. . . Nelspruit’s a bummer . . .
June 26, 2008%W#!$*!@^%#$!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!
Lyfie was vroeg vanoggend in ‘n ligte fender-bender betrokke in Nelspruit. Nie veel skade nie (dis nou op Lyfie), maar Koos het bietjie seer gekry. Hy is besig om die wheel-strut en bande laat vervang en R2000 later behoort hy reisvaardig genoeg te wees om by die huis te kom.
Ek vermoed hy was bietjie bang om my te bel en te vertel daarvan. Of miskien was hy verlig dat hy so vêr is en dus buite bereik . . .
Maar belangrikste van alles is dat Lyfie veilig is, en Lyfie is oppad huis toe. EN dis nog net 1 week voor ons verlof begin! Jiiiiiiiiiiippiiiiiiiiiiiieeeeeeeeeeeeeee!
Krista
. . . pausing . . .
June 25, 2008
Jaco is in die Laeveld op training en is eers Vrydag terug. Intussen is dit ‘n malhuis by die werk - dit hou net nie op nie.
So as julle nie veel van ons hoor tot volgende week nie, moenie paniek nie, ons probeer net ons koppe bo die bruin spul #$% hou . . .
Miskien kan julle intussen help dink: ons soek idees vir ‘n besighed om na-uurs by die huis te begin. Dit kan klein begin, maar moet die potensiaal hê om te groei. Help asseblief? (Ons kan altyd onderhandel om tantieme te betaal vir ‘n idee wat werk . . .)
Krista
Die klank van ‘n poep
June 22, 2008Voor ek begin, laat ons sommer by voorbaat die volgende uit die weg ruim: ALMAL laat van tyd tot tyd ‘n ou windjie. As jy een van daardie neus-in-die-lug-tipes is wat weier om te erken dat jy ook soms poep, moet dan nie verder lees nie en gaan poep verder om die hoek.
Vir my bestaan ‘n poep uit 3 dele:
- Veilig/onveilig (moet ons jou in die tuin met die hosepipe afspuit of was hy droog?)
- Klank (hoe klink jou poep?)
- KLANK (huur jou vrou/man jou aan Afghanistan uit as hulle biological warfare gasvervaardiger of ruik joune na laventel?)
My saak vandag is met no 2 = Klank.
Afhangende van hoe jy sit en hoe jy knyp, klink dit wat by jou onderkant uitkom, nie sommer dieselfde nie. O ja, en WAAR jy sit (tuis of openbare troon) maak ook ‘n verskil.
Ek het al die volgende waargeneem:
Hy kan laat los word soos ‘n mishoring sodat hy bulderend in die gang afstorm en hoef(poep)spore op die plafon los (alles in een go).
Of soos die sokkerondersteuners uitasem op die vuvusela’s blaas om genoeg wind bymekaar te kry om darem ook gehoor te word.
Hy kan natuurlik ook so geknyp word dat hy nie ontsnap nie en dus opborrel na jou brein toe sodat jy vir die res van die week kak gedagtes ontwikkel.
Of klink soos ‘n masjiengeweer se ratta-tattatt en almal om jou slaan dekking om uit die koeëls se pad te kom.
Fyn en op ‘n hoë noot soos lug wat uit ‘n ballon gelaat word laat my altyd giggel.
So natuurlik en tog so sosiaal onaanvaarbaar . . .
Winderig Maré
Een uit ‘n miljoen
June 18, 2008Gedurende die verloop van jou lewe kruis jou paaie met sekerlik honderde, of selfs duisende mense. En as jy gelukkig is kruis jou pad met iemand so spesiaal dat hy/sy kop en skouers bo die ander uitstaan. BB is so ‘n spesiale persoon.
BB, dit is vir ons ‘n absolute eer en voorreg dat jy ons lewenspaadjie gekruis het. Jou geskenk getuig van jou deernis en van die diep gevoelsmens wat jy is en dit sal vir ons uitstaan as een van die hoogtepunte in ons lewens.
Jy is voorwaar een uit ‘n miljoen en ons is geseënd om jou te ken
Krista en Jaco
P.S. Op die foto is ‘n amazing sanger/liedjieskrywer en ‘n pêl duisend. Die ander ou is Koos somebody. Hy skryf blykbaar ook so nou en dan ietsie. ![]()
. . . my lief . . .
June 17, 2008
jou liefde maak my wandel
in eeue se bosreuse se gesels
om in die stilte en die water
my siel te voed
jou liefde maak my sweef
in altyd se duine se fluister
om in die warmte en die wind
my gees te streel
jou liefde maak my sluimer
in verewig se berge se rots
om in die vasheid en sterkte
my wese te anker
sonder jou
is ek leeg
is ek niks
is ek nie
kan ek nie
K
The story of us
June 12, 2008Geensins so romanties soos van die ander troustories wat ons al die week gelees het nie, maar dit is ons storie en sal daarby hou
Dit was ‘n tyd nie so lank gelede nie in ‘n plek nie te ver van hier nie. Die jaar 1991. ‘n Matriek klong sit agter in die Afrikaanse klas, dik verveeld. Hy tel die ure af na huistoegaan-tyd. Rugby-tyd. Wie wil nou skoolgaan as daar rugby is om te speel? Om die tyd om te kry skop-skop hy so teen die meisiemens wat voor hom sit se stoel. Elke nou en dan vervies sy haarself en snou hom iets toe, maar sodra sy haar rug draai begin hy weer. Skop . . . skop . . . skop. Die volgende periode is die onderwyser nie daar nie en die kinders sit in groepies en nonsens gesels. Meisiemens vra ons rugbyheld om mooi stil te sit want sy wil sy oë kyk. Sy reken dit is sulke mooi groenes met geel en bruin vlekkies in. Sy roep selfs ‘n vriendin om haar observasies te bevestig. Ons rugbyheld weet dit nog nie, maar die koeël is alreeds daardie dag deur die kerk.
Rugbyheld was miskien ‘n yster op die veld, maar die dinge van die hart het hom erg verboureer. Die nabyheid van enige lid van die vroulike spesie het hom in ‘n stotterende idioot verander. As R.S.M. van die skool se kadette was dit sy taak om nou en dan die meisies drilpeleton ook bietjie touwys te maak. Dit het nooit gebeur nie, want die nabyheid van soveel estrogeen het hom sy bevele laat vergeet! Dankie tog vir die “matchmaking” insette van ‘n klasmaat wat uiteindelik veroorsaak het dat onse rugbyspeler die meisiemens van die Afrikaanse klas vir ‘n date gevra het na die skool se jaarlikse deurnagsokkie toe. Ten spyte van die feit dat hy van dans niks geweet het nie, en vandag steeds nie 2 voete voor mekaar kan sit op ‘n dansbaan nie. By die tweede date (‘n uitstappie Pretoria skou toe) moes meisiemens maar die leiding neem en ons rugbyheld aan die hand vat. As sy vir hom moes wag het sy nou nog gewag. Het ek al genoem dat ons rugbyheld ‘n totale neandertal was as dit kom by sake van die hart?
So het die laaste dae van hulle sorgvrye skooldae uitgeloop en rugbyheld is vort SAW & Seuns toe om ‘n grensvegter recce te gaan word. Vir ‘n kort rukkie gedurende hierdie tydperk was die verhouding verbreek want ons grensvegter recce het gevoel dat ‘n man van sy statuur ‘n bergklim-en-uitkamp meisie moet hê. Geen bergklim-uitkamp meisie kyk egter tweemaal na ‘n stotterende idioot nie. Gelukkig het onse meisiemens, wat intussen in ‘n ietwat boheemse jong dame ontwikkel het wat haar hare spierwit kleur, lang rompe en John Lennon brilletjies dra en met middagete op die labratorium toonbanke in die son lê en slaap, besluit om haar te vermoei met die ouer-en-wyser recce-grensvegter. Maar die prys van toegang tot haar hart was dat hy die drome van recce word moes laat vaar, synde dat sy nie met ‘n bossies-recce-grensvegter wil opgeskeep sit sodra SAW en seuns sy oorskot uitgespuug het nie..
9 jaar en baie sakke sout later trek ons man, nou ‘n gegradueerde en witboordjie-werker, saam met Liefie in haar huis in. Die laaste van sy ouers onlangs oorlede. Baie saggies en geduldig het sy oor die voorafgaande 9 jaar die kopwurms van sy grensvegter-recce-dae verban tot die verste hoeke van sy brein en van hom ‘n semi-beskaafde mens gemaak. ‘n Verdere 4 jaar later, in Oktober 2004 vra hy haar om haar hand op die strand by Scottburgh aan die Natalse suidkus. Sy stem in met sekere voorwaardes. Hulle besluit om rondom Augustusmaand van die volgende jaar te trou.
Een goeie Maandagaand - 31 Januarie 2005 om presies te wees, is ons twee karakters besig om aandete te pleeg in die kombuis toe sy skielik na hom draai en sê “kom ons trou op valentynsdag, ek wil nie meer wag nie” Hy speel natuurlik saam en sê “ja hoekom nie?” Dit blyk toe dat sy heeltemal ernstig was. Die tweetjies is 2 weke later op 14 Februarie 2005 om elfuur die oggend getroud te AGS kerk in Pretoria Noord deur haar baas wat op daardie tydstip wat ook ‘n NG dominee was. Die seremonie is bygewoon deur slegs ‘n paar vriende en familielede. Na die tyd is ‘n vingerete by die huis bedien en die bruidspaar het die aand al die gaste wat wou bywoon by ‘n eetplek ontmoet vir aandete. Die volgende more het hulle op wittebrood vertrek en vir 2 weke weggebly.
P.S. Daar is ‘n rumour dat die paartjie in 2011 die hele trou-besigheid gaan oordoen met onthaal en alles, waarna hulle per trein na die mooiste plek in die wêreld gaan reis om hulle tweede wittebrood te vier. ‘n Segspersoon vir die paartjie het gesê dat hierdie rumour op die stadium nie deur die paartjie ontken of bevestig kan word nie.
. . . ander mamma en pappa . . .
June 10, 2008Albert Gouws (6), een van ons drie peetkinders, moes in opdrag van die juffrou ‘n prentjie van sy gesin teken. Hy teken toe vir mamma en pappa en Zander en Nicholas (sy twee boeties) en twee ander mense ook. Toe die juffrou hom vra wie daardie mense is, kom die antwoord: “dis my ander mamma en pappa, oom Jaco en tannie Krista”.
Dankie dat jy ons insluit in jou bestaan en jou menswees, Albert. Ons is net so lief vir jou.
Oom Jaco en tannie Krista
. . . aartappelkind . . .
June 4, 2008
Daar was ‘n klein dogtertjie met ‘n oom Nico en Tannie Mientjie wat in Barkley Wes ‘n plaas gehad het. Hulle het onder andere met aartappels geboer. Elke geleentheid wat hulle in Pretoria kom kuier het, het op dieselfde manier opgeëindig:
Sodra die groetery na die kuier begin, klim die kleintjie in die rooi kombi en maak haar tuis op die agterste bank. En sy weier om uit te klim. Sy gaan SAAM. Maak nie saak wat wie haar belowe om uit te klim nie, sy weier - sy gaan SAAM. Mamma moes dan maar inderhaas klere in ‘n tas gooi en so is kleinste saam plaas toe. Geen kommer oor hoe sy weer na die kuier by die huis gaan kom nie, solank sy net kan saam plaas toe en nie by die huis hoef te wees nie.
Daar gekom, het sy gevra vir aartappels - vir elke ete. Sy was MAL oor aartappels. Dis omtrent al wat sy geeët het op die plaas. In elke vorm, elke dag. As sy terugkom by die huis na so ‘n kuier, was die gesiggie sommer rond en gesond van al die goedheid uit die grond uit.
Die boetie het dieselfde gedoen jare later. En die sussie was jaloers omdat sy toe al in die skool was en nie kon saam nie.
Later het ons gesels oor hierdie kuiers. Oor die mamma wat altyd probeer het om die beste vir haar kinders te gee terwyl sy haar afgesloof het om lewe en siel bymekaar te hou deur oortyd- en bonus-ure te werk terwyl die pappa altyd ‘n nuwe skema, ‘n nuwe plan gehad het wat soos al die ander nie gewerk het nie, en nie geld ingebring het nie. En ek hoop die mamma verstaan dat dit nie oor haar was nie, die kleintjie het vreeslik na haar mamma verlang terwyl sy op die plaas gekuier het.
Die vakansies op die plaas was om weg te kom van die huis af. Weg van die pappa af wat vir elke klein dingetjie die kinders geslaan het dat hulle boudjies vir weke na die tyd blou was. Wat die kinders onderdruk het en nie toegelaat het dat hulle hulle eie mense word en persoonlikhede ontwikkel nie. Wat psigopaties en sadisties was. Wat soos ‘n slapgat-bliksem altyd by die huis gesit en toegekyk het hoe die mamma haar ten gronde werk om die wolf van die voordeur weg te hou. Wat baie verontreg was toe die mamma hom die huis uitjaag en hy ewe skielik sy eie potjie moes krap.
Dus, ‘n groot dankie aan oom Nico en tannie Mientjie wat die klein dogtertjie en seuntjie ‘n breek gegee het om net kind te kan wees en ure op die plaas om te speel. Al was dit seker nie altyd geleë om ‘n ekstra kind (hulle self het 3 gehad) saam te piekel nie.
Die storie het darem nie ‘n hartseer einde nie:
Die dogter het geleentheid gehad om haar persoonlikheid te ontwikkel nadat pappa uit die huis geskop is. Al het sy toe die verantwoordelikheid van die “man van die huis” op haar skouers geneem. En sy groei nog steeds daaraan. ‘n Late bloomer as ek nou al een gesien het . . .
Die oorspronklike aartappelkind
Toe ons nog eens twee kalfies was
June 1, 2008Sonkind het ons al laasweek getag om ‘n paar foto’s uit ons prille jeug ten toon te stel. Dinge was bietjie rof, maar hier is hulle nou.
Krista as baba. Te oordeel aan die vingertjie was sy sommer van vroeg al gewoond aan orders uitdeel.

Krista “in training” as ‘n blommekind.
Jaco as baba.
Jaco ongeveer 6 jaar oud.

Posted by wosonki







