. . . dankie Clover . . .
May 5, 2008
Ek het in Februarie 3 boksies Ultramel Vanilla Vla gekoop by winkel X. Die vervaldatum daarop was Julie 2008. Toe ons die 1ste boksie vla vol verwagting (mens sien mos uit, magtag!) in Maart oopmaak, is daar sulke bruin spikkels in die helder geel vla. Die vla ruik nog ok, die vla proe nog ok, maar ons hou nie van bruin goeters in ons vla nie, ok?
‘n Week later maak ons die 2de boksie oop. Wat ‘n teleurstelling! Weer kan ons dit nie eet nie, weer is daar bruin spikkels in die vla wat nie daar hoort nie.
Vroeg April maak ons die derde boksie oop - selle storie. Ek bere hom toe mooi in die yskas en ek kontak vir Clover op hulle webtuiste. Ek gee die batch nommer, die vervaldatum, die barcode, die winkelnaam, die koopdatum, alles. Twee dae later bel ‘n omie van Clover my om die winkel en koopdatum te bevestig. Ek gee toe weer vir hom die inligting. Hy vertel my toe ek kan maar die vla weggooi, hulle stuur vir my ietsie in die pos. Ok.
Saterdag haal ons soos gewoonlik weer pos uit en daar is toe wragtag ‘n briefie van Clover. Met ‘n mooi briefie by en om my te vergoed vir my ongerief, ‘n koopbewys van Clover vir R30.00. Dankie, oom.
My dilemma is die volgende:
- wees ek tevrede en sê dankie vir Clover vir die R30.00 of
- laat weet ek hulle dankie, maar nee dankie, hou maar julle R30.00, die vla se koste was eintlik R60.00, so alles of niks?
Ek is geneig om te gaan vir opsie 1, maar die hormone hol los rond en partykeer mik ek na opsie 2. Wat dink julle?
Krista

Posted by wosonki