Tequila, Takuzza, Te jammer

June 23, 2008

Die storie begin etlike jare gelede, toe ons nog in ons prille jeug was en van brieke daar geen sprake was nie. Dit was ‘n Saterdag, en alhoewel dit in die middel van die winter was, was dit lekker warm op Zeerust in die Marico distrik. Ons het pas op die dorp aangekom uit Pretoria uit, op pad na ‘n familie geselligheid. Oom Johan (oupa Jôhnie vir ons) en ouma Hester (Vaalvrou waar sy ons nie kon hoor nie) vier hulle 50ste huweliksherdenking in die landbousaal op die die dorp en die hele familie is daar.

Nou kyk, in die Marico is dit glad nie ongekend dat so ‘n ou geselligheidjie sommer maklik vir ‘n hele naweek kan aanhou nie, en innerlike versterking is dikwels al wat jou lewendig deur so besigheid kry, derhalwe was ons eerste stop toe ons die dorp inry natuurlik die drankwinkel. Of noodapteek as jy ‘n ding dan nou nie so blatant op sy naam wil noem nie.

Ewenwel, dit word wyd verkondig dat ‘n mens nie moet kruideniersware gaan koop as jy honger is nie, want dan word jou inkope as’t ware deur jou maag gelei. Nou uit bittere ondervinding (verskeie kere) kan ek nou ook getuig dat ‘n mens nie by die noodapteek moet aandoen as jy dors het nie. En daai dag was ons dors . . .

In die skemerdonkerte daar binne in die winkeltjie loop ons onself toe waaragtig vas in ‘n ou kennis van ons by name Olmeca. In daai jare was ons Mexikaanse pêl maar ‘n “petty thief” en sy borgtog glad nie te buitensporig nie, en synde dat ons begroting maar skraps is, vat dit nie veel beraadslaging gevat om hom van sy uitkykpunt op die boonste rak te bevry nie. Ek moes toe al geweet het dat hier moeilikheid kom, maar op vroeg-in-die-twintig is jy mos bulletproof.

Om ‘n lang storie kort te maak, daai aand is die eerste en enigste keer dat ek my liewe swaer se geselskap vir meer as 10 minute kon uitstaan. Ek het ook nie geweet my klein sussie kan so dors word nie! Maar dit is eers veel later wat die werklike sports begin. Aanvanklik was ek baie trots op my besluit om liewer by die gastehuis ongeveer 600 meter van die saal af te oornag, eerder as om nog die stuk pad plaas toe aan te durf. By ons kamer aangekom het ek die twee draaiende katels so rukkie staan en beskou, en besluit dat vir een aand kan ons maar op aparte bedjies slaap. Daar is geen manier wat ek die goed gevang kan kry om hulle teen mekaar te skuiwe nie. Toe my katel weer verby gesirkel kom, toe is ek op hom. Ek het so deur die slaapnewels gesien Lyfie het haar kateltjie darem ook gevang.

Nie te lank daarna nie word ek wakker van iets wat klink soos ‘n baie dorstige kameel in die badkamer. Met baie moeite kon ek my een ooglid oopforseer, net om te sien dat dit net Lyfie is wat die kouewater kraan met mag en mening aanval. Wyl ek toe wakker is, dink ek dit toe ‘n goeie plan om maar dieselfde te doen, synde dat ek darem maar ongelooflik dors is vir iemand wat so baie vloeistof aanboord geneem het. Net na ek weer my lê gekry het, begin Lyfie uit haar hoek kla dat die goeters haar byt. Ons het naderhand die ligte aan, maar sien g’n niks van die goeters wat haar so byt nie. Uit pure desperaatheid ruil ons beddens, maar steeds kla sy die goeters byt haar. Sy het opgehou kla nadat ek histeries begin giggel het, en gevra het of Olmeca iets daarmee te doen het.

Skaars het ek ingesluimer of ek word wakker van die stemmetjie in die donker. Liefie, liefie….lieeeeefieeee. Huh!? is omtrent al wat ek deur my droeë keel kon forseer. Aag wil jy nie die Coke in die kar gaan haal nie, ek is nou vreeslik dors en die kraanwater smaak sleg, pleit sy uit die donker. Hoe kan ‘n mens dan nou so stemmetjie weier, en met net ‘n kort rugbybroekie durf ek die koue nag aan om vir Lyfie koeldrank uit die kar te loop haal.

In retrospek dink ek die water het begin sleg smaak omdat Lyfie waarskynlik die reservoir droog gedrink het daai aand. Hoe dit ook al sy, Marico partytjies is nie vir sissies nie, veral nie as die Mexikane ook daar is nie. Dankie tog vir spek, eiers, roosterbrood en moerkoffie, want daarsonder sou daai klein mannetjie nou nog paneelkloppery in my kop beoefen het

Jaco


The story of us

June 12, 2008

Geensins so romanties soos van die ander troustories wat ons al die week gelees het nie, maar dit is ons storie en sal daarby hou ;)

Dit was ‘n tyd nie so lank gelede nie in ‘n plek nie te ver van hier nie. Die jaar 1991. ‘n Matriek klong sit agter in die Afrikaanse klas, dik verveeld. Hy tel die ure af na huistoegaan-tyd. Rugby-tyd. Wie wil nou skoolgaan as daar rugby is om te speel? Om die tyd om te kry skop-skop hy so teen die meisiemens wat voor hom sit se stoel. Elke nou en dan vervies sy haarself en snou hom iets toe, maar sodra sy haar rug draai begin hy weer. Skop . . . skop . . . skop. Die volgende periode is die onderwyser nie daar nie en die kinders sit in groepies en nonsens gesels. Meisiemens vra ons rugbyheld om mooi stil te sit want sy wil sy oë kyk. Sy reken dit is sulke mooi groenes met geel en bruin vlekkies in. Sy roep selfs ‘n vriendin om haar observasies te bevestig. Ons rugbyheld weet dit nog nie, maar die koeël is alreeds daardie dag deur die kerk.

Rugbyheld was miskien ‘n yster op die veld, maar die dinge van die hart het hom erg verboureer. Die nabyheid van enige lid van die vroulike spesie het hom in ‘n stotterende idioot verander. As R.S.M. van die skool se kadette was dit sy taak om nou en dan die meisies drilpeleton ook bietjie touwys te maak. Dit het nooit gebeur nie, want die nabyheid van soveel estrogeen het hom sy bevele laat vergeet! Dankie tog vir die “matchmaking” insette van ‘n klasmaat wat uiteindelik veroorsaak het dat onse rugbyspeler die meisiemens van die Afrikaanse klas vir ‘n date gevra het na die skool se jaarlikse deurnagsokkie toe. Ten spyte van die feit dat hy van dans niks geweet het nie, en vandag steeds nie 2 voete voor mekaar kan sit op ‘n dansbaan nie. By die tweede date (‘n uitstappie Pretoria skou toe) moes meisiemens maar die leiding neem en ons rugbyheld aan die hand vat. As sy vir hom moes wag het sy nou nog gewag. Het ek al genoem dat ons rugbyheld ‘n totale neandertal was as dit kom by sake van die hart?

So het die laaste dae van hulle sorgvrye skooldae uitgeloop en rugbyheld is vort SAW & Seuns toe om ‘n grensvegter recce te gaan word. Vir ‘n kort rukkie gedurende hierdie tydperk was die verhouding verbreek want ons grensvegter recce het gevoel dat ‘n man van sy statuur ‘n bergklim-en-uitkamp meisie moet hê. Geen bergklim-uitkamp meisie kyk egter tweemaal na ‘n stotterende idioot nie. Gelukkig het onse meisiemens, wat intussen in ‘n ietwat boheemse jong dame ontwikkel het wat haar hare spierwit kleur, lang rompe en John Lennon brilletjies dra en met middagete op die labratorium toonbanke in die son lê en slaap, besluit om haar te vermoei met die ouer-en-wyser recce-grensvegter. Maar die prys van toegang tot haar hart was dat hy die drome van recce word moes laat vaar, synde dat sy nie met ‘n bossies-recce-grensvegter wil opgeskeep sit sodra SAW en seuns sy oorskot uitgespuug het nie..

9 jaar en baie sakke sout later trek ons man, nou ‘n gegradueerde en witboordjie-werker, saam met Liefie in haar huis in. Die laaste van sy ouers onlangs oorlede. Baie saggies en geduldig het sy oor die voorafgaande 9 jaar die kopwurms van sy grensvegter-recce-dae verban tot die verste hoeke van sy brein en van hom ‘n semi-beskaafde mens gemaak. ‘n Verdere 4 jaar later, in Oktober 2004 vra hy haar om haar hand op die strand by Scottburgh aan die Natalse suidkus. Sy stem in met sekere voorwaardes. Hulle besluit om rondom Augustusmaand van die volgende jaar te trou.

Een goeie Maandagaand - 31 Januarie 2005 om presies te wees, is ons twee karakters besig om aandete te pleeg in die kombuis toe sy skielik na hom draai en sê “kom ons trou op valentynsdag, ek wil nie meer wag nie” Hy speel natuurlik saam en sê “ja hoekom nie?” Dit blyk toe dat sy heeltemal ernstig was. Die tweetjies is 2 weke later op 14 Februarie 2005 om elfuur die oggend getroud te AGS kerk in Pretoria Noord deur haar baas wat op daardie tydstip wat ook ‘n NG dominee was. Die seremonie is bygewoon deur slegs ‘n paar vriende en familielede. Na die tyd is ‘n vingerete by die huis bedien en die bruidspaar het die aand al die gaste wat wou bywoon by ‘n eetplek ontmoet vir aandete. Die volgende more het hulle op wittebrood vertrek en vir 2 weke weggebly.

P.S. Daar is ‘n rumour dat die paartjie in 2011 die hele trou-besigheid gaan oordoen met onthaal en alles, waarna hulle per trein na die mooiste plek in die wêreld gaan reis om hulle tweede wittebrood te vier. ‘n Segspersoon vir die paartjie het gesê dat hierdie rumour op die stadium nie deur die paartjie ontken of bevestig kan word nie.


Boots en Rofty

June 11, 2008

So lank as ek kan onthou het ons altyd diere gehad, meestal honde en so nou en dan ‘n kat, so dit is nie asof ek nie met diere grootgeword het nie. Alhoewel ons baie lief was vir hulle, het my ouers ‘n baie “tradisionele” siening gehandhaaf oor presies wat die hond se posisie in die familiestruktuur was. Hulle was lekker speelmaats na skool, maar hulle uitsluitlike doel was om die huis op te pas. Met spesiale geleenthede is hulle toegelaat om in die sitkamer op die vloer te kom lê, maar teen slaaptyd moes hulle uit want ‘n hond se plek is buite.

Elke storie moet ‘n begin hê, en ek reken in my geval is ‘n goeie begin die dag toe ek die maltrap girl waarmee ek vandag getroud is, se huis gaan oppas het.

Nou in Krista hulle se huis het dit anders gewerk, veral nadat haar Pa weg is. Honde by hulle was kinders, en is behandel soos kinders. Een goeie Junie-maand presies tien jaar gelede is die familie vir hul gebruiklike vakansie Natalse Suidkus toe. Ek kon nie saam nie as gevolg van werksverpligtinge, so ek het in Krista hulle se huis kom bly vir die tydperk.

Boots en Rofty was die laaste oorblywende boerboel puppy’s van ‘n werpsel van een van hulle ander honde, en hulle was albei net besig om te herstel van katgriep. Nou vir die wat weet, honde wat herstel van katgriep ervaar die allervreeslikste maagwerkings. En maagwerkings in ‘n boerboel, al is dit nog babatjies, is nie ‘n mooi gesig nie.

Diegene wat my goed ken sal ook weet dat ek nie baie bedrewe is met die optel van hondemis nie, was nog nooit en sal seker nooit wees nie. Die proses behels gewoonlik my hemp wat styf om my mond en neus gebind is terwyl ek met die graaf kromrug oor die grasperk loop en ek die allervreeslikste geluide maak. Natuurlik het al die buurmanne ook altyd soos vrot velle oor die mure gehang en hulleself vrek gelag vir die vertoning wat ek opsit.

Maar terug by Boots en Rofty. Twee siek boerboele, ‘n baas wat nie daarin glo dat siek honde buite bly nie, volvloermatte en ‘n babysitter wat effe allergies vir die reuk en aangesig van slap hondepoef is. RAMP met ‘n hoofletter K. Dit was die langste 10 dae van my lewe. Uit desperaatheid het ek naderhand die hele huis toegepak met koerante om die skoonmaakproses te vergemaklik. Na elke aand se optellery was ek skoon uitasem en my maagspiere seer van die geruk. As ek dan die twee gaan soek om hulle te vermorsel sit hulle styf sy-aan-sy voor die verwarmer met sulke verleë gesiggies. My hartjie word dan weer sag tot die volgende aand wanneer die proses van voor af herhaal word.

Beide Boots en Rofty het heeltemal herstel en is na goeie huise toe (Krista het nie haar hondjies sommer aan enige iemand verkoop nie). Die twee outjies het ‘n ver pad gegaan om my siening van troeteldiere te verander. Ek wonder of hulle nog leef en hoe dit met hulle gaan?

Jaco


‘n Song vir Suid Afrika

June 7, 2008

Actually dis ‘n song vir my. Want ek hou daarvan. Want in die 80’s was ek nog jonk en unbreakable, vandag is ek nog nie eers middeljarig nie en ek is unfixable.

Let the river run

We’re coming to the edge,
Running on the water,
Coming through the fog,
Your sons and daughters.

Let the river run,
Let all the dreamers
Wake the nation.
Come, the New Jerusalem.

Silver cities rise,
The morning lights
The streets that meet them,
And sirens call them on
With a song.

It’s asking for the taking.
Trembling, shaking.
Oh, my heart is aching.

We’re coming to the edge,
Running on the water,
Coming through the fog,
Your sons and daughters.

We the great and small
Stand on a star
And blaze a trail of desire
Through the dark’ning dawn.

It’s asking for the taking.
Come run with me now,
The sky is the color of blue
You’ve never even seen
In the eyes of your lover.

Oh, my heart is aching.
We’re coming to the edge,
Running on the water,
Coming through the fog,
Your sons and daughters.

It’s asking for the taking.
Trembling, shaking.
Oh, my heart is aching.

We’re coming to the edge,
Running on the water,
Coming through the fog,
Your sons and daughters.

Let the river run,
Let all the dreamers
Wake the nation.
Come, the New Jerusalem.

Jaco


Toe ons nog eens twee kalfies was

June 1, 2008

Sonkind het ons al laasweek getag om ‘n paar foto’s uit ons prille jeug ten toon te stel. Dinge was bietjie rof, maar hier is hulle nou.

Krista as baba. Te oordeel aan die vingertjie was sy sommer van vroeg al gewoond aan orders uitdeel.


Krista “in training” as ‘n blommekind.

Jaco as baba.

Jaco ongeveer 6 jaar oud.


Die aand wat amper nie was nie

May 18, 2008

Voor ons op die skouer geklop word met die woorde “julle is getag”, laat ons dit maar agter die rug kry.

Die was die dag van die matriekafskeid. Nie die rok of die bypassende strikdas en cummerband was klaar nie. Met ‘n oordentlike skoot rou paniek, baie trane, feitlik geen budget en ‘n goeie maat geluk en ‘n vasberade (skoon)ma is ‘n ander rok bekom en ons was betyds vir die geleentheid. Vir ons het dit gevoel asof die aand ‘n absolute disaster was.

Vandag amper 17 jaar later sien ons weer dié inskrywing agterop die foto toe ons hom wil skandeer.

“20 September 1991
Actually my eyes are blue

He said: it’s like the sky above reflected in my heart “

Ek ek besef weereens: vandag se disasters is more se staaltjies. Die lewe gaan oor gedeelde ervarings, en saam is daar niks wat ons kan breek nie.

P.S. Ek dink dit was ons derde date.

Jaco


Veels geluk Ma

May 12, 2008

Baie geluk met die verjaarsdag *Ma.

Ek onthou dit soos gister, jou kop so bietjie skeef gedraai terwyl jy een van jou gunsteling sêgoed aan ons kinders oordra. “. . .My kind, as is verbrande hout. . .”

Maar as jy vandag nog hier was sou jy kon help met die besluite wat ons moet maak. Ons mis jou.

Jaco & Krista

*Grietha Maré - Gebore 12 Mei 1949 - Oorlede 17 Maart 2000


Lekker verjaar oubaas

March 13, 2008

Jy sou vandag 62 jaar oud gewees het, maar jy is bykans 17jaar gelede opgeroep vir hoër diens.

Ek en jy sou vandag nagte kon omgesels oor alles onder die son, maar jy is nie meer hier nie.

Jou pragmatiese uitkyk op die lewe sou hierdie wêreld ‘n beter plek gemaak het, sou my wêreld ‘n beter plek gemaak het. Jy was ‘n denker en ‘n dromer, en nou is jou plekkie leeg.

In die kort rukkie wat jy vir ons geleen is, het jy genoeg gedoen om die grondslag te lê vir die man wat ek geword het. Daarvoor is ek jou ewig dankbaar. En dit is ook my geskenk aan jou.

Lekker verjaar Pa.

Ek mis jou

Jaco


5 dae in ‘n leeftyd

February 9, 2008

Hoe kies jy 5 dae en merk hulle as beter, meer spesiaal, as enige ander dag? Dit is waarop Ding se tag neerkom. Die 5 beste/slegste dae van jou lewe.

Kom ons probeer maar, gekies op grond van die intensiteit van die steekpyn onder ons hart, en gelys van oudste tot nuutste - ons 5 gunsteling posts.

1. Liewe ma

2. Nasionale diensplig: tragedie of triomf

3. Happy birthday

4. Ek is ‘n gelukkige man

5. PaCobus

Ons moet erken dat nie een van ons regtig lus was vir die tagspul nie, maar so ‘n geblaaiery deur jou ou griffels is soos om ou foto albums deur te blaai. Dit was nogals pret. Vol onthou-jy-nog-daai-dag opmerkings.

En terwyl ons nou besig is met die Tag speletjie, ek sien nou eers ons is ook deur Sharks getag, sorry Sharkie ek het nie die tag gesien nie, ek het gedink dit is deel van die vorige tag speletjie.

Die vraag was: As jy kon maan toe gaan, sou jy? Hoekom?

Kort en Kragtig: Nee. Ek sou baie graag die aarde vanuit die ruimte wou sien, maar ek wil nie noodwendig maan toe nie.

Eerstens, die bedrae geld betrokke kan soveel beter op ander plekke aangewend word en tweedens, ek was nog nie eers by die Voortrekkermonument nie demmit, wat sou ek op die maan wou loop doen?

Ciao maters, geniet die naweek.

P.S. Lekker GROOT week wat voorlê - hou die spasie dop!


Musiek van die 80’s

December 21, 2007

Hoekom vra jy? Want en kan!

Synde dat dit kersfees is, raai bietjie wat is die liedjie. Ek gee jou ‘n hint . . . ♪pa rumpa pa pum♪

En wat van die een? Het iemand anders al van die band gehoor?

Ietsie meer laf seg jy? Ok wat van die nommertjie

Mag jy ‘n giggelgeel Vrydag beleef.

Jaco