Min dae

June 20, 2008

Oor presies twee weke begin span wosonki se welverdiende (en langverwagte) verlof.  Ons sien nogal vreeslik uit daarna, 17 volle dae van leeglê en saamwees. Met hardekoolvuurtjies, rooiwyn en die reuk van bosveld in jou neusgate. Met die koer van tortelduiwe as die son opkom. Die bosveld roep soos Zulu dromme, daardie narkotiese Afrika ritme, doem da da doem da da doem doem da da doem da da doem doem da da doem da da doem.

Terug in die regte wêreld moet daar egter nog eers so paar dingetjies platgespeel word voor ons gaan. Daar is ‘n vierdag trippie Laeveld toe vir my volgende week om bietjie besigheid op te jaag. Lyfie kan ongelukkig nie saam nie, maar op die positiewe kant kant ek darem bietjie by my broer loop inloer - die man raak nou groot ons begin dalk net om regtig te bond nou. Ek vat egter my gunsteling oom, mentor en stand-in pa saam. Soortvan ‘n manne uitstappie. Sjaaim hy is so opgewonde, ek dink hy pak al! En ek kan gaan avo’s kry teen meer billike pryse. Alles en alles sal die uitstappie nie te ondraaglik wees nie, alhoewel ek dit haat om weg van Lyfie te wees.

Voor ek egter kan ry moet ek gou eers vandag die kar se lisensie gaan hernu. Want soos laasjaar het ek gedink die ding verval eers en Junie, terwyl hy reeds einde Mei verval het. Daar is ongelukkig nie pille vir domgeit nie. Maar gelukkig het ek dit raakgesien voor ek gery het, en nie eers as die bloubaadjie my van die pad aftrek nie.

Dan is daar die klein kwessie van hoe om die ure op te maak wat ek verloor terwyl ons op vakansie is, maar ek sal nog bietjie daaroor moet dink.

Vasbyt honkispan, min dae!

P.S. Dellie, het jy gesien hoe mooi het ek ‘n positiewe draai op alles probeer sit? Ek is nogal heel trots op myself.


Vertel beter stories

April 29, 2008

Die langnaweek saam met my kollegas van die Kaap het toe heelwat anders uitgedraai as beplan, maar op so ‘n manier dat ons nou elkeen ‘n lekker storie of 3 het om te vertel.

Om mee te begin het hulle vlug sowat een-en-’n-halfuur laat geland, daarna was daar moeilikheid met die voertuig wat bespreek was en ons het by ‘n ander firma reggekom na ‘n soektoeg van omtrent ‘n uur. Nadat die uwe vir 10 minute gesoek het na die handrem (major verleentheid) is ons ongeveer 2 uur uit die lughawegebou weg. Die voordeel is dat kollegas toe eerstehands Johannesburg Vrydagmiddag-verkeer kon beleef, en in Roodepoort ry ons in in ‘n stukkie loadshedding vas. Ontdekkersweg sonder krag op ‘n langnaweek Vrydagmiddag is nogals iets om te beleef. Ten minste verstaan hulle nou hoekom vat dit soms 3 ure vir my om by die huis te kom na ek by ‘n klient was.

Na die Ontdekkersweg-gauntlet, neem ek hulle toe van Krugersdorp af via die R511-afrit oor Pelindaba, Kommandonek en Hartebeespoortdam se damwal na ons slaapplek by ‘n oord naby Rustenburg. Pas na ons afgepak het, het ek ook toe sommer my performance appraisal gehad. Ons het besluit om dit agter die rug te kry so gou moontlik, en wat ‘n bestiering was dit nie! Na aandete by die goorste restaurant wat ek nog ooit beleef het, het die vrouens loop lê terwyl ons drie manne ‘n slaapdoppie loop drink het. Nommers twee en drie slaapdoppie het ek op uitgesit en ook maar goed so. Teen twaalfuur het ons ook maar gaan inkruip. Toe verander die naweek heeltemal.

Twee-uur is daar ‘n dringende klop aan ons kamerdeur. Daar is moeilikheid by die huis en die baas en sy vrou moet dringend terugvlieg Kaap toe. Ons spring in die kar met my agter die stokke en laat waai terug Johannesburg toe. Die baas los my toe by die huis, nadat ek vir Lyfie 3 uur in die môre moes wakker bel om die hekke oop te sluit en haar natuurlik die skrik van haar lewe gee in die proses, en hulle twee ry self verder van daar af. Ek vat presies 1 uur slaap en ry met my eie kar terug Rustenburg toe om die kollegas op te laai agtuur vir hulle uitstappie Sun City toe. Die keer met Lyfie stewig ingeburger, hoewel bietjie leepoog, in die passasiersitplek.

Sun City is maar nog steeds dieselfde as laaskeer en bitter duur, maar kollegas se oge het uitgehang soos hulle kyk. Die toertjie Predator World toe was vir ons die hoogtepunt. Daar kan jy leeus, luiperds, cheetah’s, tiere, hyena’s, rooikatte en nog ‘n bondel kleiner spesies van naby beskou, en selfs met die leeuwelpies speel of jou foto saam met ‘n luislang laat neem. Ongelukkig lank na donker eers teruggery van Sun City af na die oord toe waar ons slaap. Ek beveel dit nie aan nie, daai pad is ‘n nagmerrie ten beste in die donker. Met ‘n kloppende hoofpyn omdat jy die vorige nag feitlik niks geslaap het nie is dit die goed waarvan horror flieks gemaak word. Maar ons het die 100km op een of ander manier afgelê.

Sondagmôre opgepak en teruggery na my tuisdorp toe en vir kollegas die nodigste besienswaardighede gewys. Oorgeslaap by die Farm Inn waar die gesteun van die leeus jou dieper onder die beddegoed laat inkruip. Gisteroggend vir Lyfie by die werk afgelaai en toe die kollegas teruggeneem lughawe toe. Die langnaweek sonder Lyfie word toe ‘n 3 dag vakansie met Lyfie. Bargain!

Het ek genoem dat ek die naweek ‘n performance appraisal gehad het? Kom ons laat slapende honde eerder lê. Komende langnaweek gaan ek rus, niksdoen en nogmaals rus. Hierdie toergids- en designated driver-ding is vreeslik uitputtend.

Jaco


Anatomie van die (amper) perfekte naweek

February 18, 2008

Ek wou eers nie, maar liefie het my so aangeprys met my pogings die laaste 4 dae, dat ek besluit het om tog maar daaroor te skryf. In ‘n tyd en plek waar ons bitter min positiefs te sê het sal die memories sekerlik ver gaan.

Die perfekte naweek begin al op ‘n Donderdag. As die spesifieke Donderdag ook toevallig Valentynsdag én jou Huweliksherdenking is, soveel te beter. Dit begin deurdat jy so ‘n ietsie vir vroulief op julle blog skryf, plaas dit betyds sodat dit gereed is as sy by die werk kom. Dit maak nie saak as dit nie ‘n literêre meesterstuk is nie, skryf uit jou diepste innerlike binneste uit, sy sal dit waardeer.

Plaas ‘n klein geskenkie in haar kosblik. Juweliersware werk goed. Ontbyt by die werk sal nooit weer dieselfde wees nie, maar moenie die oorbelle net so in die broodjie druk nie, los dit maar in die boksie waarin jy dit gekoop het. Daag so teen etenstyd by haar werk op en neem haar uit vir ete, onthou om blomme saam te neem!

Julle hoef nie uit te gaan vir aandete nie. Jy kan self vir haar iets lekker kook. Women love men that cook. Ek het 4 krefies in die pot gegooi en dit opgedien met varkribbetjies en 2 bottel vonkelwyn (een perske en een rooi). Die vonkelwyn is baie belangrik, want dit sal enige tekortkominge met jou kook en tafeldek vermoeë verbloem in ‘n waas van alkohol.

Vrydag vat jy vir liefie na ‘n lekker vakansieplekkie toe vir die naweek. As dit ‘n plekkie is waar julle lanklaas of nog glad nie was nie, soveel te beter. As hulle swembaddens nog verhit ook is -bonus! Na julle Saterdagmore opgestaan het, neem jy vir liefie na die naaste Wimpy toe vir ‘n lekker ontbyt, en op pad terug koop jy vir haar daai skildery wat haar oog gevang het. As julle by die huis kom, hang jy die ding sommer vir haar op ook.

En dit is hoe jy die (amper) perfekte naweek bou!

skildery.jpg

Jaco

P.S. As dit nie was vir daai ding wat Vrydag gebeur het nie, en die lelike merk op my bakkie se windskerm as gevolg van die uiters slegte paaie in daai dorp, dan was dit die perfekte naweek. Liefie sal later vertel van daai ding wat Vrydag gebeur het, want dit kan nog enige kant toe gaan.


Terug in die rotresies.

August 21, 2007

Ons is terug! Met swaar harte het ons gister die oog vakansieoord gegroet en die N1 huistoe aangedurf, wetende hoekom ons elke jaar weer terugaan soontoe. Die paar daggies weg was terapie vir die siel, maar hopeloos te kort.

Vrydagmôre vroeg uit op die quads saam met ‘n veldgids, en wat ‘n lekker ervaring was dit nie! Die wild is by die tyd so gewoond aan die brom van die motorfietse, hulle kyk skaars op. Al wat jy van skoonma die persheks kon sien is ‘n stofwolk, ‘n hoed en ‘n stel tande. Ek reken iemand het dit gate uit geniet . . . hehehehe.

Saterdagmôre een van ons mede- bloggers en chatters in die Wimpy op die dorp ontmoet vir ontbyt. RB, baie dankie. Ons het lekker gekuier en hoop om gou weer so te maak. Satermiddag laat om ‘n wildrit gegaan met die bostrok (’n omgeboude unimog lorrie), en nog meer wild gesien as die vorige dag. Bo-op die berg het Willem (ons gids) en sy vrou ons bederf met ‘n koeldrankie terwyl ons kyk hoe die son sak oor die bosveld. Na ons teuggekom het weer die gebruiklike botteltjie of twee roodeberg om die vuur, vleisbraai en kuier.

Hier is foto’s van ‘n paar karakters wat los in die kamp rondloop en die gaste vermaak:

Die outjie lyk verniet so onskuldig. Minute tevore het hy ‘n tros piesangs uit die rondawel gegaps!

aap.jpg

Een van die poumannetjies wys net vir die mak wit tarentale hoe moet ‘n veredos nou eintlik lyk.

pou.jpg

Die meerkatfamilie het elke dag kom inloer vir ietsie te ete.

meerkat.jpg

Saans as jy so teen agtuur se kan opry na die borrelbaddens toe kon jy die duikertjies sien wei op die buitewyke van die rondawels. Hulle is bietjie skaam en wou nie posseer vir ‘n fototjie nie.

Die kameelperd het geduldig gestaan en wag dat ons moet verbyry sodat hy oor die pad kon stap na sy maats die zebra’s toe.

kameelperd.jpg

By die watergat het ons ‘n hele troppie koedoes gekry wat kom suip het. Kyk hoe skaam loer die ooitjie vir ons deur die takke.

koedoe.jpg

Die refleksie van die bome in die watergat soos die son begin sak.

dam.jpg

 Vandag tel ons die koste, Krista het Sondagoggend begin siek word na ons Saterdag tot laat sit en nonsens praat het om die vuur. Die dok het haar afgeboek tot Vrydag met griep. Ek het 3kg gewig opgetel en my liggaamsvet persentasie het met 0.8% gestyg. Eina! Maar as ons die kans kry gaan ons môre weer!

Jaco


. . . gone relaxing . . .

August 16, 2007

geyser.jpg

♪Hi Ho, Hi Ho, it’s off to work we go ♪ . . . NOT!

Die groot dag het uiteindelik aangebreek! Na ‘n frantic gepakkery en feitlik deurnag-gewerkery (die programmeerder het nie die deadline gemaak nie, dus moes Jaco die installasies bou teen die spoed van wit lig), is ons oppad na die warm waters . . . letterlik! Vir ‘n paar daggies se ontspan en kuier en niks doen. It’s been a long time coming . . .

Ons is so hell-bent op vakansie hou, dat niks hierdie vakansie sal spoil nie! Nie die baas, die kliënte, die familie, die bankbestuurder, NIEMAND gaan hierdie vakansie bederf nie. Die enigste nadeel: die wosonki en die budoggie moet by Buti bly . . . hulle kyk ons al klaar met sulke beskuldigende ogies aan . . .

Ons kom eers Maandag terug, so ons gesels dan weer Dinsdag of sodra ons lus is. Lekker naweek.

Krista & Jaco


Neem my saam II . . .

August 2, 2007

happyplace2.jpg

Vol verwagting sit ek toe gister af na my “happy place” toe om my siel te loop vind, met Dellie en Kokkewiet en Koeks en Eben op sleep. Min wetende dat dit nie heeltemal meer dieselfde is nie.

Ek was nog besig om te lees van die beweerde mannewales van een van my gunsteling afrikaanse kunstenaars teen die lamppaal by die verkeerslig, toe kom klop ta met sy ongeregistreerde makarov teen my venster. HIJACK! Jeez as jy my kar wil hê kan jy ten minste die moeite doen om my naam reg te kry. Dit is Jakes, nie Jack nie!
Terwyl ek nog sukkel om uit my veiligheidsgordel kom kom raak die kêrel ongeduldig en trek die sneller. Gelukkig vir my is sy swartmark ammunisie effens oud gewees, en met die aanhoor van die CLICK! van hamer op nie-werkende patroon toe ry ek. Die verblindende pers flits dien as vooraf waarskuwing van die feit dat ek aanstons ‘n briefie van die metropolisie gaan ontvang waarin hulle my vriendelik versoek om ‘n groot hap van my hardverdiende geld aan hulle te skenk. Die brief sal arriveer ongeveer 3 weke na die finale datum vir betaling. Ek wonder of hulle sal glo ek het oor die rooi lig gery om ‘n kaping vry te spring?

In elk geval uiteindelik op die oop pad! Ek ry nog so met die suising van bande in my ore toe daar skielik ‘n helse ruk aan die stuurwiel is. Ek gooi amper die kar om, maar met meer geluk as wysheid en die hulp van ‘n amper vergete gevorderde bestuurskursus hou ek darem die besigheid tussen die drade. Gelukkig niks ernstig nie, net ‘n medium grootte slaggat. As hy groter was het ek dalk meer as net een band en velling verloor! Net gou bagasie uit kattebak te laai om by spaarwiel uit te kom dan die band omruil. . .niks meer as 40 minute nie! Liefie hou wag met die 9mm vir ingeval iemand die gedagte kry om ons weer te probeer roof terwyl ek die band ruil. Ons het mos almal gelees wat met Joost gebeur het . . . en dit in die bleddie Vrystaat!

Toe ek uiteindelik die laaste bultjie oorsteek was die gesig wat my begroet nie heeltemal soos ek dit in my geestesoog gesien het nie. Die grasvlaktes is ingeneem deur die plakkershutte van Zimbawiese vlugtelinge, in die hoofstraat bestook 2 groepe mekaar met klippe terwyl 5 polisiemanne belangstellend toekyk. Die een groep is blykbaar die mense wat die grond suksesvol terug ge-eis van die regering nadat hulle voorvaders dit 100 jaar gelede wettiglik aan wit boere verkoop het. Die huidige wit boer het minder vir die grond gekry as wat sy voorvader 100 jaar gelede daarvoor betaal het. Van die pragtige doringbome is daar net hier en daar ‘n rokie voor ‘n plakkershut oor. Die kalahari leeus het lankal getrek want hier is nie meer bokke nie.

MY HAPPY PLACE IS AFFIRMATIVELY HERVERDEEL!

Maar moenie worry nie, ek het die plekkie hierbo op die foto ontdek. Ek hoor daar is nog niemand nie. Gaan julle saam?

P.S. My insomnia is terug met mening - gisteraand was weer nag 3 sonder slaap. Ek is nie ‘n nice mens as ek nie slaap nie. Ek gaan nou maar vir my ‘n bagpipe CD opsit en begin met my dagtaak, miskien kry ek iets gedoen voor die telefoon 8 uur begin lui en elke kosteberamer in die konstruksiebedryf sy/haar gebrekkige kennis van rekenaars en/of beramings my probleem probeer maak.

Lekker dag maters . . . nog net 2 dan is dit naweek!
Jaco


Neem my saam . . .

August 1, 2007

happy-place.jpg

Hierdie is my “happy place”. Dit is ‘n plek waar selfone, laptops, internet en spertye nie bestaan nie.

Dit is ‘n plek waar jou verwarmer die gloed van die Afrika son teen jou gesig is. Waar die die brul van die kalahari leeu wat die nag aan flarde ruk jou bangmaak, nie die geloei van sirenes en die inbreker langs jou bed of die kaper by jou hek nie.

Ek wil soontoe gaan, die stad druk my vas, die stad verwoes wat oor is van my siel.

Neem my soontoe? Asseblief?

Jaco


Wild horses couldn’t drag me away. . .

June 18, 2007

Nie in my wildste drome sou ek kon dink dat ‘n naweek wat so besig was, terselfde tyd so verkwikkend vir die siel kon wees nie. Die laeveld is een van die mooiste, mooiste plekke op God se aarde, en die geleentheid om dit te deel met iemand wat jy liefhet is ekstra spesiaal.

Ons is terug by die huis, blinkoog en krulstert. . . en vol planne vir die volgende kuier - want daar is nog so baie om te sien en te ervaar! Ek moet net noem, niemand het ons met klippe bestook op die snelweg nie, daar bly nie vreemdes in ons huis nie, en die land het nie vergaan in die tyd wat ons weg was nie. Dit is seker maar uitgestel to volgende naweek . . .

Overgesetsynde en desnieteenstaande, Vrydagmôre kuier-kuier deurgery Kaapsehoop toe waar ons gebly het vir die naweek. Kaapsehoop is ‘n magiese plek so 30 km vanaf Nelspruit, bo-op die berg. Dit is ‘n plek waar jy jouself nog kan hoor dink, en as ek ooit moet ‘n boek skryf - dan is dit waarheen ek sal gaan! Dit is ook die blyplek van die laaste wilde perde in Suid Afrika. . . alhoewel die paar wat ons gesien het redelik gemaklik tussen mense gelyk het, en geredelik poseer het vir ‘n paar foto’s.

village.jpg wild-horse.jpg view.jpg klippe.jpg

Kliek op die Foto’s om dit groter te maak.
Foto 1 - die onderdorp van Kaapsehoop, en ja dit IS al.
Foto 2 - ‘n Paar van die wilde perde
Foto 3 - die uitsig vanaf die uitkykpunt
Foto 4 - die maanlandskap koppies by Kaapsehoop

Later Vrydagmiddag is ons Witrivier toe sodat ek vir Krista kon wys waar ons basis was toe ek in die weermag was daar “many moons ago”. Ek weet nie wat ek verwag het om te kry nie, maar dit wat ek gesien het was nogal ontstellend - ek doen dalk môre ‘n stukkie daaroor. Oppad terug by ‘n winkeltjie langs die pad gestop wat gebreide Nguni bees velle verkoop. Ongelukkig vra hulle toeriste prys, en ons het toe nie een gevat nie. As die buitelanders darem net geweet het hoe hulle verneuk word! Maar dis ook weer ‘n ander possie. Om die skok van my ou basis en die velle te verwerk, gaan drink ons toe maar “high tea” by M&B in die Riverside mall. Red cuppachino en swartwoudkoek - njammies!

Net voor donker terug by ons blyplek en was teen 9 uur in die bed - die vroegste in jare! Saterdagoggend vroeg uit die vere en toe ‘n stewige stappie na die uitkykpunt toe. My kuite is nou nog seer, maar wat ‘n uitsig! Mens kan jou pensioen sien aankom op ‘n helder dag. Sulke vroeg-môre oefening maak mens honger, so ons het toe maar ontbyt gaan nuttig in Barberton - na ‘n nagmerrie 40km grondpad. Hoe moes ons ook nou weet? Die bordjie langs die pad het gewys Barberton regs, toe draai ons regs! Probeer alle dinge sê hulle…hehehe. Dankie tog vir Karcher, anders het ek seker nooit die bakkie skoon gekry nie.

Saterdagaand by vriende van my ma hulle gaan braai. Die mense het my sien opgroei, so ons het baie interresante onthou-jy-nog gesprekke gehad. Ai die nostalgie. Sondagoggend terug huis toe na ‘n pannekoek ontbyt by Koek se Pan in Kaapsehoop.

P.S. Nelspruit het meer verkeerskameras as enige ander dorp wat ek nog gesien het.