Min dae
June 20, 2008Oor presies twee weke begin span wosonki se welverdiende (en langverwagte) verlof. Ons sien nogal vreeslik uit daarna, 17 volle dae van leeglê en saamwees. Met hardekoolvuurtjies, rooiwyn en die reuk van bosveld in jou neusgate. Met die koer van tortelduiwe as die son opkom. Die bosveld roep soos Zulu dromme, daardie narkotiese Afrika ritme, doem da da doem da da doem doem da da doem da da doem doem da da doem da da doem.
Terug in die regte wêreld moet daar egter nog eers so paar dingetjies platgespeel word voor ons gaan. Daar is ‘n vierdag trippie Laeveld toe vir my volgende week om bietjie besigheid op te jaag. Lyfie kan ongelukkig nie saam nie, maar op die positiewe kant kant ek darem bietjie by my broer loop inloer - die man raak nou groot ons begin dalk net om regtig te bond nou. Ek vat egter my gunsteling oom, mentor en stand-in pa saam. Soortvan ‘n manne uitstappie. Sjaaim hy is so opgewonde, ek dink hy pak al! En ek kan gaan avo’s kry teen meer billike pryse. Alles en alles sal die uitstappie nie te ondraaglik wees nie, alhoewel ek dit haat om weg van Lyfie te wees.
Voor ek egter kan ry moet ek gou eers vandag die kar se lisensie gaan hernu. Want soos laasjaar het ek gedink die ding verval eers en Junie, terwyl hy reeds einde Mei verval het. Daar is ongelukkig nie pille vir domgeit nie. Maar gelukkig het ek dit raakgesien voor ek gery het, en nie eers as die bloubaadjie my van die pad aftrek nie.
Dan is daar die klein kwessie van hoe om die ure op te maak wat ek verloor terwyl ons op vakansie is, maar ek sal nog bietjie daaroor moet dink.
Vasbyt honkispan, min dae!
P.S. Dellie, het jy gesien hoe mooi het ek ‘n positiewe draai op alles probeer sit? Ek is nogal heel trots op myself.

Posted by wosonki









