It’s a beautiful thing

June 18, 2008

Jaco


. . . my lief . . .

June 17, 2008

 

jou liefde maak my wandel

in eeue se bosreuse se gesels

om in die stilte en die water

my siel te voed

 

jou liefde maak my sweef

in altyd se duine se fluister

om in die warmte en die wind

my gees te streel

 

jou liefde maak my sluimer

in verewig se berge se rots

om in die vasheid en sterkte

my wese te anker

 

sonder jou

is ek leeg

is ek niks

is ek nie

kan ek nie

K


. . . fighting the good fight . . .

June 16, 2008

Almal wat ons ken, weet dat ons nooit baklei nie. NOOIT. OOIT. Ons het wat genoem kan word: . . . “episodes” . . . (almal saam: ooooohhhhhh).

Ons het die stilstuipe beperk tot 3 dae maksimum (as dit dan nou moet!), dan praat ons dinge uit. Daar is nie baklei met vlieënde voorwerpe, skreeuery, vloekery, slanery in ons huis of in ons “episodes” nie. Alles baie civilised. (As ons moes begin goed rondgooi en slaan, het ons dalk nooit opgehou nie) :wink:

Nou is ek nuuskierig: vertel bietjie hoe verloop rusies in jou huis?

Krista

PS: ek sal moet lig loop . . . ek sien juis die maan is weer aan die vol word . . . :grin:


In die ware gees van Comrades

June 15, 2008

Want maak nie saak wat die organiseerders besluit nie, die ware gees en kamaraderie van Comrades sal altyd bly voortleef in die harte van die deelnemers.

Van kleintyd af was hierdie stuk musiek nog altyd vir my sinoniem met die gees van Comrades. Vandag is dit nog steeds een van my gunsteling stukke.

Jaco


The story of us

June 12, 2008

Geensins so romanties soos van die ander troustories wat ons al die week gelees het nie, maar dit is ons storie en sal daarby hou ;)

Dit was ‘n tyd nie so lank gelede nie in ‘n plek nie te ver van hier nie. Die jaar 1991. ‘n Matriek klong sit agter in die Afrikaanse klas, dik verveeld. Hy tel die ure af na huistoegaan-tyd. Rugby-tyd. Wie wil nou skoolgaan as daar rugby is om te speel? Om die tyd om te kry skop-skop hy so teen die meisiemens wat voor hom sit se stoel. Elke nou en dan vervies sy haarself en snou hom iets toe, maar sodra sy haar rug draai begin hy weer. Skop . . . skop . . . skop. Die volgende periode is die onderwyser nie daar nie en die kinders sit in groepies en nonsens gesels. Meisiemens vra ons rugbyheld om mooi stil te sit want sy wil sy oë kyk. Sy reken dit is sulke mooi groenes met geel en bruin vlekkies in. Sy roep selfs ‘n vriendin om haar observasies te bevestig. Ons rugbyheld weet dit nog nie, maar die koeël is alreeds daardie dag deur die kerk.

Rugbyheld was miskien ‘n yster op die veld, maar die dinge van die hart het hom erg verboureer. Die nabyheid van enige lid van die vroulike spesie het hom in ‘n stotterende idioot verander. As R.S.M. van die skool se kadette was dit sy taak om nou en dan die meisies drilpeleton ook bietjie touwys te maak. Dit het nooit gebeur nie, want die nabyheid van soveel estrogeen het hom sy bevele laat vergeet! Dankie tog vir die “matchmaking” insette van ‘n klasmaat wat uiteindelik veroorsaak het dat onse rugbyspeler die meisiemens van die Afrikaanse klas vir ‘n date gevra het na die skool se jaarlikse deurnagsokkie toe. Ten spyte van die feit dat hy van dans niks geweet het nie, en vandag steeds nie 2 voete voor mekaar kan sit op ‘n dansbaan nie. By die tweede date (‘n uitstappie Pretoria skou toe) moes meisiemens maar die leiding neem en ons rugbyheld aan die hand vat. As sy vir hom moes wag het sy nou nog gewag. Het ek al genoem dat ons rugbyheld ‘n totale neandertal was as dit kom by sake van die hart?

So het die laaste dae van hulle sorgvrye skooldae uitgeloop en rugbyheld is vort SAW & Seuns toe om ‘n grensvegter recce te gaan word. Vir ‘n kort rukkie gedurende hierdie tydperk was die verhouding verbreek want ons grensvegter recce het gevoel dat ‘n man van sy statuur ‘n bergklim-en-uitkamp meisie moet hê. Geen bergklim-uitkamp meisie kyk egter tweemaal na ‘n stotterende idioot nie. Gelukkig het onse meisiemens, wat intussen in ‘n ietwat boheemse jong dame ontwikkel het wat haar hare spierwit kleur, lang rompe en John Lennon brilletjies dra en met middagete op die labratorium toonbanke in die son lê en slaap, besluit om haar te vermoei met die ouer-en-wyser recce-grensvegter. Maar die prys van toegang tot haar hart was dat hy die drome van recce word moes laat vaar, synde dat sy nie met ‘n bossies-recce-grensvegter wil opgeskeep sit sodra SAW en seuns sy oorskot uitgespuug het nie..

9 jaar en baie sakke sout later trek ons man, nou ‘n gegradueerde en witboordjie-werker, saam met Liefie in haar huis in. Die laaste van sy ouers onlangs oorlede. Baie saggies en geduldig het sy oor die voorafgaande 9 jaar die kopwurms van sy grensvegter-recce-dae verban tot die verste hoeke van sy brein en van hom ‘n semi-beskaafde mens gemaak. ‘n Verdere 4 jaar later, in Oktober 2004 vra hy haar om haar hand op die strand by Scottburgh aan die Natalse suidkus. Sy stem in met sekere voorwaardes. Hulle besluit om rondom Augustusmaand van die volgende jaar te trou.

Een goeie Maandagaand - 31 Januarie 2005 om presies te wees, is ons twee karakters besig om aandete te pleeg in die kombuis toe sy skielik na hom draai en sê “kom ons trou op valentynsdag, ek wil nie meer wag nie” Hy speel natuurlik saam en sê “ja hoekom nie?” Dit blyk toe dat sy heeltemal ernstig was. Die tweetjies is 2 weke later op 14 Februarie 2005 om elfuur die oggend getroud te AGS kerk in Pretoria Noord deur haar baas wat op daardie tydstip wat ook ‘n NG dominee was. Die seremonie is bygewoon deur slegs ‘n paar vriende en familielede. Na die tyd is ‘n vingerete by die huis bedien en die bruidspaar het die aand al die gaste wat wou bywoon by ‘n eetplek ontmoet vir aandete. Die volgende more het hulle op wittebrood vertrek en vir 2 weke weggebly.

P.S. Daar is ‘n rumour dat die paartjie in 2011 die hele trou-besigheid gaan oordoen met onthaal en alles, waarna hulle per trein na die mooiste plek in die wêreld gaan reis om hulle tweede wittebrood te vier. ‘n Segspersoon vir die paartjie het gesê dat hierdie rumour op die stadium nie deur die paartjie ontken of bevestig kan word nie.


Boots en Rofty

June 11, 2008

So lank as ek kan onthou het ons altyd diere gehad, meestal honde en so nou en dan ‘n kat, so dit is nie asof ek nie met diere grootgeword het nie. Alhoewel ons baie lief was vir hulle, het my ouers ‘n baie “tradisionele” siening gehandhaaf oor presies wat die hond se posisie in die familiestruktuur was. Hulle was lekker speelmaats na skool, maar hulle uitsluitlike doel was om die huis op te pas. Met spesiale geleenthede is hulle toegelaat om in die sitkamer op die vloer te kom lê, maar teen slaaptyd moes hulle uit want ‘n hond se plek is buite.

Elke storie moet ‘n begin hê, en ek reken in my geval is ‘n goeie begin die dag toe ek die maltrap girl waarmee ek vandag getroud is, se huis gaan oppas het.

Nou in Krista hulle se huis het dit anders gewerk, veral nadat haar Pa weg is. Honde by hulle was kinders, en is behandel soos kinders. Een goeie Junie-maand presies tien jaar gelede is die familie vir hul gebruiklike vakansie Natalse Suidkus toe. Ek kon nie saam nie as gevolg van werksverpligtinge, so ek het in Krista hulle se huis kom bly vir die tydperk.

Boots en Rofty was die laaste oorblywende boerboel puppy’s van ‘n werpsel van een van hulle ander honde, en hulle was albei net besig om te herstel van katgriep. Nou vir die wat weet, honde wat herstel van katgriep ervaar die allervreeslikste maagwerkings. En maagwerkings in ‘n boerboel, al is dit nog babatjies, is nie ‘n mooi gesig nie.

Diegene wat my goed ken sal ook weet dat ek nie baie bedrewe is met die optel van hondemis nie, was nog nooit en sal seker nooit wees nie. Die proses behels gewoonlik my hemp wat styf om my mond en neus gebind is terwyl ek met die graaf kromrug oor die grasperk loop en ek die allervreeslikste geluide maak. Natuurlik het al die buurmanne ook altyd soos vrot velle oor die mure gehang en hulleself vrek gelag vir die vertoning wat ek opsit.

Maar terug by Boots en Rofty. Twee siek boerboele, ‘n baas wat nie daarin glo dat siek honde buite bly nie, volvloermatte en ‘n babysitter wat effe allergies vir die reuk en aangesig van slap hondepoef is. RAMP met ‘n hoofletter K. Dit was die langste 10 dae van my lewe. Uit desperaatheid het ek naderhand die hele huis toegepak met koerante om die skoonmaakproses te vergemaklik. Na elke aand se optellery was ek skoon uitasem en my maagspiere seer van die geruk. As ek dan die twee gaan soek om hulle te vermorsel sit hulle styf sy-aan-sy voor die verwarmer met sulke verleë gesiggies. My hartjie word dan weer sag tot die volgende aand wanneer die proses van voor af herhaal word.

Beide Boots en Rofty het heeltemal herstel en is na goeie huise toe (Krista het nie haar hondjies sommer aan enige iemand verkoop nie). Die twee outjies het ‘n ver pad gegaan om my siening van troeteldiere te verander. Ek wonder of hulle nog leef en hoe dit met hulle gaan?

Jaco


. . . ander mamma en pappa . . .

June 10, 2008

Albert Gouws (6), een van ons drie peetkinders, moes in opdrag van die juffrou ‘n prentjie van sy gesin teken. Hy teken toe vir mamma en pappa en Zander en Nicholas (sy twee boeties) en twee ander mense ook. Toe die juffrou hom vra wie daardie mense is, kom die antwoord: “dis my ander mamma en pappa, oom Jaco en tannie Krista”.

Dankie dat jy ons insluit in jou bestaan en jou menswees, Albert. Ons is net so lief vir jou.

Oom Jaco en tannie Krista


Anoniem dog bekend

June 9, 2008

Nou ja, vandag was seker een van die meer interresante dae in my kort lewetjie. Ek sit nou hier vir myself en giggel want dit is tog snaaks hoe die mens se brein werk. Ek was te verleë om met my dokter (wat ek al jare ken) te gaan praat oor my “probleempie” maar het geen probleem gehad om dit hier voor ‘n spul bykans vreemdelinge uit te blaker nie. Die wonder van internet, waar jy anoniem dog bekend kan wees.

My afspraak om die inspuiting te kry was 09:45, maar ek moes vir Lyfie vra om te herskeduleer want om 09:45 was die baas nog besig om vir my ‘n preek af te steek oor glo dit nou as jy wil, hulle voel ek kyk nie goed genoeg na my gesondheid nie! Voor dit is ek behoorlik die kop gewas . . . nee wag kom ons los dit net daar. Ek het genoeg baklei vir een dag. Om 15:45 vanmiddag het ek die eerste van 4 inspuitings oor ‘n twaalf maande periode gekry. Watch this space vir die smile op Lyfie se gesig . . . en op myne.

Eerste saak op die agenda is om terug in die gym te kom. Al my werk tot dusver is ongedaan en sal basies weer voor moet begin waar ek laasjaar ongeveer dieselfde tyd was. Maar die keer mag dit dalk net werk. Daarmee hoop ek om dus nou hierdie hoofstuk af te sluit. Hou maar die Vitalstatistix bladsy dop vir vordering (indien enige)

Ek het gisteraand absoluut niks geslaap nie. Om die waarheid te sê, na twee uur vanoggend loop ek my in Boendoe vas waar sy ook soos ‘n slaapwandelaar deur die blogosfeer dwaal. Ek is op-moeg, so ek gaan nou probeer slaap. Die res van die week is nag werksgewys, maar die langnaweek is oppad!

Ciao
Jaco


‘n Nuwe begin?

June 8, 2008

Laasweek Vrydag het ek in ‘n stuiptrekking van depressie te vertelle gehad dat daar slegs twee dinge is waarvolgens ek myself as man evalueer, en dat ek misrabel gefaal het in altwee. ‘n Oomblik van selfbejammering of ‘n raar oomblik van absolute eerlikheid? Ek weet self nie.

Wat ek wel weet is dat die manlike ego ‘n baie brose ding is en maklik kneus. Geen hoeveelheid bauerpan-terapie gaan dit ooit verander nie. Dit gesê is daar min dinge wat ‘n man se ego so kan kneus soos plumbing probleme, en nou praat ek nie van jou badkamer nie! Maar laat ek by die begin, begin.

Laasweek Woensdag was hierdie berig in die koerant. Normaalweg steur ek myself nie aan berigte en artikels in tydskrifte en koerante nie, maar hierdie een was soos om ‘n biografie (biopsie is dalk ‘n beter woord hier) van my lewe te lees. Krista moes toevallig Donderdag die dokter gaan sien vir haar grieperigheid, en ek het haar oortuig om vir ons rug-aan-rug afsprake te maak. Gewapen met moed wat ek nie weet waarvandaan nie, het ek die dok in die oge gekyk en my hele sad verhaal uitgelê, waarna monsters geneem is van elke liggaamsholte. Waar nie holtes was nie het hulle my vol gate gesteek en monsters gevat. Saterdagmore is ek laat weet om aan te meld by die spreekkamers om die uitslae te bespreek.

Netto resultaat: die toetse wys my testosteroonvlakke is bykans nul en dit moet deur middel van inspuitings aangevul word. Elke 3 maande, moontlik lewenslank. Ek bedank die dokter ek stap uit tussen die stukke van my ego deur, apteek toe. Die ou inspuitingtjie kos ‘n koel R1280.00 en word nie deur die mediesefonds betaal nie, dankie tog vir plêstiek. Niks powertools vir jou die maand nie boetie!

Ek is deels opgewonde, deels bang. Opgewonde omdat ek uiteindelik:

  1. My gewig onder beheer behoort te bring.
  2. Vir die eerste keer in jare weer behoorlik behoort te kan slaap.
  3. Minder swart en depressiewe buie behoort te ervaar.
  4. Meer energie en lewenslus behoort te hê
  5. . . . en laastens. Wel moet ek dit hardop sê?

Maar ek is ook bang want:

  1. Sê nou dit werk nie. Waarheen gaan ons van hier af?
  2. Sê nou dit werk te goed en die verhoogde testosteroon verander my in een of ander neandertal?
  3. Die behandeling het ‘n paar potensieël lelike nagevolge

Vir nou verkies ek om te fokus op eersgenoemde. ‘n Nuwe begin en ‘n lewe gebore uit die as van die huidige een wink. En o ja, my ego is steeds broos. So if you point and laugh, I will have to kill you. Sover dit Krista aangaan, dank Vader vir ‘n vrou wat verstaan. Ek lief daai vrou soveel dat dit voel of my borskas wil skeur.

Jaco


‘n Song vir Suid Afrika

June 7, 2008

Actually dis ‘n song vir my. Want ek hou daarvan. Want in die 80’s was ek nog jonk en unbreakable, vandag is ek nog nie eers middeljarig nie en ek is unfixable.

Let the river run

We’re coming to the edge,
Running on the water,
Coming through the fog,
Your sons and daughters.

Let the river run,
Let all the dreamers
Wake the nation.
Come, the New Jerusalem.

Silver cities rise,
The morning lights
The streets that meet them,
And sirens call them on
With a song.

It’s asking for the taking.
Trembling, shaking.
Oh, my heart is aching.

We’re coming to the edge,
Running on the water,
Coming through the fog,
Your sons and daughters.

We the great and small
Stand on a star
And blaze a trail of desire
Through the dark’ning dawn.

It’s asking for the taking.
Come run with me now,
The sky is the color of blue
You’ve never even seen
In the eyes of your lover.

Oh, my heart is aching.
We’re coming to the edge,
Running on the water,
Coming through the fog,
Your sons and daughters.

It’s asking for the taking.
Trembling, shaking.
Oh, my heart is aching.

We’re coming to the edge,
Running on the water,
Coming through the fog,
Your sons and daughters.

Let the river run,
Let all the dreamers
Wake the nation.
Come, the New Jerusalem.

Jaco