe sy skielik na hom draai en sê “kom ons trou op valentynsdag, ek wil nie meer wag nie” Hy speel natuurlik saam en sê “ja hoekom nie?” Dit blyk toe dat sy heeltemal ernstig was. Die tweetjies is 2 weke later op 14 Februarie 2005 om elfuur die oggend getroud te AGS kerk in Pretoria Noord deur haar baas wat op daardie tydstip wat ook ‘n NG dominee was. Die seremonie is bygewoon deur slegs ‘n paar vriende en familielede. Na die tyd is ‘n vingerete by die huis bedien en die bruidspaar het die aand al die gaste wat wou bywoon by ‘n eetplek ontmoet vir aandete. Die volgende more het hulle op wittebrood vertrek en vir 2 weke weggebly.

P.S. Daar is ‘n rumour dat die paartjie in 2011 die hele trou-besigheid gaan oordoen met onthaal en alles, waarna hulle per trein na die mooiste plek in die wêreld gaan reis om hulle tweede wittebrood te vier. ‘n Segspersoon vir die paartjie het gesê dat hierdie rumour op die stadium nie deur die paartjie ontken of bevestig kan word nie.


Boots en Rofty

June 11, 2008

So lank as ek kan onthou het ons altyd diere gehad, meestal honde en so nou en dan ‘n kat, so dit is nie asof ek nie met diere grootgeword het nie. Alhoewel ons baie lief was vir hulle, het my ouers ‘n baie “tradisionele” siening gehandhaaf oor presies wat die hond se posisie in die familiestruktuur was. Hulle was lekker speelmaats na skool, maar hulle uitsluitlike doel was om die huis op te pas. Met spesiale geleenthede is hulle toegelaat om in die sitkamer op die vloer te kom lê, maar teen slaaptyd moes hulle uit want ‘n hond se plek is buite.

Elke storie moet ‘n begin hê, en ek reken in my geval is ‘n goeie begin die dag toe ek die maltrap girl waarmee ek vandag getroud is, se huis gaan oppas het.

Nou in Krista hulle se huis het dit anders gewerk, veral nadat haar Pa weg is. Honde by hulle was kinders, en is behandel soos kinders. Een goeie Junie-maand presies tien jaar gelede is die familie vir hul gebruiklike vakansie Natalse Suidkus toe. Ek kon nie saam nie as gevolg van werksverpligtinge, so ek het in Krista hulle se huis kom bly vir die tydperk.

Boots en Rofty was die laaste oorblywende boerboel puppy’s van ‘n werpsel van een van hulle ander honde, en hulle was albei net besig om te herstel van katgriep. Nou vir die wat weet, honde wat herstel van katgriep ervaar die allervreeslikste maagwerkings. En maagwerkings in ‘n boerboel, al is dit nog babatjies, is nie ‘n mooi gesig nie.

Diegene wat my goed ken sal ook weet dat ek nie baie bedrewe is met die optel van hondemis nie, was nog nooit en sal seker nooit wees nie. Die proses behels gewoonlik my hemp wat styf om my mond en neus gebind is terwyl ek met die graaf kromrug oor die grasperk loop en ek die allervreeslikste geluide maak. Natuurlik het al die buurmanne ook altyd soos vrot velle oor die mure gehang en hulleself vrek gelag vir die vertoning wat ek opsit.

Maar terug by Boots en Rofty. Twee siek boerboele, ‘n baas wat nie daarin glo dat siek honde buite bly nie, volvloermatte en ‘n babysitter wat effe allergies vir die reuk en aangesig van slap hondepoef is. RAMP met ‘n hoofletter K. Dit was die langste 10 dae van my lewe. Uit desperaatheid het ek naderhand die hele huis toegepak met koerante om die skoonmaakproses te vergemaklik. Na elke aand se optellery was ek skoon uitasem en my maagspiere seer van die geruk. As ek dan die twee gaan soek om hulle te vermorsel sit hulle styf sy-aan-sy voor die verwarmer met sulke verleë gesiggies. My hartjie word dan weer sag tot die volgende aand wanneer die proses van voor af herhaal word.

Beide Boots en Rofty het heeltemal herstel en is na goeie huise toe (Krista het nie haar hondjies sommer aan enige iemand verkoop nie). Die twee outjies het ‘n ver pad gegaan om my siening van troeteldiere te verander. Ek wonder of hulle nog leef en hoe dit met hulle gaan?

Jaco


‘n Nuwe begin?

June 8, 2008

Laasweek Vrydag het ek in ‘n stuiptrekking van depressie te vertelle gehad dat daar slegs twee dinge is waarvolgens ek myself as man evalueer, en dat ek misrabel gefaal het in altwee. ‘n Oomblik van selfbejammering of ‘n raar oomblik van absolute eerlikheid? Ek weet self nie.

Wat ek wel weet is dat die manlike ego ‘n baie brose ding is en maklik kneus. Geen hoeveelheid bauerpan-terapie gaan dit ooit verander nie. Dit gesê is daar min dinge wat ‘n man se ego so kan kneus soos plumbing probleme, en nou praat ek nie van jou badkamer nie! Maar laat ek by die begin, begin.

Laasweek Woensdag was hierdie berig in die koerant. Normaalweg steur ek myself nie aan berigte en artikels in tydskrifte en koerante nie, maar hierdie een was soos om ‘n biografie (biopsie is dalk ‘n beter woord hier) van my lewe te lees. Krista moes toevallig Donderdag die dokter gaan sien vir haar grieperigheid, en ek het haar oortuig om vir ons rug-aan-rug afsprake te maak. Gewapen met moed wat ek nie weet waarvandaan nie, het ek die dok in die oge gekyk en my hele sad verhaal uitgelê, waarna monsters geneem is van elke liggaamsholte. Waar nie holtes was nie het hulle my vol gate gesteek en monsters gevat. Saterdagmore is ek laat weet om aan te meld by die spreekkamers om die uitslae te bespreek.

Netto resultaat: die toetse wys my testosteroonvlakke is bykans nul en dit moet deur middel van inspuitings aangevul word. Elke 3 maande, moontlik lewenslank. Ek bedank die dokter ek stap uit tussen die stukke van my ego deur, apteek toe. Die ou inspuitingtjie kos ‘n koel R1280.00 en word nie deur die mediesefonds betaal nie, dankie tog vir plêstiek. Niks powertools vir jou die maand nie boetie!

Ek is deels opgewonde, deels bang. Opgewonde omdat ek uiteindelik:

  1. My gewig onder beheer behoort te bring.
  2. Vir die eerste keer in jare weer behoorlik behoort te kan slaap.
  3. Minder swart en depressiewe buie behoort te ervaar.
  4. Meer energie en lewenslus behoort te hê
  5. . . . en laastens. Wel moet ek dit hardop sê?

Maar ek is ook bang want:

  1. Sê nou dit werk nie. Waarheen gaan ons van hier af?
  2. Sê nou dit werk te goed en die verhoogde testosteroon verander my in een of ander neandertal?
  3. Die behandeling het ‘n paar potensieël lelike nagevolge

Vir nou verkies ek om te fokus op eersgenoemde. ‘n Nuwe begin en ‘n lewe gebore uit die as van die huidige een wink. En o ja, my ego is steeds broos. So if you point and laugh, I will have to kill you. Sover dit Krista aangaan, dank Vader vir ‘n vrou wat verstaan. Ek lief daai vrou soveel dat dit voel of my borskas wil skeur.

Jaco


‘n Song vir Suid Afrika

June 7, 2008

Actually dis ‘n song vir my. Want ek hou daarvan. Want in die 80’s was ek nog jonk en unbreakable, vandag is ek nog nie eers middeljarig nie en ek is unfixable.

Let the river run

We’re coming to the edge,
Running on the water,
Coming through the fog,
Your sons and daughters.

Let the river run,
Let all the dreamers
Wake the nation.
Come, the New Jerusalem.

Silver cities rise,
The morning lights
The streets that meet them,
And sirens call them on
With a song.

It’s asking for the taking.
Trembling, shaking.
Oh, my heart is aching.

We’re coming to the edge,
Running on the water,
Coming through the fog,
Your sons and daughters.

We the great and small
Stand on a star
And blaze a trail of desire
Through the dark’ning dawn.

It’s asking for the taking.
Come run with me now,
The sky is the color of blue
You’ve never even seen
In the eyes of your lover.

Oh, my heart is aching.
We’re coming to the edge,
Running on the water,
Coming through the fog,
Your sons and daughters.

It’s asking for the taking.
Trembling, shaking.
Oh, my heart is aching.

We’re coming to the edge,
Running on the water,
Coming through the fog,
Your sons and daughters.

Let the river run,
Let all the dreamers
Wake the nation.
Come, the New Jerusalem.

Jaco


Nul uit twee is druip

June 5, 2008

Meeste mans . . ., ehm. . ., wag laat ek nou nie veralgemeen nie. Ek meet my manwees basies aan 2 dinge. Ten spyte van al die mooi woordjies en dade kom my hele evaluasie van myself as man op slegs hierdie 2 dinge neer.

En ek faal op albei!

Die eerste kan slegs reggestel word as ek oornag skielik in een of ander entrepeneur ontpop of die UK lottery wen en sakke vol moolah maak. Easy peasy

Die tweede was ek dokter toe voor gister, en hulle het naalde en spelde en plakkers in en op elke oop stukkie vel gedruk en geplak. Monsters is geneem (gelukkig het hulle net gevra dat ek ‘n monster piepie en nie dat ek ‘n krokodil k@k nie). Aanvanklike indikators lyk nie goed nie, maar (ek) ons sal beslis weet teen vroeg volgende week as die resultate van die bloedwerk bekend word.

Ek is maar bra bek-af oor die hele spul. Dit loop ‘n meter by ‘n duim dik hier, dit is donkerbruin en dit is nie sjokolade nie.

Jaco