Met groot opgewondenheid neem ek vir Krista Vrydagmiddag Witrivier toe sodat ek haar kon wys waar ons ou weermagbasis is. Dinge het egter bietjie verander sedert ek daar was 15 jaar gelede, en eers met die derde poging het ek die korrekte afdraai gekry na Dingwell basis toe, gesetel in die vallei knap duskant Witrivier.
Ek weet nie wat ek verwag het na soveel jare nie, maar dit wat ons gekry het was ontstellend. Geen drade of hekke nie, die gras wat kophoogte op die paradegrond groei, die kaal bouvalle van die HK gebou en die ergste van alles - die klipkroegie wat ek en Visagie letterlik met ons eie hande gebou het, is afgebreek en daar staan nou ‘n plakkershut! Die groot “flattop” acaciaboom waaronder daar briewe geskryf en gelees is, of sommer net gedink is, is lankal vuurmaakhout. Die piesangbome wat ons voor die laning tente geplant het, groei wild en onversorgd. In skrille kontras staan die menasiegebou - ‘n toegeboude sinkstoor - nog net soos ons hom gelaat het, nie ‘n enkele sinkplaat of venster gesteel nie.
Altyd as ek sulke murasies langs die pad sien, dan wonder ek. Mense het daar gewoon, daar is geskiedenis, daar is ‘n storie. Die murasies van Dingwell basis het my laat besluit dat hierdie een se storie sal vertel word. Hier is dan ‘n kort gedeelte uit die verhaal van Dingwell basis soos ek dit onthou.
Dingwell was na die Suidwes oorlog die ontplooinings basis van 4SAI se Charlie kompanjie. Diensplig is afgeskaal na 1 jaar toe, en vir die eerste 6 maande van die jaar, terwyl die nuwe inname opleiding ontvang het in Middelburg, het kampers die fort gehou. Vroeg in Julie is die kampers huis toe gestuur en het die nuwe inname troepe van 4SAI - pas klaar opgelei - hulle intrek geneem. My inname was geensins anders nie.
Ek was deel van die voorspan, ons het so week voor die hoofgroep aangekom, en dit was ons taak om die kamp voor te berei vir die res. Tente is opgeslaan, paradegrond skoongemaak, proviant en amunisie aangery en gestoor en ‘n miljoen ander takies wat moet aandag kry om dit moontlik te maak om 130 soldate vir 6 maande lank te huisves. Vir die volgende 6 maande was ons die “thin red line” Saam met die plaaslike polisie moes ons ‘n area wat strek van Witrivier tot Hazyview, van Hazyview tot teen Krokkedilbrug al teen die wildtuin om tot weer in Nelspruit beskerm. Dit was die tuisland Kangwane. Die land was in “state of emergency” - onthou die was voor ‘94 - en daar was bloedige betogings orals. Ons funksie was beide TEIN stedelik en TEIN platteland, maw ons het betogings opgebreek en terroriste selle in die woonbuurtes gesoek, maar ons het ook die buitewyke patrolleer en wapenopslagplekke en infiltrasieroetes vanaf Zim, Mosambiek en Swaziland gesoek. Die patrollie siklus was gewoonlik 2 weke uit, 1 week in en Dingwell was waar jy jou tyd spandeer het as jy in was.
Ek onthou nog die tent laan, elke peleton het 4 tente - 1 vir elke stick. Peleton 1 se tente heel voor, dan peleton 2, 3 en dan ons - HK peleton - klerke, chefs en drywers (ek was een van laasgenoemde). Korporaal Trichard by peleton 1, Pelser by 2, Taljaard by 3 en Groenewald by ons. Ek onthou vir mal Richter - hy het meer weermagvoertuie ge-US as die res van ons saam, Schonfeld van Ermelo, die 2 Bothas, Gavin en Vlieg en Mens en Visagie en Tiffy. . . en ‘n klomp ander wie se gesigte steeds helder voor my geestesoog staan maar waarvan die name al vervaag het. Dit was die manne wat van Dingwell huis gemaak het.
Saterdagaande is daar gebraai - almal wat in die Basis was kry ‘n vleisie en ‘n worsie, daar word vuur gemaak en gekuier - die weermag se kwota van 2 biere per man word oor die hoof gesien, more gaan ons weer uit op 2 weke patrollie en dan is dit ratpacks en water! Ek onthou die bosbusse as die diere van die dieretuin vuil gelaat is omdat ons eerder wou gaan braai. Ons het van alles in die dieretuin gehad, buffels, ratels, spinnekoppe, mambas, kwêvoels en vistenks. En as jy hom gery het, moet jy hom was, anders vat kpl. Groenewald jou vir ‘n lekker draffie deur die countryside!
Ek onthou die dear Johny’s, die verjaarsdae, die parades, wasdag, patrollie, verlang, moeg, honger, vuil. . . en af en toe die absolute stilte in die kamp as een man nie teruggekom het nie.
Ek onthou jou Dingwell basis, ek onthou die manne wat saam met my daar was. Ek sal julle nooit vergeet nie!